Die onskuldige Meneer Zuma

POLEMIEK

Die onskuldige Meneer Zuma

Is die ANC-leierskap korrup of onbevoeg – of albei? HASSAN ESSOP praat oor ʼn paar logiese dinge wat nie so logies is nie.


EKONOME is alombekend vir hul voorliefde vir aannames. Kom ek begin met een: Kom ons veronderstel oudpres. Jacob Zuma is, soos hy self gereeld verklaar, onskuldig aan alle aantygings teen hom van korrupsie en staatskaping.
Hierdie aanname strook natuurlik met die amptelike storie wat die ANC en pres. Cyril Ramaphosa aan ons vertel. Nxamalala moet, volgens Ramaphosa, bedank word vir sy bydraes en die ANC gebruik Zuma ruim in hul verkiesingsveldtog. Hou in gedagte dat die ANC amptelik gekant is teen korrupsie, en die gevolgtrekking is noodwendig dat die ANC in Zuma se onskuld glo.
Maar wat is die implikasie van so ʼn aanname? Kom ons beskou eerstens die vrugte van Zuma se jare as president. Eerstens is dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse ekonomie erg deur die Zuma-era geknou is.
Volgens Stellenbosch Universiteit se Buro vir Ekonomiese Navorsing kon Suid-Afrika se ekonomie tussen 2010 en 2017 tussen 15% en 30% groter gewees het indien dit op dieselfde vlakke as die wêreldekonomie en as Suid-Afrika voor Zuma gegroei het. In die praktyk beteken dit die bruto nasionale produk sou tussen R500 biljoen en R1 triljoen groter gewees het, of daar sou tussen 500,000 en 1 miljoen ekstra werkgeleenthede geskep gewees het. Met ander woorde, die werkloosheidskoers kon vandag dalk onder 20% gewees het, pleks van 27%.
Boonop is baie staatsondernemings óf bankrot óf word so swak bestuur dat dit nie basiese funksies kan verrig nie. Dink maar aan die SABC, Prasa, die SAA en natuurlik Eskom, wie se totale skuld reeds meer as R400 biljoen is terwyl die geldstofsuiers Medupi en Kusile nog lustig suig – en steeds bly die ligte nie aan nie.
Die meeste staatsdepartemente vaar nie veel beter nie en korrupsie en swak finansiële bestuur word kort-kort uitgewys. Selfs voorheen uitmuntende instellings soos die nasionale inkomstediens (SAID) het vinnig agteruitgegaan onder die leiding van Tom Moyane, ʼn Zuma-vertroueling. Die SAID se onbeholpenheid het ernstige implikasies vir die staatskas.
Die swak toestand van die openbare sektor het dan ook ʼn direkte uitwerking op die lewe van Suid-Afrikaners. Die Life Esidimeni-tragedie, waar meer as 140 mense hul lewe verloor het, kon deur doodgewone goeie bestuur heeltemal voorkom geword het. En tog het ons tydens die Zuma-era so te sê geen getuienis gesien van vervolgings of pogings om amptenare en politici aanspreeklik te hou nie.
As president het Zuma gewys dat hy graag aan die topbestuur van die land verander, met ministers wat gereeld van portefeuljes verskuif en ministers van finansies wat lukraak afgedank en aangestel is. Van Zuma se getrouste ministers, soos Malusi Gigaba, Nomvula Mokonyane en Bathabile Dlamini, het hul departemente in finansiële verknorsings geplaas sonder om enige waarde daarvoor te toon en kon nie behoorlike antwoorde gee toe hulle voor ondersoeke gedaag is nie.
Probleme wat in die Mbeki-era uitgewys is, soos swak finansiële bestuur by plaaslike owerhede, het só vererger dat ʼn mens tot die gevolgtrekking kan kom dat die probleme tydens die Zuma-presidentskap geïgnoreer is.
In kort, Zuma se presidentskap was ʼn ongekende ramp van proporsies wat hierdie kort artikel nie kan beskryf nie. Maar onthou, Zuma is, volgens ons aanname en die ANC, onskuldig. Daar is dus net een logiese gevolgtrekking. ʼn Onskuldige Zuma was en is onbevoeg as leier.
Indien hy onskuldig is aan enige klagte van korrupsie, is Zuma nie die groot skaakspeler wat drie skuiwe voor almal is nie. Indien hy wel die groot skaakspeler is, waarom al die reuse-probleme wat tydens sy presidentskap óf ontwikkel het óf vererger het? Die ANC en LP’s wat keer op keer gestem het om ʼn onskuldige Zuma as president te behou, het keer op keer vir onbevoegtheid gestem. LP’s wat hul sout werd was, sou nie kon redeneer dat hulle nie van bogenoemde probleme bewus was nie.
Die verdere implikasie van die aanvanklike aanname van onskuld is nie net dat Zuma as president onbevoeg was nie, maar ook dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee, die kabinet en die parlement se leierskap sterk bevraagteken moet word. Waarom sou al hierdie groepe ʼn onskuldige Zuma so sterk ondersteun as dit beteken dat Suid-Afrika se ekonomie, werkloosheid, finansies en lewenstandaarde so negatief geraak word?
Ten laaste skep hierdie aanname – wat, noem ons weer eens, deur die ANC ondersteun word – probleme vir die huidige president. Ramaphosa glo dat die Zuma-era ʼn onvervulde en “vermorste” tydperk was. Wat Ramaphosa se presiese motivering vir hierdie stelling was, is nie belangrik vir ons argument nie. Hoewel Ramaphosa se openbare houding teenoor Meneer Zuma sag en onkrities is, is hy ook duidelik daaroor dat die Zuma-termyn die land groot skade berokken het. Die rekenkunde klop ongelukkig nie. Ramaphosa was self ʼn voorste lid van die leierskorps wat ʼn onskuldige maar onbevoegde pres. Zuma ondersteun het, en Ramaphosa het selfs van die swakste ministers heraangestel. Al is hierdie individue nie korrup nie, is dit moeilik om te glo dat hulle, ná so ʼn swak vertoning onder die Zuma presidentskap, onder pres. Ramaphosa enigsins beter sou vaar.
Korrupsie is ʼn groot probleem, maar die aanstelling van leiers met swak rekords wat duidelik nie self swak en onbevoegde leiers kan identifiseer nie, is ʼn selfs groter probleem. Sonder goeie leiers kan korrupsie nie uitgeroei word nie.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos [email protected] of skakel 0860 52 52 00.

X