Daar’s altyd iemand wat swaarder kry as ek

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Daar’s altyd iemand wat swaarder kry as ek

DEBORAH STEINMAIR vind ’n alternatief vir geykte medelye.

Image: ANGELA TUCK

Geen ruimte, nie eens virtueel, is groot genoeg vir alles wat ek oor boeke wil sê nie. Daarom loop dit oor in die nuusbrief, want boeke is my nuus.

Partykeer kry iemand ’n blink ingewing en jy dink: Hoekom het ék nie daaraan gedink nie? Dis gewoonlik so voor die hand liggend.

Frieda van den Heever het ’n digbundel saamgestel, Die lewe is ’n asem lank: Gedigte oor verlies en vertroosting. Dis die ideale geskenk vir iemand wie se geliefde dood is (soos Frieda s’n).

Wanneer ’n mens radeloos krabbel en gryp na woorde om te troos, gaan leen by die groot digters, want wie kan die absurde tragiek van die lewe beter verwoord as byvoorbeeld Breyten? Ek haal graag T.T. Cloete aan: “Dis iets wit en stil en allerliefliks wat weg is. Die liefde bedek niks.”

Image: ANGELA TUCK

Wie kan vergeet, in die rolprent Four Weddings and a Funeral, waar ’n naasbestaande by 'n begrafnis W.H. Auden se gedig “Stop all the clocks, turn off the telephone” voorlees. Johann de Lange het dit in Afrikaans vertaal:

Hy was my Noord, my Suid, my Wes en Oos,
my werksweek en my Sondagstroos,
my middag, my middernag, my gesels, my lied;
ek dag die liefde duur vir ewig: dit het nié.

Ek gaan my eksemplaar nie geskenk gee nie, maar hou; want daar is altyd iemand wat swaarder kry as ek. Dan stuur ek ’n gedig. Wanneer iemand se kind doodgaan, eerder as om geyk en irriterend op te merk dat God sy mooiste blom kom pluk het, dat dit Sy wil was, want sy was te goed vir hierdie aarde, haal ek Charles Fryer aan, uit “Begrafnis van ’n kind”:

O buikvol aarde, rus sag op haar;
haar voete het jou skaars geráák;
Koester haar in die omhelsende donker –
sy’t altyd maar vroeg gaan slaap.

Ook ingesluit is Fanie Olivier se roerende gedig wat só eindig: “beauty douglas was born/ she died”.

Daar is soveel bekende eggo’s, soos Breyten Breytenbach wat sal sterf en na sy vader gaan, Wellington toe met lang bene, Jeanne Goosen wat die Here vra om Sy genade en ook Sy soort apartheid aan haar pa, Bibberende Piet, by Sy poorte duidelik te maak. Antjie Krog wat vir haar ma sê: “ons laat jou gaan liewe Ma / ons kameraad/ op die psalms van ons ontoereikende liefde.” Ná haar ma se dood, vertel Ronelda S. Kamfer: “eerste het die hekke afgeval / en die gras het doodgegaan / die plante het ophou groei / die vensterbanke het wit geword.” Petra Müller spreek haar oorlede man aan: “Ek gaan ’n onderhandeling met my gedagtes aan en sê: / só, só, wees nou gerus – die gras, die duiwe en die kerke weet van jou.” Gisela Ullyat (self ook al verreis) skryf vir ’n vroeggebore kind: “op die agste dag / besluit jy oplaas hierdie wêreld / was nooit jou woning nie.”

Die bundel bestaan uit 100 gedigte. Van den Heever, ’n geïnspireerde vertolker van digkuns, se insig en instink is trefseker: Dis besonderse gedigte wat in enige bloemlesing kon staanplek kry. Die tema van verlies was verreweg nie die enigste kwalifikasie vir insluiting nie.

Dis ’n verruklike versameling wat ook by nabaat troos oor almal wat my lank reeds ontval het. Dis hardeband, met ’n plekhouerlintjie. ’n Lieflike geskenk anderkant woorde.


Dis wat die dood doen

die dood vou jou op en pak jou weg
die dood sny jou oop
en maak jou in warm olie gaar
die dood breek jou op en gooi jou weg
die dood maak 'n gat en spit jou toe
die dood is die ding wat wegraak
die ding wat jy van vergeet het
en skielik onthou

– Ronelda S. Kamfer
(Uit: Hammie)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.