Om met ’n skop-graaf of ’n spit-graaf onder die kluite te...

WOENSDAG MET WILLEM

Om met ’n skop-graaf of ’n spit-graaf onder die kluite te beland, dít is die vraag

WILLEM KEMPEN wonder waar ‘calling a spade a spade’ vandaan kom.

Daai ou is dood. Bokveld toe.

Hy het vir oulaas uitgeklok, lepel in die dak gesteek, die tydelike met die ewige verwissel. Hy het die emmer geskop en sy gat gesien. Hy is van die gras af gemaak, nou is hy so dood soos 'n mossie. 

Ons hou daarvan om nuwe maniere uit te dink om dinge te sê wat dikwels gesê moet word, soos wanneer iemand sterf of oor die dood nadink.

Soms is dit oorwoë en diepgaande, soos Shakespeare:

To be, or not to be, that is the question:
Whether 'tis nobler in the mind to suffer
The slings and arrows of outrageous fortune,
Or to take arms against a sea of troubles

Soms spot dit met al dié swaarwigtigheid, soos Spike Milligan:

Said Hamlet to Ophelia,
I’ll draw a sketch of thee.
What kind of pencil shall I use?
2B or not 2B?

Of John Cleese se karakter in Monty Python se papegaai-skets:

'E's not pinin'! 'E's passed on!
This parrot is no more! He has ceased to be!
'E's expired and gone to meet 'is maker!
'E's a stiff!
Bereft of life,'e rests in peace!
If you hadn't nailed 'im to the perch, 'e'd be pushing up the daisies!
'Is metabolic processes are now 'istory!
'E's off the twig!
'E's kicked the bucket,'e's shuffled off 'is mortal coil, run down the curtain and joined the bleedin' choir invisible!!
THIS IS AN EX-PARROT!!

Of Richard Curtis en Ben Elton in Blackadder Goes Forth oor die dag toe Lieutenant George (Hugh Laurie) besef hy is die enigste oorlewende lid van Cambridge se tiddlywinks-span van voor die oorlog:

Edmund Blackadder: Yes, and how are all the boys now?

Lieutenant George: Well, er, Jacko and the Badger bought it at the first Ypres front, unfortunately – quite a shock, that. I remember Bumfluff’s housemaster wrote and told me that Sticky had been out for a duck, and the Gubber had snitched a parcel Sausage-end and gone goose-over-stump Frog-side.

Edmund: Meaning…?

George: I don’t know, sir, but I read in the Times that they’d both been killed.

Edmund: And Bumfluff himself…?

George: Copped a packet at Gallipoli with the Aussies – so had Drippy and Strangely Brown. I remember we heard on the first morning of the Somme when Titch and Mr Floppy got gassed back to Blighty.

(Mens moet natuurlik versigtig wees om dié soort ding nie te ver te vat nie; om nie, soos die Franse sê, “vir Ouma tussen die brandnetels in te stamp nie". Soos die keer toe 'n koerant by die afsterwe van 'n beroemde Suid-Afrikaanse skilder glo amper verklaar het: “Haar kwas is nou vir altyd droog.")

Soms is dit inderdaad beter om die ding op sy naam te noem, “to call a spade a spade and not a shovel".

Maar waar kom dié uitdrukking vandaan, “to call a spade a spade"? En hoekom sou iemand van 'n skopgraaf (shovel) wou praat as hy eintlik 'n spitgraaf (spade) bedoel? Die een is tog nie dieselfde as die ander nie, en ook nie meer beleefd of minder ongeskik nie. En waarom praat ons in Engels van spades in speelkaarte, maar in Afrikaans van dieselfde goed as skoppens?

Die beste verklaring wat ek kon opspoor, is dat die uitdrukking sy oorsprong het in die klassieke Griekse filosoof Plutargos (Plutarch) se Moralia, waarin hy sê “noem 'n vy 'n vy en 'n trog 'n trog”. Albei dié terme is in Plutargos se tyd glo algemeen gebruik as kras sleng vir die vagina, bedoelende nie een van die twee sou sommer in beleefde geselskap geuiter word nie. Toe die Nederlandse humanis en filosoof Desiderius Erasmus in die 16de eeu Plutargos se werk uit die klassieke Grieks na Latyn vertaal het, en dit van daar af weer in Engels opgeneem is, het dit op 'n manier “spades" en “shovels" geword. Dalk was dit 'n vertaalfout, of dalk wou Erasmus self ook nie aanstoot gee deur van 'n vy of 'n trog te praat nie.

As laasgenoemde wel waar is, dan is die uitdrukking “calling a spade a spade" mos juis 'n goeie voorbeeld van “not calling a spade a spade", of hoe?

Of steek die vurk op 'n ander manier in die hef?


Chopin

Frederich Chopin hoes bloed
Hy staan by die venster
Hy skryf 'n prelude
Buite reën dit
Drie-vierslag gly die druppels af teen die glas
George Sand saal 'n mal perd op
sy jaag al om, al om die eiland.

– Jeanne Goosen
(Uit: Het jy geweet ek kan toor?)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.