Só versmoor ons klein ondernemings in hierdie land

MEER WERKLOOSHEID AS WERK

Só versmoor ons klein ondernemings in hierdie land

’n Klein onderneming wat aan plaaslike mense werk verskaf en aansienlik meer as die minimum loon betaal het, is gedwing om al sy personeel uit diens te stel weens die knellende voorwaardes wat deur ’n sektorale bedingingsraad opgelê is. En dis maar een van vele sulke hartseerstories, skryf CLAIRE BISSEKER.

Stuart Douglas aan die werskaf in sy werkswinkel.
Stuart Douglas aan die werskaf in sy werkswinkel.
Image: VERSKAF

DIE ambagsman Stuart Douglas bedryf al die afgelope 15 jaar ’n eksklusiewe houtmeubelbesigheid vanuit sy plaasateljee hoog op in die Franschhoek-vallei.

Sy klein onderneming, Douglas Built, het drie jaar lank nie ’n wins getoon nie, maar die omgewing was rustig en kollegiaal, en het Douglas in staat gestel om sy passie vir houtwerk uit te leef. Hy het ook aan agt werkers van die plaaslike township Groendal werk verskaf en hulle baie meer as die minimum loon betaal. Of dit was die geval tot einde verlede jaar, toe die Wes-Kaapse Meubelbedingingsraad in die prentjie verskyn het.

Wat gevolg het, was ’n 10 weke lange “nagmerrie” van burokratiese ingrypings wat die vertroue wat hy oor jare met sy werkers opgebou het, geruïneer het. Dit het boonop aan die einde van ’n finansieel moeilike jaar gebeur, met die finale slag toe Douglas almal net voor Kersfees uit diens moes stel.

Nou werk hy alleen en maak staat op uitkontraktering en subkontraktering vir groter projekte. Drie van sy voormalige werkers sit by die huis en leef van hul werkloosheidsversekering. Hy het twee van die ander gehelp om hul eie stofferingsonderneming te begin, en sy vaardigste ambagsman het ’n nuwe werk by ’n mededinger in die Paarl gekry.

Rooi ligte

Dis ’n verhaal wat die gevaarligte laat flikker in ’n ekonomie wat meer werkloosheid as werk skep. Volgens Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse opname oor die land se arbeidsmag het Suid-Afrika in 2019 altesaam 108,000 werkgeleenthede tot niet gemaak.

Douglas is dalk net vir ’n handjievol hiervan verantwoordelik, maar sy storie word herhaal in elke bedryf waar daar ’n bedingingsraad is, sê die arbeidsprokureur en DA-arbeidswoordvoerder Michael Bagraim.

“Ek sien minstens vyf tot 10 van hierdie sake per week,” sê hy. “Die stelsel is belaglik. Ons probeer klein ondernemings versmoor terwyl ons hulle eintlik baie nodig het. Die bedingingsrade spoor hulle aan om te verdwyn.”

In Suid-Afrika bring bedingingsrade verteenwoordigende vakbonde en werkgewerorganisasies byeen om ooreenkomste oor lone en voordele te bereik wat gewoonlik op almal in ’n sektor van toepassing is, selfs dié wat nie deel van die ooreenkoms is nie. 

‘Die stelsel is belaglik. Ons probeer klein ondernemings versmoor terwyl ons hulle eintlik baie nodig het.’ 
Michael Bagraim 

Werkgewerorganisasies word as “verteenwoordigend genoeg” beskou as hul werkmagte saam meer as die helfte van werkers in ’n sektor verteenwoordig. ’n Paar groot ondernemings is dus geneig om hierdie rade te oorheers, selfs al word hulle deur die hoeveelheid klein firmas oorskadu.

Ooreenkomste wat in bedingingsrade tussen groot ondernemings en groot vakbonde aangegaan word, word dan na klein ondernemings in dieselfde sektor uitgebrei. Ekonome en kleinsakeorganisasies vra die regering al jare om hierdie praktyk te beëindig, want die kleiner ondernemings kan dit bloot nie bekostig nie.

Finansiesminister se plan

Tito Mboweni, die minister van finansies, het verlede Augustus op hierdie pleidooi gereageer. Sy groeidokument, “Towards an Economic Strategy for SA”, het gewaarsku dat “rigiditeit in arbeidsmarkinstellings en regulasies koste vir klein, mediumgroot en mikro-ondernemings (KMMO’s) verhoog” en dat dit “hul volhoubaarheid kan beperk en tot toenemende werkloosheid onder die jeug bydra”.

Die dokument beveel sterk aan dat KMMO’s ten volle of gedeeltelik van verskeie regulasies kwytgeskeld moet word, insluitend die afdwinging van gesamentlike bedingingsooreenkomste. Dit het die regering ook dringend versoek om die voorgestelde wetsontwerp op die bepaling van die impak van burokratiese rompslomp (Red Tape Impact Assessment Bill) te laat herleef, waarvolgens alle nuwe en bestaande wetgewing hersien moet word met die doel om rompslomp binne die volgende vyf jaar met 25% te verminder.

Volgens die Kleinsakeprojek (KSP) bestee KMMO’s 4% van hul jaarlikse omset aan burokratiese rompslomp, en die kleinste ondernemings word die ergste geraak.

Die arbeidsbeweging het egter met woedende krete op Mboweni se dokument gereageer, en die betwiste arbeidsmarkhervormings is tot in die beleidsbegraafplaas van die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) geskop.

Mboweni het onlangs op Twitter gekla dat Suid-Afrika nie bewysgegronde beleide skep of na tegniese kenners luister nie. Suid-Afrika het trouens so verouderd geraak dat dit steeds een van die enigste lande is wat nog gesamentlike bedingingsooreenkomste op ’n sektorale vlak beklink en uitvoer.

SA bly agter

Bedingingsrade is ’n uitvloeisel van die multiwerkgewer-bedingingstelsel wat in die vroeë jare van die 20ste eeu algemeen in Europa en die Verenigde Koninkryk voorgekom het. Die konsep het vroeë arbeidswetgewing in verskeie Statebondslande, ook Suid-Afrika, beïnvloed.

Sedert die 1970’s het ontwikkelde lande egter stelselmatig die vordering deur georganiseerde arbeidsinstellings begin beperk in reaksie op globalisering en mededinging van nywerheidsgerigte ekonomieë.

Die inherente rigiditeit van bedingingsrade se een-nommer-pas-almal-model was een aspek wat in hierdie proses in die slag gebly het. Die gevolg was ’n verskuiwing na individuele werkplekbedinging, waar die kompromis tussen hoër lone/voordele en werksekerheid meer voor die hand liggend is – behalwe in Suid-Afrika, waar sektorbedinging deur die Wet op Arbeidsverhoudinge aangemoedig word.

Jeremy R. Magruder, ’n ekonoom aan die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, het in 2010 aangedui dat Suid-Afrikaanse indiensneming met 8% tot 13% per bedryf gedaal het weens die ooreenkomste van bedingingsrade, en dat die werkverliese veral in klein ondernemings was. Hierdie bevindinge is deur die ekonoom Wayde Flowerday in sy doktorale tesis bevestig wat binnekort deur die Universiteit Stellenbosch gepubliseer word.

Deur bedingingsrade se data oor Suid-Afrika se klere-, metaal-, ingenieurs- en tekstielbedrywe met nasionale indiensnemings- en verdienstedata te vergelyk, kon Flowerday bepaal dat die bekendstelling van nuwe bedingingsraadooreenkomste met ’n gemiddelde werkverlies van sowat 8% in hierdie sektore verbind kan word.

“Ons het in Suid-Afrika gesien dat hierdie ooreenkomste hul doelwitte kan bereik om ’n hoër loon aan werkers te besorg, maar met elke nuwe ooreenkoms wat uitgereik word, blyk werkverlies eenvoudig toe te neem,” sê hy.

Frustrasie met administrasie

In Douglas se geval het sy probleme nie lone behels nie, maar die omvang van voordele en die las van administratiewe nakoming wat deur verpligte lidmaatskap van die raad opgelê is.

Ongelukkig was Douglas se hoë loonstruktuur ’n nadeel – die onderskeie heffings en aftrekkings wat die raad vereis, insluitende 12% vir ’n voorsorgfonds en tot 15% vir ’n vakansie- en bonusfonds, word as ’n persentasie van die betaalstaat bereken. Hoe groter die betaalstaat, hoe groter die bedrag wat die werkgewer moet opdok.

Om aan raadsvereistes te voldoen sou nog R17,000 by sy totale maandelikse arbeidskoste van sowat R83,000 gevoeg het – ’n styging gelyk aan die salarisse van drie personeellede.

’n Persoonlike, hegte werkomgewing wat op openheid en vertroue gegrond was, het gou in een van agterdog en wrewel ontaard. 

Teoreties behoort die werkers 6% van die voorsorgfondsbydrae self uit hul salaris te betaal, maar Douglas se werkers het geweier. Nie net was hulle kontantarm en nie gewoond aan spaar nie, maar hulle het ook nie vertrou dat die raad se voorsorgfonds solvent sou bly nie. (Geen private fonds wou so ’n klein werkmag inneem nie.)

’n Persoonlike, hegte werkomgewing wat op openheid en vertroue gegrond was, het gou in een van agterdog en wrewel ontaard.

“Dieselfde vervreemding wat die raad meegebring het, het ook voorheen kop uitgesteek toe ons vyf jaar gelede drie mense uit diens moes stel,” sê Douglas. “Vir ’n kunstenaar is dit net nie ’n opsie nie.”

Nie net sou lidmaatskap van die raad enorme finansiële koste vir die besigheid beteken nie – vir byna geen waargenome voordeel nie – maar die administratiewe las sou net so drukkend wees.

Slapelose nagte

Die laaste strooi vir Douglas was die raad se onvermoë om die vakansie- en bonusfondsaftrekkings behoorlik te verduidelik. Dit was op bywoning eerder as prestasie gegrond en het volgens hom nie veel van 13de en 14de tjeks verskil nie.

“Dis toe dinge regtig ontspoor het,” sê Douglas, wat ’n doktorsgraad in antropologie het. “Dis ’n gemors van bywoningskedules en ’n beloning vir 40 werkure per week, en ’n opoffering of straf as dié ure nie gewerk word nie.”

Die raad het voorgestel dat hy R15,000 aan ’n outomatiese intekenstelsel moet bestee sodat elke werker se ure gemonitor kan word. Maar selfs dan, het hy besef, sou hy ’n administratiewe assistent moes aanstel om die weeklikse vorms in te vul wat deur die raad vereis word, insluitende ’n presies aangetekende lys van wanneer elke werker opgedaag en later weer vertrek het, en hoe lank elkeen se etenstye was.

Dit het glad nie gestrook met die werklikhede en etos van hoe hy sy besigheid bestuur het nie. Dit was vir sy werkers normaal om 10 minute of meer laat te wees vir werk, en om vroeg huis toe te gaan omdat hulle hul voertuie as taxi’s gebruik het om ander werkers werk toe en terug te vervoer. Dit het hul inkomste aangevul.


Kry ons app vir Android- of Apple-toestelle; lees ons e-pos-nuusbriewe; of volg ons op Facebook en Twitter.

Ná een te veel slapelose nagte het Douglas besluit die enigste rasionele opsie was om sy werkmag uit diens te stel. Eers toe die raad van sy besluit hoor, het hulle vir hom gesê dit was moontlik om vir kwytskelding aansoek te doen. Hy wou nie die foltering uitstel nie en het toe hierteen besluit.

Bagraim is ook teen hierdie opsie gekant. Hy sê KMMO’s, veral in townships, kan nie die papierwerk vir aansoek om kwytskelding sonder ’n rekenmeester se hulp doen nie. En selfs dan word kwytskelding moeilik toegestaan, of selfs net gedeeltelik, wat eenvoudig die pyn verleng.

“Ek sê vir kliënte om kreatief te raak en slim te werk te gaan, want ek kan dit nie verduur nie. [Klein ondernemings] stel mense sonder CV’s aan, mense wat in die omgewing woon, die soort mense vir wie ons werk nodig het,” sê hy. “Kliënte sê gedurig hulle kan iemand anders subkontrakteer of die besigheid sluit en die produkte wat hulle vervaardig het invoer. Ek blameer hulle nie.”

En net so behoort niemand Douglas te blameer nie. Hy het onlangs aan die Wes-Kaapse eenheid vir die vermindering van burokratiese rompslomp (Red Tape Reduction Unit) geskryf en gesê: “Ek het gemeen dit sou verstandig wees om julle in te lig oor hierdie belaglike en treurige situasie in ’n omgewing waarin klein ondernemings veronderstel is om die antwoord op die pad vorentoe te wees.”

Hy wag steeds op ’n reaksie.

Die Wes-Kaapse Meubelbedingingsraad het nie gereageer op ’n versoek om kommentaar nie.

* Hierdie artikel word gepubliseer met vergunning van Financial Mail

* Vertaal deur Linda Uys


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of kliek regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


X