Moenie jou vir ’n rooi baret doodskrik nie

MAANDAG MET MAX

Moenie jou vir ’n rooi baret doodskrik nie

Ons moet onderskei tussen die EFF-leiers en die mense wat EFF stem, skryf MAX DU PREEZ.

Is daar regtig amper 2 miljoen Julius Malema’s in Suid-Afrika? Nie soos ek my eie land bekyk nie.

Persoonlik dink ek Malema is ’n populis van die outoritêre soort, ’n roekelose demagoog en ’n narsis. Ek het goeie rede om te glo dat hy inherent korrup is.

Hy dryf ’n eng, etniese nasionalisme en druk by elke geleentheid sy mes in die ou wonde van ras en ongelykheid om dit bloederig te hou, in die hoop dat dit sal ontsteek.

Sy politieke modus operandi draai meestal om geweld, dreigemente van geweld en intimidasie.

(Een van die belangrikste artikels wat in die laaste tyd in Suid-Afrika verskyn het, is Piet Croucamp s’n in ons jongste uitgawe waarin hy die impak van Malema se retoriek op die swart gemeenskap ontleed. Dit is regtig ’n móét-lees.)

Die EFF sê hulle het meer as ’n miljoen ingeskrewe lede. Sowat 1,8 miljoen mense het in die laaste verkiesing vir die EFF gestem.

Sowat 100 000 mense het by die party se onlangse 10de verjaardagvieringe opgedaag. Malema het daar weer gewys dat hy ’n meester van teater en skouspel is: Die beeld van hom met gebalde vuis wat op ’n meganiese platform opgehys word, is klaar ikonies.

Dit is ’n veer in Malema en Kie se hoede dat hulle party in 10 jaar tot net meer as 10% steun kon groei. Ander partye wat van die ANC weggebreek het, soos die PAC, Cope en die UDM, bestaan eintlik nog net in naam.

Maar dit lyk asof die EFF nie deur dié plafon kan breek nie. Geen meningsopname die laaste jaar gee die EFF ’n kans om na meer as 15% te groei nie.

Onlangse navorsing deur prof. Collette Schulz-Herzenberg van die Universiteit Stellenbosch en prof. Robert Nyenhuis van die California State University wat in die Journal of Modern African Studies gepubliseer is, wys ook daarop dat die EFF se kiesersbasis baie vloeibaar is. Ongeveer die helfte van die kiesers wat in 2014 vir die EFF gestem het, het in 2019 vir die ANC of selfs die DA gestem. Daar was in 2019 wel nuwe EFF-kiesers, maar hulle kan dalk ook in 2024 wegdryf.

Ek sien kort-kort voorspellings van vreesbevange wit mense dat die EFF skielik gaan groei en ons dalk binnekort Malema as president gaan hê.

Die simplistiese redenasie is dat die EFF se aanbieding net te aanloklik vir swart kiesers is: wraak teenoor wittes, die nasionalisering van banke en nywerhede, die konfiskering van alle grond, gratis onderwys van graad 1 tot op universiteit en gratis mediese dienste in die beste hospitale.

Maar volgens die twee akademici glo min swart kiesers dié beloftes, en die meeste van hulle is in elk geval nie geesdriftig oor die EFF se ras-eksklusiwiteit nie.

“Compared with both the ANC and the DA, die EFF suffers from a major ‘trust gap’ in survey attitudes,” sê hulle.

Dit bevestig iets wat ek lankal vermoed en al herhaaldelik geskryf het: Kiesers dink nie die EFF gaan die land goed regeer of die ekonomie behoorlik bestuur nie.

Die ineenstorting van die ekonomie is nie ’n aanloklike idee vir die ontluikende swart middelklas, die werkers of die gefrustreerde swart jeug nie, en dit is die EFF se teikengehoor.

Hulle voel seker wel wrokkig oor die sigbare wit bevoorregting om hulle, maar hulle sal veel eerder in soortgelyke bevoorregting wil deel as om al die wittes se eiendom af te vat of hulle in die see te jaag.

Dit is waar Zanu-PF ons ’n groot guns gedoen het, hoe tragies die gevolge ook al vir Zimbabwe self was: Regstellende aksie is een ding, maar om op wit burgers jag te maak, benadeel swart mense en veral die minder gegoedes ewe veel of selfs meer.

Daar kan maar bitter min Suid-Afrikaners wees wat nie al self met ’n Zimbabwiese vlugteling hier in Suid-Afrika te make gehad het nie – daar is honderdduisende van hulle, dalk selfs meer as ’n miljoen. En dit moet seker by almal deurdring dat Suid-Afrikaners nie ’n buurland het om heen te hardloop vir werk en kos nie en net ’n klein handjievol bevoorregtes kan die vasteland verlaat.

Elke Suid-Afrikaner wat selfs net nou en dan na nuusbulletins kyk of luister of ander media gebruik, moes sekerlik al kennis geneem het van die miljoene mense van sukkelende state in Noord- en Wes-Afrika en lande soos Sirië en Afghanistan wat hulle eie lewe in gevaar stel deur na Europa te vlug. Tienduisende het al só gesterf, meestal op see.

Alle Suid-Afrikaners hoop op vrede en voorspoed; nie een wil ’n vlugteling word nie.

My eie diepe renons in alles wat EFF is, het ’n paar jaar gelede ná ’n persoonlike ervaring geskuif. ’n EFF-lid het my op Twitter ’n setlaar genoem wat terug Holland toe moet gaan, anders sal die EFF sorg dat ek en my gesin in ’n vlak graf beland. Dit was so ekstreem dat ek die ou gaan opsoek het, en gevind het dat hy ’n junior bestuurspos by ’n munisipaliteit beklee.

Hy was verstom toe ek hom bel en myself identifiseer; selfs meer toe ek vra hy moet my help verstaan hoekom hy soveel haat jeens my koester. Hy kon nie genoeg om verskoning vra nie, en het half tranerig vertel dat hy erge probleme in sy persoonlike lewe ervaar en dat dit tot probleme by die werk gelei het. Toe hy die dreigement getweet het, was hy kwaad en raadop. Hy het nie daaraan gedink dat ek dit sou lees en daarop reageer nie, hy het net op die lewe probeer skreeu.

Ek het hom geglo en sy verskoning aanvaar.

Ek wonder soms of die gedurige uitbeelding van die EFF as ’n boosaardige vyand van die mense hoegenaamd produktief is.

Image: ANGELA TUCK

Ek dink Malema, onderleier Floyd Shivambu, sekretaris-generaal Marshall Dlamini (al drie baie welgesteld) en ’n paar ander EFF-leiers is gevaarlike politici, maar dit maak nie al of die meeste van hulle lede gevaarlik of ’n bedreiging vir vrede en demokrasie nie.

Vredemakers op vervallende dorpe het al gevind dat die plaaslike EFF goeie vennote in die heropbou van gemeenskappe kan wees – Senekal is ’n voorbeeld.

Nes ek hoop dat die DA in Kaapstad en die Wes-Kaap nou na die taxibedryf gaan uitreik en goeie kommunikasie en gemeenskaplike grond gaan vind, so hoop ek politieke partye en burgerlike organisasies gaan ook na die EFF se ondersteuningsbasis en streekstrukture uitreik.

’n Rooi baret beteken nie noodwendig dat ek en die draer daarvan nie heelwat drome en vrese deel nie.

Gaan in vrede.

Max


Standing Dead

i’m at a party
(can you believe it?)
saturated w/
hyperpop
transxendance
a pretty girl
in a floral dress
asks me how
many books
i will have to write
to account for all the
US war crimes
HA i didn’t mean
ALL of them
I meant the
WAR ON TERROR
fragment
AFTER
the infrastructure
shudders
i wait for it to
take me home
the theatre of
war papered
everywhere
i say to my lover
it’s almost a fulltime
job to yearn
& crave
love OF COURSE
(unlike labor) a
dyke imperative

– Andrea Abi-Karam

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.