“Liefste oumatjie Ansie, baie geluk met jou 90ste verjaardag. Ons weet Liewe Jesus hou jou hande styf vas. Jy is die mooiste en beste ma en ouma in die wêreld. Geniet jou koppie tee vanoggend saam met al die ander dierbare oumensies in Huis Treurmare.”
Ek ry gisteroggend winkel toe om hondekos en koerante te gaan koop. Ek is op RSG ingeskakel. Ek luister na Gelukwense aan Bejaardes met Elsje van Jaarsveld. Ek is klaar deur Loof die Here met Magdaleen Krüger, Binnekamer met Lizelle de Bruin en die Oggenddiens.
(Die boodskap aan Ouma Ansie hierbo is nie ’n presiese transkripsie nie, maar omtrent al die boodskappe is in dié trant.)
In my verbeelding bel Ansie dadelik in. “Dankie, julle,” sê sy. “Maar julle kan gerus gaan kak. Ek is by my volle positiewe en weet meer van die lewe as julle almal saam. Behandel julle my nou soos ’n kind omdat julle skuldig voel omdat julle my in die ouetehuis gestop het? Ek gaan nie ’n teetjie drink nie, ek gaan ’n dubbel-rum-en-Coke drink en met ou Flip met die weglêsnor van langsaan flirt. En my geskenk aan myself is ’n tattoo op my voorarm. Cheers.”
Steeds in my verbeelding versoek Ansie toe ’n spesiale stuk klipharde rockmusiek: “Mama”, deur My Chemical Romance:
Mama, we all go to hell
I’m writing this letter and wishing you well
Mama, we all go to hell
Mama, we’re all full of lies
Mama, we’re meant for the flies
And right now they’re building a coffin your size
Mama, we’re all full of lies.
Ongelukkig is dit nie ’n inbelprogram nie. Elsje beweeg naatloos aan na dierbare oupatjie Karel, wat 93 is.
Ja, die meeste van ons behandel ou mense soos kinders. Ons infantiliseer hulle in die naam van kastige respek. En ons wil hulle in ’n boks van grys besadigdheid druk.
Ek luister baie eerder na die 94-jarige filosoof Noam Chomsky as na die jeugdige hoogdrawende dominee op RSG. Thabo Mbeki is 81 en so skerp (en soms dwaas) soos 40 jaar gelede. Ek mis die briljante Stellenbosse filosoof André du Toit se stem – hy moet al goed in sy 80’s wees. Njabulo Ndebele is net 76 en hy word ook deesdae geïgnoreer. Senator Bernie Sanders is 81 en so vurig soos ooit.
Die man wat dalk weer volgende jaar Amerika se president gaan wees, Joe Biden, is 80. Sy Republikeinse teenstander, Donald Trump, is 77. Die pas herkose (was hy regtig?) president van Zimbabwe, Emmerson Mnangagwa, is 80. Uganda se Yoweri Museveni is 78. Xi Jinping van China en ons eie Cyril Ramaphosa is ook op 70 verby aftree-ouderdom.
Ek besing nie een van hulle se lof nie, maar hoekom behandel ons ander mense van hulle ouderdom as seniele suurstofdiewe?
Omdat gemeenskappe hulle ouer garde infantiliseer en aan hulle voorskryf hoe om te leef, internaliseer baie van die ouer mense dit en begin van hulle hulle “soos oumense” gedra.
Ek moes myself al bestraf wanneer ek ’n ouer man in sy latere dekades met ’n poniestert en ’n vrolike, los hemp sien en dink, aitsa, kyk so ’n ou swerkater. Ek is nie ’n man vir poniesterte nie, maar hoekom het ’n man van 80 minder reg om dit te dra as ’n man van 25?
Ek het die ander dag amper ’n veelkleurige kikoi-broek vir myself gekoop omdat dit vir my mooi was en baie gemaklik gelyk het. Ek het toe nie, want ek is mos al 72.
Act your age, sê die gemeenskap aan ouer mense. Hoekom? Wat beteken dit? Watter sin maak dit vir ons om te wil hê ’n vrou van 75 moet kuise rokke dra, liefs ’n cardigan, en met haar hare in ’n bolla?
Skoonheid is seker in die oog van die toeskouer, maar wie kan stry dat Helen Mirren (78), Anjelica Huston (72) en Meryl Streep (74) steeds onder die mooiste vroue in die filmwêreld tel? Wat van die modelle Iman (68) en Grace Jones (75)? Twee vroue in die openbare oog wat ek ken, is vandag vir my mooier as toe ek hulle vele dekades gelede ontmoet het: Ruda Landman en Antjie Krog.
Mick Jagger van die Rolling Stones is op 82 nog baie sexy. Bob Dylan, ook 82, het onlangs nog van sy beste musiek geskryf, so ook Leonard Cohen ’n jaar of wat voor hy op 80 dood is. Dit lyk nie asof Paul McCartney (81) enige planne het om binnekort die emmer te skop nie.
Die gemeenskap, die stelsel, wil hê ouer mense moet hulle mooi stil en waardig gedra. Tree af en gedra jou. Se moer, man.
Dis weens dié druk van die gemeenskap dat soveel ouer mense in hulle later jare al hoe meer bekrompe en onverdraagsaam raak – en nydig teenoor die jeug.
As jy moet aftree, hanteer dit as ’n verandering van fokus, ’n nuwe avontuur, eerder as jou tyd om vir die einde voor te berei.
En stuur enigeen, jou geliefdes ingesluit, wat vir jou wil voorskryf hoe jy moet leef, warmplek toe.
Om ouer as 60 te wees met redelike gesondheid is ’n gawe, ’n geskenk. Dis jou lisensie om te wees wat jy wil wees en weens jou werk of omgewing nie kon wees nie.
Jy hoef nie meer ’n duit om te gee wat ander van jou dink nie.
Rage, rage against the dying of the light.
Vasbyt. Min dae.
Max
Short Talk on Pain
Lawns and fields and hills and wide old velvet
sleeves, green things. They stretch, fold, roll away,
unfurl and calm the eye. Look lush in paintings.
Battles are fought on greens. Or you could spread
a meal and sup. How secretly they lie, floors of
distant forests. Next comes the grave, in many a
poem about green. But this is not a poem. This is a
billboard for frozen green peas. Frozen green peas
are good for pain.
– Anne Carson
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.