Veldloop is verslawend

OP HOL

Veldloop is verslawend

Veldloop (trail running) raak wêreldwyd al hoe gewilder. Veral in Europa en Brittanje is dit die sport wat die vinnigste groei. En dit is nie net vir elite-atlete nie, maar ook vir gewone mense. KIM VAN KETS, een van Suid-Afrika se voorste vroue-veldloopatlete, vertel hoe sy die kopskuif van padwedlope na veldloop gemaak het.


MENSE wil al hoe meer ontsnap aan die dolle gejaag van die lewe. En om aan veldlope deel te neem is die perfekte oplossing om meer as een rede. Dis nie net wonderlike oefening nie, maar help jou ook om onder meer jou kop skoon te maak en te sosialiseer. En jy ontdek ongelooflike plekke.
Só sê Kim van Kets, ’n stigterslid van die nie-winsgedrewe organisasie Wild Women on the Run in die Oos-Kaap.
Daar word gedurig nuwe geleenthede vir veldlope geskep, en meer gevestigde renne ontlok deesdae belangstelling van ongeëwenaarde vlakke.
Veldloop is eintlik ’n kombinasie van hardloop en voetslaan in die natuur. Waar padwedlope en gimlidmaatskap die norm was, gaan hardloop mense nou in die veld, berge, woude, parke en op strande en voetslaanroetes. Veldloop is een van die grootste tendense in die hardloopsektor, en dis ’n uitdaging vir enigiemand – enige vorm en grootte, enige generasie – wat bereid is om dit te probeer, vertel sy.
“Mense het ’n klomp eienskappe wat ons as ’n spesie regtig geskik maak om te hardloop. Veral stadig en ver te hardloop.” Sy verduidelik: “Ons koel vinnig en maklik af omdat ons nie beperk is tot die baie ondoeltreffende gehyg van byvoorbeeld honde nie. Ons het baie en fantastiese sweetkliere en is nie (oormatig) harig nie.
“Ons kop is stewig en beweeg nie rond wanneer ons hardloop nie (dink aan ’n koei), maar help ons om gebalanseerd te bly en in ’n reguit lyn te beweeg. Ons het kort tone met ’n groottoon wat vorentoe wys, veerkragtige ligamente in ons bene en enkels, en ’n Achilles-tendon (dis klaarblyklik wonderlik vir hardloop, en nie alle soogdiere, selfs primate, het dit nie).
“Maar die belangrikste is die gluteus maximus, en dit is wat ons bolyf stabiliseer wanneer ons hardloop. Niemand het sulke groot, sterk boudspiere nodig om te loop nie. As ons gemaak was om te loop, sou dié spiere oorbodig gewees het. Ek sê maar net. So dit klink dalk vreemd, maar as jy maklik sweet en ’n beduidende agterstewe het, het jy al die regte bestanddele om te kan hardloop!”
Kim vertel hoe sy finaal die kopskuif van padwedlope na veldloop gemaak het: “Toe ek Christopher McDougall se ikoniese topverkoper van 2009, Born to Run, gelees het, het ek al meer as die helfte van my lewe gehardloop. Ek het baie insigte uit sy boek verkry, maar die gedagte wat my bybly, is dat mense perfek geëvolueer is om te hardloop. Alle mense. Regtig. Nie net die soepel renhond-in-lycra-variëteit wat die res van ons knorrig en onvolwaardig laat voel nie.
“Voor die tyd van pyle en boë het ons spesie besef dat ons wildsbokke en ander blitsige vorms van proteïen kon inhardloop. Uiteindelik (ná sowat vyf uur, of so lank as wat dit ’n gemiddelde atleet neem om ’n marathon te voltooi) sou ’n bok van uitputting neerslaan sodat dit jy hom maklik met ’n klip oor die kop kon slaan vir aandete. En toe, omdat die jagters waarskynlik nie lus was om al die pad terug huis toe na hul mense te hardloop nie (en omdat dit gevaarlik was om met die bloeiende buit op jou kop rond te hardloop), het die hele familie aangedraf gekom na waar die jagters die braai/carpaccio-partytjie reggekry het.
“Ek bedoel álmal. Ma en pa, ouma en oupa, die babas en kleuters op mense se rug. Dit was dus nie net alle vorme en groottes wat maklik in in die savanne rondgeblits het nie, maar ook alle generasies. En die teorie is dat dít is waar ons gemeenskaplike obsessie met marathon hardloop vandaan kom – dis alles in ons DNS verskuil.”
Sy het eendag saam met vriendinne op die strand gehardloop en gesels kort nadat sy van Tri the Beloved Country (haar 6 762 km lange hardloop/fietsry/roei-ekspedisie rondom die Suid-Afrikaanse grens) teruggekom het, sê Kim.
“Nadat ek Born to Run gelees het, was ek so opgewonde oor die feit dat álmal gemaak is om te hardloop (veral in die veld). Ek was waarskynlik besig om vreeslik te beduie oor hoe fantasties ons land oor die algemeen en hoe beeldskoon veral die Wildekus is, en hoe ek nie kon wag om weer lank en ver al langs die kus te hardloop nie.
“En ek het gesê dat hardloop veral terapeuties is vir vroue, vir hul geestesgesondheid en om te keer dat hulle reeksmoordenaars word! Ek het ook ’n groot ding daarvan gemaak dat dit noodsaaklik is om elke jaar groot dele van die gebied kaf te draf.”
Haar vriendin Lucille (“Sy is baie beter georganiseer en meer logies as ek”) het saamgestem, maar gesê baie van hul vriende sal of kan nie alleen langs die kus hardloop nie omdat hulle dink dis nie veilig nie, of hulle sal weens ’n kombinasie van die volgende struikelblokke nie aan ’n georganiseerde wedloop deelneem nie:
1. Hulle het nie die geld om aan duur wedlope deel te neem wat verskeie dae aanhou nie. 2. Hulle het nie die selfvertroue of ondervinding om in te skryf nie en sal bang wees hulle kom laaste of is skrikkerig om heeldag alleen te hardloop.3. Hulle wil nie saam met die bogenoemde cool klomp in bypassende cool lycra hardloop nie.
Dit is alles geldige punte, sê Kim. “Ons het net daar besluit die vanselfsprekende oplossing is om ’n groep pelle te kry en dit self te doen. Só kon ons die uitgawes beperk omdat ons die reis- en verblyfkoste in die lieflike hotelle aan die Wildekus sou deel. ’n Inskiklike wederhelf kon met ’n bystandvoertuig saamry. Inskrywing sou gratis wees.“Die plan was eenvoudig: ’n prettige, niemededingende geleentheid vir vele avonture in ’n beeldskone, natuurlike omgewing. Dit sou nie ’n wedstryd wees nie. Swem in rotspoele langs die pad en skemerkelkies sou verpligtend wees.”Hulle het aan die werk gespring en sommer gou ’n datum vasgestel.
“Ons was ’n kerngroep vroue van ouderdomme tussen 20 en iets in die 50, met vermoëns in wisselende grade – van iemand wat nog nooit in haar lewe gehardloop het nie tot iemand wat vir die Comrades oefen.”
Die vriendinne het op die naam Wild Women on the Run besluit. “Die enigste maatstaf vir deelname was dat jy geesdriftig moes wees, van vonkelwyn hou en nie soos die cool lycra-groepie is nie.”
In ’n kits het hulle oefenskedules opgestel, drafgroepe georganiseer, roetes gefinaliseer en vergaderings gehou. “Ek het oor skoene, benodighede, voetsorg, rugsakke en die inhoud daarvan, en rivieroorgange gesels. Lucille (van der Merwe) en Lisa (van Wyk) het gesorg vir die belangriker goed soos vervoer, verblyf, kos en watter soort MCC ons sou saamneem.”Net ’n paar maande later was hulle op pad na hul Wild Women-inwydingswedloop van Mazeppabaai na Glen Gariff. Die vroue is met twee busse na die begin van hul sowat 90 km lange avontuur geneem.“Daar was ’n karnavalatmosfeer terwyl ons vrolik ons gesinne gegroet het. Die meeste vroue in die groep is werkende ma’s, van wie verskeie snikkende kleuters van hul knieë moes losmaak om te kon wegkom.“Toe ons in aanvanklik oor Wild Women begin dink het, sou ons ons nie kon indink waarin hierdie hardloop-susterskap sou ontwikkel nie. Dit het begin as ’n beskeie plan om vroue by veldlope betrokke te kry, of weer te laat begin hardloop, die mite hok te slaan dat die Wildekus ’n onveilige plek is om te hardloop, my vriendinne te wys dis regtig die verbysterend mooiste kuslyn, en ’n hardloopervaring sonder die cool klomp in lycra te waarborg.”
Dit was agt jaar gelede. Sedertdien het Wild Women ’n jaarlikse geleentheid geword. Meer as 60 verskillende vroue het al deelgeneem, baie van hulle meer as een keer (gemiddeld 25 vroue per jaar).
“Ons etos berus op drie pilare,” sê Kim: “Wees lief vir jou liggaam (oor wat dit kan doen eerder as hoe dit lyk), wees lief vir en ondersteun mekaar; en gee terug aan die gemeenskap.”
Hulle het baie bewustheid gekweek en tot nou toe sowat R700 000 ingesamel vir twee nie-winsgerigte organisasies (NWO’s) in die Oos-Kaap: African Angels Independent School in Chintsa en Busfare Babies Birth Centre in Hamburg. “Een van ons lede het ’n tak in Grahamstad begin (The Sole Sisters), en Lucille, wat nou in Beijing woon, maak reg vir die eerste Wild Women on the Wall in China in April 2019.”
Nie een van hulle het in 2012 heeltemal die alchemie van hardloop, sonlig, rotspoele en vonkelwyn verstaan of die enormiteit van wat besig was om te ontvou nie, sê Kim. “Wild Women het vele vroue aan die vreugde en vryheid van veldlope bekendgestel, maar dit was net die begin. Sedertdien het ek gesien hoe vroue hul liggaam, verstand en gees transformeer.
“Ek was sielsbly om te sien hoe hulle hul liggaam begin liefhê en respekteer en om te begryp dat hul liggaam ’n masjien eerder as ’n ornament is. Ek het gesien hoe van hulle innerlik sterker raak, hul pyn verwerk en selfvertroue ontwikkel. Ek het gesien hoe hulle hul vrese trompop loop (van kranse afspring, in riviere swem, hulself blootstel voor ander vroue), ek het gesien hoe hulle weer leer om te spéél ndat hulle dekades lank verantwoordelike volwassenes was wat dinge elke dag aan die gang moes hou.
Hoekom de drommel kan ek nie?
’n Deelnemer skryf in 'n epos:
“Ek het die grootste deel van 42 jaar ’n oorlog met myself gevoer oor my eie selfkonsep/liggaamsbeeld. Ek was regtig naar met myself, onvriendelik en veroordelend. My grootste vrees was dat ek hierdie erfenis aan my dogter sou oordra. Maar om te hardloop het my bemagtig en selfbeheer geleer en my terselfdertyd bevry. Dit is die les wat ek vir my dogter wil leer.
“Natuurlik verwag ek dat ander mense (vroue) my in dieselfde gees sal oordeel as wat ek myself oordeel. Om dus te sê dat Wild Women on the Run my voete onder my uitgeslaan het, stel dit sagkens. Ek wou myself die hele tyd vra: ‘Wat is die vangplek? Hoe kan ’n groep vroue so ondersteunend, opheffend en aanmoedigend teenoor mekaar wees?’
“Ek moet nog hierdie ‘vangplek’ opspoor. Daar is géén ‘vangplek’ nie.
“Wild Women het my die geleentheid gegee om die krag en bevryding van hardloop op ’n majestieuse en glorieryke manier te ondervind en terselfdertyd baie van die mites oor vroue te weerlê. Regte vroue is dié wat mekaar ophef en opbou eerder as afbreek.
“As ’n groep vroue wat wesenlik vreemdelinge/ kennisse was my kon aanvaar soos ek is, hoekom de drommel kan ek nie?”
 

Kim van Kets is een van Suid-Afrika se voorste vroulike avonturiers en 'n gesogte motiveringsspreker. Meer inligting by www.kimvankets.com

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.