Fietsry is die nuwe gholf

TRAP-TRAP SO

Fietsry is die nuwe gholf

ʼn Bergfietsryer en ʼn gholfspeler loop in by ʼn kroeg ... Klink dit soos ʼn flou grappie? Lees verder, jy sal verstom wees. Die professionele avonturier en motiveringspreker PETER VAN KETS vertel hoe bergfietsry die nuwe gholf van die sakewêreld geword het.


STEL jou die volgende voor: Ek hang oor my bergfiets, omgeef deur ’n stofwolk. Dis die begin van die bekende Tour de Tuli-bergfietsrit van vier dae, en ek is op die punt om te vertrek op ’n magiese reis deur die hart van Suider-Afrika, deur die Mapungubwe Nasionale Park in Suid-Afrika, die suide van Zimbabwe en Botswana.
Dis nie my eerste Tuli nie, maar ek voel ʼn bietjie soos ʼn vis uit die water. Die organiseerders het my gevra om ʼn groepleier te wees, en ek is een van twee leiers van ʼn groep van 18 supermense in lycra en met gladgeskeerde bene.
Ek weet hoekom hulle my gevra het: Ek is ʼn beroepsavonturier. Hulle dink vermoedelik ek is ʼn bergfiets-ghoeroe, maar ek is nie.
Het jy al ooit gevoel iets is heeltemal bo jou vuurmaakplek? Soos iemand wat ’n arena binneloop om teen die berugte Marcus Atilius te veg, en jy dra vellies, ’n Judron PT-broekie en 'n T-hemp wat sê “Bly Kalm, Ons Gaan Nou Braai”?
Bly kalm en trap
Die een gedagte wat my kalm hou (buiten die gedagte aan braaivleis), is dat hierdie ’n toer en nie ’n wedren is nie. My nuwe vierdag-mantra: “Dis ’n toer, nie ’n wedren nie.”
Die afstande is nie onmenslik nie (gemiddeld 65-75 km per dag). Maar dit verg voorbereiding. En jy moet kan vasbyt – baie ryers moet ver gaan soek na die moed om ses tot agt uur in die saal te bly in die versengende Kalahari-hitte.
Intussen hol almal rond om alles reg te kry met hul fietse. ’n Bergfiets kort mos altyd nog aandag – jy vroetel heeldag aan die ding terwyl jou lysie net langer word. ’n Gespanne atmosfeer heers. Ek kyk om my en dink: “Bliksem. Kyk al die fietse!”
Terwyl ek met my span praat, sien ek die fiets naaste aan my en besef dat hierdie spul ryers fietse het wat meer as R100,000 kos. Elk. Ek maak ’n vinnige sommetjie en dink hoe lekker ek sou kon aftree as ek al die duur toerusting kan verkoop.
By die beginpunt van enige bergfietswedren is die parkeergebied stampvol van die nuutste 4x4’s – ʼn mens het immers net die beste vervoer nodig vir daardie peperduur fiets. Tog sien jy ook soms hoe ’n baie toegewyde bergfietsryer ’n R100,000-fiets afhaal van ’n regte skedonk!
(Ek het relatief goeie bergfietstoerusting. Maar vandag voel dit asof ek in die arena is met my drierat-dikwiel. My enigste fênsie toerusting is ’n dinamo vir ’n liggie. Ek kan amper hoor hoe die res – met hul R120,000-fietse onder hul lycrabedekte stêre – skelm vir my lag. Maar ’n beroemde fietsryer het wel eenkeer gesê: “Dit gaan nie oor die fiets nie.”)
Nuwe bande en transaksies
Ek stel myself voor aan almal en besef ek is omring deur Marcus Atiliusse uit Suid-Afrika se korporatiewe wêreld. En ek besef ook dat hierdie nie net ’n fietstoer gaan wees nie; daar sal ook besigheid gedoen word en nuwe bande gesmee word.
En dit is presies wat gebeur. Oor die volgende vier dae word die ryers goeie pelle. En transaksies word beklink so tussen die ryery deur. Ek het gedink hierdie soort sake word net op gholfbane beklink.
En dis juis die punt, besef ek skielik: Bergfietsry is besig om die “nuwe gholf” van korporatiewe netwerkers te word. Maar hoe het dit gebeur?
Die sport het baie gewild geword onder mense in hul 40’s en 50’s. Dit maak sin – in hierdie lewenstadium het mense hopelik al genoeg gespaar om hul eerste fiets te kan koop, maar dit laat hulle ook toe om in die vrye natuur te oefen sonder om te veel druk op hul ouerwordende ledemate te plaas. Dis perfek!
Terloops ... Ek het ’n paar jaar gelede die voorreg gehad om my vrou, Kim, te ondersteun op ’n uitsonderlike ekspedisie om die grense van Suid-Afrika. Sy het van ons huis aan die kus naby Oos-Londen gehardloop tot by Mosambiek – ’n marathon per dag – en toe fiets gery langs die binnelandse grense tot by die suidoostelike hoek van Namibië, van waar sy met ’n kajak op die Oranjerivier tot by Alexanderbaai geroei het. Toe hardloop sy kuslangs terug na Oos-Londen om hierdie massiewe driekamp-kragtoer van 6,770 km te voltooi.
Tydens hierdie avontuur het ons die boek The Racist’s Guide to the People of South Africa deur Simon Kilpatrick ontdek. Dis polities inkorrek en nougeset onwetenskaplik, maar skreeusnaaks. Ons het die deel oor wit Engelssprekende Suid-Afrikaners wat grootgemaak word om groot hoogtes te bereik met aandag gelees. Toe ons besef dat ons – reeds in ons laat-30’s en vroeë 40’s – nooit in ons lewe groot kokkedore gaan word nie, was ons tydelik ontstig. Van toe af neem ons met oorgawe aan uithousport deel – dis die regte balsem vir ons verleppende korporatiewe ego’s. Die drie skerpste pyle in ons sportkoker is bergfietsry, hardloop en roei …
In elk geval.
Risiko en beloning
Bergfietsry is ’n sport wat uithouvermoë, taaiheid en stamina verg, en jy word baie vinnig fiks. Bergfietsry hou groot risiko’s in, maar ook beloning: een van pyn en dan groei. Iets wat jy nogal in die sakewêreld kan toepas.
Wanneer mense in ʼn groep met bergfietse ry, met tussen vyf en 20 ryers, gee dit jou kans om aktief te netwerk (nie soos ʼn vierbal in gholf nie). Tydens enige lang rit kom mense se ware karakter gou na vore, of hulle nou fisiek sukkel met die ryery of iemand help om ’n pap wiel reg te maak. En só kan jy subtiele insigte verkry ten opsigte van kollegas, vennote en moontlike werknemers – hul houding, uithouvermoë en wilskrag.
As motiveringspreker was ek al by baie konferensies waar bergfietsry as metafoor vir die onderwerp gebruik is. En waar gehoorlede triomfantelik vertel het van hul epiese seges op ’n fiets.
Bergfietsry eis sy pond vleis. Die gemiddelde koste van ’n fiets by Tour de Tuli is sowat R60,000. ’n Skaflike beginnersfiets kos omtrent R35,000. Dis gek, behalwe as jy daardie soort geld verdien. (Daar is natuurlik altyd die eenspoed-dikwiel … grappie – ek dink nie hulle verkoop dit eens meer nie.)
Afgesien van jou fiets is daar ook ’n nimmereindigende lys van broodnodige toerusting – binnebandlose bande, ’n verskeidenheid van GPS-eenhede, valhelms, brille, fietsryskoene, fietsligte en batterye, energie-jel, koolhidraatprodukte, hidreerpakkies en ’n laaikas vol fietsryklere ideaal vir elke seisoen. En elke 500 tot 600 km het jou fiets ’n diens nodig, wat jou tussen R2,000 en R3,000 uit die sak gaan jaag.
Goedkoper as gholf
Maar as jy eers al jou toerusting aangeskaf het, kos fietsry minder as gholf. Dis maklik om op jou fiets te klim en in die rigting van die heuwels te mik, terwyl dit baie tyd en toewyding verg om ordentlik te leer gholf speel. ’n Bergfietsrit kan so lank of so kort wees soos jy verkies. En hoewel dit nie ’n goedkoop sport is nie, hoef jy nie jaarlikse ledegeld te betaal nie.
Daar is nou ook 'n nuwe wapen in die bergfiets-arsenaal wat help om die sport nog gewilder te maak – die e-fiets. E-fietse bied batteryaangedrewe hulp wat die trappery makliker maak, en sommige het selfs ’n versneller. Wanneer jy ’n e-fiets se pedale trap, skop jy ’n klein motortjie brand wat jou die nodige hupstoot gee om teen steiltes uit te ry. En jy seil moeiteloos oor ruwe terrein sonder om jouself te veel uit te put. Jy beheer die spoed met jou voete. En dit laat jou besonder sterk voel!
E-fietse is nie net ’n foefie nie – hulle is hier om te bly. Verkope het tussen Julie 2016 en Julie 2018 met ’n verstommende 95% gestyg. Dis ’n bedryf wat amper R900 miljoen werd is, en dit bly groei.
So waarvoor wag jy? As jy volgende keer ’n smal grondpad deur ’n woud of oor ’n berg sien kronkel, kry jou vriende, kollegas of toekomstige sakevennote bymekaar, trek aan, vat die pad en word die Marcus Atilius van bergfietsry. Hoekom? Want bergfietsry is die nuwe gholf. Uit en gedaan!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.