Ons was die naweek onderweg en het in twee weelderige hotelle tuisgegaan wat swaar dra aan hulle eertydse glorie en glans. Nou is hulle onderrokke effe verslete, maar hulle is steeds statig.
Wat my opval, is hoe die klandisie verander het. Toe ek ’n kind en jonk was, was sulke ruimtes bleek, bedeesd en ingehoue, vol koloniale swier met kerslig en kristal. In die eetsaal was die gaste gedemp en vreugdeloos, soos ons Europese en Britse voorsate mos maar was: stywe bolip, sedig, lag nie hardop nie, lyk nie uitermate beïndruk of vreugdevol oor enige skoonheid of heerlikheid nie.
Hoe anders is dit nou! Die hotelle is lawaaierig, oral klink luide gelag op. In die eetsaal gesels mense oor tafels heen, skep hulle borde boordensvol met uitdrukkings van ekstase, drink hartlik en rumoerig.
Dis asof bleker klante deesdae wegbly, asof hulle soveel uitgelatenheid as barbaars beskou, want wie kan jouself hoor dink? Dit terwyl die bleker etendes in elk geval meestal in stilte stip voor hulle uitgestaar het, besig om ’n klagte te formuleer.
Hoekom? Waar het ons die kind in ons verloor, of is sy vroeg-vroeg versmoor? Sit regop, eet stadig en matig, moenie aan tafel lag of skree nie, moenie lyk asof jy niks gewoond is nie. Stoïsyns is elke tafel ’n eiland, afgesonder in die lamplig.
Onthou, ons is in Afrika en hier word dinge met oorgawe geniet en mense is nie skaam om te wys dat dit wonderlik is om by ’n tafel met gestyfde linne aan te sit en jouself te help aan ’n oorvloedige buffet nie. Wie gee om oor watter mes en vurk om in te span? Ons het ons eie tradisies in Afrika en ons was lank genoeg gekniehalter deur Europese voorskrifte van fatsoenlikheid.
As ’n mens jou innerlike kolonialis oorkom en ontspan, besef jy dis bevrydend. Dis ’n ander kontinent dié, dis vibrant en kleurvol en luid.
Moenie my verkeerd verstaan nie, Afrikaners is plesierig en kan om die braaivure lekker bollas losknoop en naam weggooi. Maar in ’n deftige openbare ruimte is ons geïnhibeerd, wil nie aandag trek nie, wil blasé en alles gewoond voorkom.
Spring jy oor daardie puriteinse hekkie in jou kop en omhels jou vasteland, kan jy opgaan in die rumoerige vreugde van jou landgenote. Ons is nie ’n koue kontinent met min lewensruimte en hordes sosiale voorskrifte nie. Ons is genieters; ons gryp die oomblik soos kinders. Ons skep ruim in en gesels hartlik met iemand aan die ander kant van die vertrek. Ons lag maklik en luid. En dis ’n goeie ding. Ons is openlik opgewonde oor ’n freebie of ’n eet-soveel-jy-wil.
Want dis ons land.
Lente in Albertstraat, Jozi
Lywe bloeisels
uit vensters
herfs te vroeg
in rooi
geel oranje vlamme
Lyfies bot
in skakerings
van rooi
oranje
geel kole
Lakens vertakkende lere
na uitgestrekte arms
Die verraderlike blou maan
’n groeiende geel
oog
Die staatsmanne kom huil
en kyk
en wag
Die owerman ontken
en kyk
en wag
Die godsman bid
en kyk
en wag
Die klawerbordklitsers
blameer en
kyk maar wag
Die wag
red ontredderd
verslane in sy onmag
om volkome te waak
Die verskroeide vreemdeling
skree skor: Hoe lank gaan julle nog
kuikenwag
op
’n
Arabiese lente?
– Marchelle van Zyl, 1 September 2023
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.