Die anti-minimalis: Vir my is minder beslis nie meer nie

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Die anti-minimalis: Vir my is minder beslis nie meer nie

ANNELIESE BURGESS sê sy kan nie by 'n winkel met tweedehandse goed verby stap sonder om te wil snuffel vir skatte nie.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek soek nou al ’n ruk lank ’n ou ysterbad vir my nuwe tuinbadkamer. Dit gee my ’n verskoning om gereeld by tweedehandsewinkeltjies ’n draai te maak. By die een in Gonubie het ek nou die dag ’n lieflike rottangspieël vir R150 raakgeloop. By Junkies in West Bank het ek ’n swaar gietysterpan vir R75 gekry wat net so goed werk soos my duur Le Creuset. En by ’n piepklein winkeltjie agter ’n kroeg in die onderdorp het ek verlede week die mooiste oranje botterbakkie en twee asemrowende kristalwynglase raakgeloop – R5 elk. Toegedraai in koerantpapier. (Helaas steeds geen bad nie.)

Ek hou meer van ou goed as nuwe goed. Ek hou van patina. Van gebruikte goed. Goed wat al voorheen ’n lewe of lewens gehad het. En ’n winskopie maak my baie gelukkig (soos die Stanley-beker wat R500 nuut kos, maar wat ek vir R30 gekoop het by ’n winkel in Barrydale op my laaste Kaapse trippie).

Ek kan nie by ’n tweedehandse- of antiekwinkel verby stap nie.

Ek herrangskik nou die week my kombuis en eetkamer, en in die proses moet ek ’n hele klomp kaste se goeters op die vloer in die ingangsportaal uitpak.

’n Vriendin kom loer in vir tee. “Jy’t het te veel goed,” sê sy. My broer kom laai iets af. “Hoekom raak jy nie ontslae raak van sommige van die goed nie?” sê-vra hy. ’n Nuwe vriend kom vir aandete: “You do seem to be a bit of a magpie,” lag hy vir die uitgepakte chaos.

Man, los my uit. Ek hou van my goeters. Ek hou van al my boeke en my kas vol vintage glase. En my rak vol teekoppies. En my kleurryke emaljeversameling. (My gunsteling is die rooi bak wat ek minstens 20 jaar gelede by die antiekmark in Kerkstraat in Kaapstad gekoop het. Op die bodem staan daar: I love yellow.) Ek hou al my teepotte en opskepbakke en oondbakke en borde. Dis hartsgoeters. En dit maak my gelukkig.

Op ’n onlangse uitstappie Cradock toe klop my hart vinniger toe ek More 4 Less Furniture in die hoofstraat gewaar. My dogter maak ’n kreungeluid. Daar is nie meer plek in ons huis nie, sê sy, en gryp my beursie. “Vandag sal jy mooi moet motiveer vir enige goeters wat jy hier wil uitdra.”

Die winkel is so groot soos ’n skuur en volgeprop met alles van ou baddens tot blikke. Ek het nog nooit so iets gesien nie. Dit is vir my die paradys. Ek mag egter net ’n geel teepot, ’n ou koekieblik met bote op, en ’n glasbak (wat intussen een van my gunstelinge in my kombuis geword het omdat dat enige slaai mooi lyk daarin) koop.

En wat van die twee tuinstoele? vra ek oor die witgeverfde draadstoele wat ek al in my geestesoog sien daar onder die afdakkie by my dahlias (daardie ou tuinmeubels is so skaars soos hoendertande).

“Hoe wil jy dit in die kar inpas?” wil die kwaai minimalis weet. Ek het ’n plan, maar ek besef ek gaan dit sonder die tiener en haar maat moet bewimpel, want hulle gesanik oor “less is more” begin my nou ietwat irriteer.

Terwyl hulle ontbyt eet, gaan ry ek vinnig ’n draai. Daai stoele het nie maklik ingepas nie. Maar met ’n draai hier en ’n druk daar was hulle in. Die uitdrukking op die tieners se gesigte toe hulle die motor se deur oopmaak en besef een van hulle gaan tussen die pote van ’n tuinstoel moet huis toe ry, was heerlike wraak.

Ek is ’n trotse anti-minimalis (en van my gunstelingmense is ook – kom in, Pearl! Lientjie! Angela! Elmari!).

My goeters gee my oneindige plesier. Ek hou daarvan om te besluit vir watter teepot ek lus is, of watter koppie ek soggens wil hê vir my eerste koffie. Vanoggend is dit die gryse met die dun rand wat soos gefrommelde papier lyk wat ek by ’n snuffelwinkel in Los Angeles gekoop het. Ek gaan nou my koffie in die tuin loop drink, onder die prieel wat met jasmyn oortrek is. Op daai stoel wat ek van Cradock af teruggebring het. Met die mooi groen gestreepte kussing wat ek in eens in Graaff-Reinet gekoop het.

Elke ding in my huis het ’n storie. En dit maak my gelukkig.

Ek gaan vandag heerlik rondpotter (my nuwe dahliabolle is afgelewer; ek wil ’n nuwe resep vir “chile crisps” probeer; en ’n bak rooi-uipiekels maak vir vanaand se taco’s).

Bolle moet môre geplant word!
Bolle moet môre geplant word!

Terloops, kollega Piet vertel soms hy “putter” rond. Ek het gedink Piet gebruik die woord verkeerd. Maar lyk my ons is albei reg. Jy “putter about” (Amerikaanse Engels). Maar “potter around” (Britse Engels). En dan kan jy ook “putz” in Jiddisj.

Salige Sondag.

Anneliese


Knowing

The silence is vast 
I am still and wander 
Keeping you in mind 
There is never enough 
Time to know another

– Samuel Menashe

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.