Vandeesweek het my dokter my op die Pil gesit. Ons het so drie maande gelede daaroor gepraat, maar ek het toe nie gevoel ek het dit nodig nie. As iemand wat nie ’n fan van pille is nie, was ek nie lus vir die idee van ’n pil vat elke liewe dag vir die res van my lewe nie.
In graad 6 was ek vreeslik siek. Ek kan nie onthou presies wat fout was nie, maar ek moes soggens twee pille drink. Die een oggend nadat mammie-goed nou die pap gemaak het, moes ek die pille vat. En ek was bang. My broer, my grootste cheerleader in die hele wye wêreld, sluk toe die twee pille: “Kyk, Merc, dis maklik. Jy sit dit net op jou tong, vat water, buig jou kop agteroor, en dan gly die pille af.” Hy het geweet dat as ek nie die twee pille vat nie, sou ek, soos wat my ma ook gewaarsku het, nie gesond raak nie.
Die twee pille het slymerig geword in my mond, want ek kon dit net geheel en al nie sluk nie. Ek is een van daai mense met ’n sterk gag reflex. Enigiets wat te naby aan my kleintongetjie beweeg, maak my naar. Hierdie rede, en dan die stigma wat met die Pil gepaardgaan, het my drie maande terug in my dokter se spreekkamer daarvan weerhou om ja te sê vir voorbehoed.
Ewe skaam vra ek toe nou dié week vir die dokter om maar die Pil voor te skryf, want my vel raak nie beter nie. Aanvanklik dag ek dis Johannesburg en sy kak droë weer. Maar die dokter meen dis hormonaal. En al wat gaan help, is die Pil. Ons, ek en my dokter, breek toe eers daar in haar spreekkamer die stigma wat met voorbehoed verband hou af. Dis mos net los meisies wat op die Pil is, so is ons grootgemaak. Vroeg-ryp-vroeg-vrot-vibes. Hoe kan ek, Mercy Kannemeyer, voorsitter van die VCSC, op die Pil wil gaan?!
Dit was die allervreemdste gevoel om aan my dokter te erken dat ek op die Pil moet gaan. Alhoewel ek nou al ’n menigte van die mure van my konserwatiewe verlede kon afbreek, bly die Pil steeds ’n Jericho wat weier om te val. Toe ek ná die konsultasie by die apteek Pil in die hand wegstap, voel ek skielik so volwasse. So byna 30 jaar oud. Op pad huis toe was dit asof ek nóú verantwoordelikheid vir my liggaam gaan moet neem. Die realiteite dat ek heel moontlik mense kan baar, kom staan penorent in my gedagtes. Die blote gedagte dat ek verantwoordelikheid vir myself, en heel moontlik eendag ander, gaan moet neem, spook.
Bel my ouers die middag om te sê ek is op die Pil. My pa vra onmiddellik het ek dan plannetjies (lees seksplannetjies)? [Leser, verwys hier terug na my stuk in Vrye Weekblad oor maagdelikheid, asseblief.] My ma val hom in die rede, “Nee, dis vir die kind se puisies.” “O, ek wou nou net sê,” sak Deddie af.
Om kom van die bom – dit maak nie saak hoe eiewys, wys-wys, street smart, opgevoed, slim, “woke”, wakker, body and sex positive jy is nie, sommige kleintydstigmas vat langer om af te leer as ander. My vel kon maande gelede al beter gelyk het as ek net nie so skaam was om vir my dokter vir die Pil te vra nie. Maar die dobbelstene val maar soos hulle moet, nè? Ek skat dat ’n mens die lewenslesse nie juis kan aanjaag nie. Wat moet gebeur, sal gebeur. Wat jy moet ervaar, sal jy ervaar. Wanneer die tyd reg is.
Fok. Dat een klein pil nou ’n eksistensiële krisis van stapel kan stuur.
Pilgrimage
The arch of my foot aches.
Soon, we’re walking through nettles, a yellow paddock,
fresh ginger packed between the gum
And tooth.
In excess, sugars become fat, a kind
of sealant. Organs bleating
On the forest floor.
A first step.
Blue radiance, paper that receives ink, coffee with cream. By day 8,
I can’t remember life
With my family.
– Bhanu Kapil
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.