Die lied van jong Suid-Afrika

Lipstick aan die vark

Die lied van jong Suid-Afrika

Dinge lyk nie goed vir die land nie. Sal die hoopvalles die gatvolles kan oortuig, vra MERCY KANNEMEYER, 'n millenniër op 'n ontdekkingsreis. Sy is gebore in dieselfde jaar waarin die ou Vrye Weekblad gesneuwel het.



LIEWE leser, vergun my die geleentheid om myself (amper nes Breyten) voor te stel. Ek is Mercy Kannemeyer, ek is tans besig met my meestersgraad in drama aan die Universiteit Stellenbosch en ek is amper 25 jaar oud. Dis die ouderdom wat my en my portuurgroep deel van die sogenaamde nuwe generasie maak. Die opkomendes. Die millenniërs. Sommige: die hoopvolles; die res: die gatvolles.
Baie mense verwag van ons generasie om nou al teen dié tyd dinge uit te gewerk het. En daar is mense wie se lewe al op ’n plek is waar hulle presies weet wat hulle wil doen. Kudos vir hulle. En dan is daar ook diegene wat nog op ’n ontdekkingstog is, en daarvoor moet die lewe ook ruimte laat.
Ek hou daarvan om te dink dat ons land ook nog op ’n ontdekkingsreis is. Wanneer ek dink aan die derduisende dinge wat ek nog in hierdie lewe wil vermag, en dié gedagte koppel aan ons land wat maar so jonk soos ek is, kan ’n mens mos nie anders as om stil te staan en te vra waarheen ons op pad is nie.
Nou ja, waarheen ís ons land op pad? Hoe lyk die toekoms? Doen die mense aan die stuur en ons gewone ouens genoeg om ’n standvastige toekoms te skep? Wat is ’n standvastige toekoms? Ek het nie antwoorde nie.
Ek wonder ook of ons genoeg met mekaar praat. Of het ons so ongeduldig geraak dat ons mekaar nie die ruimte gun om vrae en onsekerhede (en hopelik oplossings!) met mekaar te kan deel nie? Dit lyk of ons al hoe onverdraagsamer raak. Is ons onverdraagsaamheid geregverdig? Mense is moeg vir sukkel, en die musiekgroep Tribal Echo vat dit vas: “Die lewe is hard, en ons is maar sag …”
Ek wil nou nie lipstick aan die vark smeer nie, want dinge lyk nie goed vir ons land op die oomblik nie. Die regses gaan al hoe meer regs. Ek het nie gedink ’n mens kan meer regs nie, toe sien ek iemand verf wit kruisies op hul gesig uit solidariteit met wit mense wat op plase vermoor word. Moenie my verkeerd verstaan nie, plaasmoorde is afgryslik. Punt. My vraag is net: ‘Hoekom maak ons die een moord groter as die ander? Dink liefs twee keer voor jy van ’n witvolksmoord praat.
Hiermee hou ek nou nie die liberale linkses as die engele voor nie. Ek dink die linkses moet hulle soms minder steur aan die geraas van die regses en meer konstruktief met hul kwellinge omgaan sodat daar by oplossings uitgekom kan word. Kom ons neem ’n eenvoudige voorbeeld: Een van die liberale mense se gunsteling-tydverdrywe is om oor AfriForum of Solidariteit te kla. (Verskoon my dat ek mense nou so veroordeel! Sien dit as ’n blote waarneming.) Hoe konstruktief is die gekwetter oor AfriForum? Lei dit tot oplossings of gooi die aandag net meer olie op die vuur? Indien dit tot oplossings lei, gaan voort. Maar as dit tot ’n cul de sac lei waar AfriForum en hul trawante net meer aandag kry, is ons kniediep in die moeilikheid.
Wat staan ons te doen? As jong mense, as wit mense, as bruin mense, as swart mense, as almal wat onder die Grondwet van die demokratiese Suid-Afrika leef en wil leef? Uit die staanspoor moet ons meer met mekaar praat. Party mense is al moeg gepraat en wil al begin dóén. Ons kan egter nog nie ten volle dóén as ons nog uitgepraat is nie.
Tussen ons eie mense moet daar ook nog meer gesprek plaasvind. Wit mense moet meer saam met wit mense praat. En nee, ek wil nie terugbeweeg in boksies nie. Geïsoleerde gesprekke kan gevaarlik raak, maar ek sê dit as ’n jong bruin vrou in Suid-Afrika wat gereeld in gemengde gesprekke sit. Dikwels word ’n mens gekonfronteer met white guilt, wat myns insiens hoogs onkonstruktief is. Skuldgevoelens gaan nie die verlede verander nie. Wat presies is dit wat wit mense deur wit skuld probeer regkry? As jy wil wys jy is jammer oor die verlede, wees beter. Moenie in dieselfde slaggate val nie. En ja, ek besef “ons is nie almal so nie”. Maar daar is genoeg mense wat wel “so” is, sodat gesprekke hierrondom steeds plaasvind.
Sonder om nou te kumbaya te klink, weet ek daar is genoeg mense wat Suid-Afrika graag wil laat werk.
Die opkomende verkiesing gaan ’n goeie aanduiding wees van hoe ons land vir minstens die volgende paar jaar gaan lyk. Politici is hard aan die werk om stemme te werf. Dié verkiesing is van kardinale belang, want uiteindelik is ons uit oudpresident Jacob Zuma se korrupte kloue gered, en kan ons uitsien na ’n beter Suid-Afrika. (Ramaphorie?! Meer hieroor later.) Vir sommige burgers is dié ’n naïewe gedagte, want Zuma kon tog nie die enigste een wees wat ons land so versuur het nie. Maak een vrot aartappel werklik die hele sak vrot? Of is die regerende party lankal vol vrot aartappels?
Baie mense was in ekstase toe aangekondig is dat Cyril Ramaphosa die leisels oorneem. Ramaphorie! Hy het amper soos Suid-Afrika se Barack Obama gelyk. Ramaphosa het op die Seepuntse promenade gaan stap, daai een keer ’n openbare vliegtuig gebruik en dan praat hy boonop nog Afrikaans ook. Dis ’n grap – dink daaroor.
Ramaphorie het egter vinnig verbygewaai nou dat ons gereeld letterlik in die donker sit. Beurtkrag het my hoeka te beurt geval toe ek hierdie rubriek moes skryf. Nietemin, sien ek uit na wat Ramaphosa gaan doen om Ramaphorie weer aan te steek, want hy is ’n slim man. Hy kan tog sien dat die huidige stand van sake (onder meer korrupsie – onthou julle nog vir Agrizzi? – beurtkrag, werkloosheid), sy party in ’n negatiewe lig stel.
Waar laat dit ons nou, liewe leser? Soos jy kan agterkom, het ek op byna 25-jarige ouderdom nog baie vrae. Ek en my vriende is op ons ontdekkingsreis – kom ons gun die land ook nog ruimte om op haar reis te gaan. En wie weet … dalk, net dalk, word ons almal aangenaam verras.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.