Dagsê
Verregse partye kry algaande meer vastrapplek in Wes-Europa – of hulle nou toenemend setels in die parlement wen of daadwerklik in koalisie saam met hoofstroom- regse partye regeer.
In Italië is Giorgia Meloni – wie se party neofascistiese wortels het – die premier. Verregs is deel van die koalisieregering in Finland, en in Swede help hulle om die huidige regering aan die bewind te hou in ruil vir ’n paar belangrike beleidstoegewings.
En terwyl ek einde Mei met vakansie in Griekeland was, het ek met ’n hol kol op die maag toegekyk hoe ’n drietal verregse partye met gemak ’n paar parlementêre setels wen.
Hulle verkiesingstrategie is dieselfde as vroeër, maar nou het hulle ’n veel meer ontvanklike publiek: Bly maar soos van ouds hamer op die bedreiging wat immigrasie – veral uit Afrika- en Islamitiese lande – inhou.
Tot ’n paar weke gelede het ek gevrees Nederland gaan dieselfde paadjie loop en ek het geen idee gehad vir wie ek in die komende verkiesing, oor sowat 100 dae, gaan stem nie, maar nou weet ek dit.
Vir die eerste keer in my lewe gaan ek vir ’n party stem wie se leier geen ambisies het om premier te word nie. En ek is nie die enigste een nie: Peilings toon dat die Nieuw Sociaal Contract van Pieter Omtzigt ’n wegholsukses gaan wees in die komende verkiesings. Een van die redes is omdat hy ’n radikale nuwe manier van landsbestuur voorstel waarin die bestaansreg van die burger sentraal staan.
Omtzigt is al heel lank parlementslid en dit is ook waar hy wil bly – ’n gewone LP – selfs al wen sy party die verkiesings, omdat hy glo dit is die beste plek van waar jy die regering op sy tone kan hou en noukeurig nagaan of hy sy werk doen en geen baantjies vir boeties skep nie.
Hy gee ’n volslae nuwe benadering tot landbestuur waar dit nie om mag gaan nie, maar om inhoud – iets waarna die kieser in Nederland en, glo ek, ook in Suid-Afrika smag.
Omtzigt het sy rasende gewildheid juis aan dié uitgangspunt te danke. Hy het enkele jare gelede die regering (by name die belastingdiens) aan die kaak gestel nadat hulle duisende arm ouers onregmatig van bedrog met toelaes beskuldig het. Die meeste van dié mense was bruin of swart vroue, enkelouers, en talle se kinders is van hulle weggeneem met vele ellendige gevolge.
Dit is raar om ’n politikus te sien wat homself reeds bewys het en nie op grond van bloot beloftes ’n verkiesingsveldtog van stapel stuur nie. Hy spreek tot die kieser se verbeelding op grond van beginsel en nie deur op sy of haar se vrese te teer nie.
Nog ’n persoonlike waardering wat ek vir Omtzigt het, is dat hy hom beywer vir ’n grondwetlike hof. Nederland is die enigste land in Europa wat nie een het nie. Dit wil sê, regters kan nie wette toets aan die hand van die grondwet nie. Die kabinet het al stappe in dié rigting gesit, maar dan sou dit net om die toetsing gaan van sogenaamde vryheidsregte soos byvoorbeeld vryheid van godsdiens, meningsuiting of demonstrasiereg. Omtzigt wil ook hê dat sosiale grondregte soos die reg op ’n woning, werk en gelyke behandeling getoets kan word.
Dit herinner my aan Ken Loach se uitstekende film I, Daniel Blake waarin die hoofkarakter, ’n Britse timmerman, ná ’n hartaanval vergeefs probeer om ’n staatstoelaag te kry omdat hy nie meer kan werk nie. Uiteindelik verloor hy die stryd teen burokrasie en ’n toespraak wat hy by sy appèlverhoor sou gee, word uiteindelik by sy begrafnis gelees:
“I am not a client, a customer, nor a service user. I am not a shirker, a scrounger, a beggar nor a thief. I am not a national insurance number, nor a blip on a screen. I paid my dues, never a penny short, and was proud to do so. I don’t tug the forelock but look my neighbour in the eye. I don’t accept or seek charity. My name is Daniel Blake, I am a man, not a dog. As such I demand my rights. I demand you treat me with respect. I, Daniel Blake, am a citizen, nothing more, nothing less. Thank you.”
Ons is al so gewoond daaraan dat politici ons teleurstel dat ek selfs met ’n Pieter Omtzigt in die wedren dié verkiesing met versigtige optimisme benader.
Maar vir nou hou ek van sy beleid en ’n aanhaling van die Deense denker Søren Kierkegaard wat hy in die epiloog van sy manifes gebruik:
“Wanneer ’n seeman op volle see is, wanneer alles om hom heen verander, wanneer golwe gebore word en weer sterf, dan rig hy sy blik nie na onder, na die golwe nie, want dít verander. Hy kyk omhoog na die sterre. En waarom? Omdat hulle betroubaar is. Waarmee oorwin hy dus die veranderlike? Met die ewige.”
Mooi naweek
Anesca
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.