Laat die sweep klap

MAANDAG MET MAX

Laat die sweep klap

Die aaklige brand in Johannesburg is 'n metafoor vir die verval in die land. Dit is tyd vir 'n gebreekte-venster-strategie, skryf MAX DU PREEZ.

Ek hou nie van reëls nie. Ek hou nie van roetine nie. Ek hou nie daarvan dat ander mense vir my dink of my aansê om iets te doen of te sê nie. Ek verpes die alledaagse takies.

Ja, ek is 'n onafhanklike gees, 'n vrydenker, 'n rebel.

Dís hoe ek oor baie jare myself aan myself verkoop het. Ek het my swakhede verromantiseer.

Nes ek in my jonger dae en veral die moeilike tye van die oorspronklike Vrye Weekblad my konstante kontantvloeiprobleme tot 'n waarde verhef het. Dit is edel om arm te wees, was my rasionalisering, my beskermende mondering. Sjym, hulle arme ryk mense leef net vir geld.

Ek hou steeds nie van te veel reëls nie en breek dit graag. Ek ly steeds aan wat sielkundiges 'n demand avoidance disorder noem.

En ek voel steeds half jammer vir mense met vreeslik baie geld vir wie geld belangriker geword het as wat dit vir jou kan koop: vryheid; om vry te wees van die daaglikse bekommernis oor of jou begroting jou maand-uit gaan hou, om goed te kan doen wat jou en die mense om jou se lewe verryk.

Maar die krisisse waardeur ek in my lewe is, persoonlik en werksgewys, het my geleer dat wanneer dinge skeefloop, reëls, roetine en dissipline belangrik raak. Dit geld ook die krisisse in die land waarin ek leef.

In 'n krisis is daar nie plek vir die luukses van eksentriekheid, ideologie, nostalgie of die vertroeteling van persoonlike voor- en afkeure nie.

'n Krisis eis daadkragtigheid. Fokus. Gatskop, as dit moet. Die opskort van alewig nice wees, van oordadige raadpleging met ander, van mooipraatjies en oor-filosofering. Soek hard en eerlik na oplossings en implementeer dit genadeloos. Jy kan agterna weer nice wees.

Ek wens ek kon Ramaphosa, sy kabinet en die ANC se nasionale uitvoerende komitee in 'n kamer vaskeer en vir hulle 'n TED-talk daaroor gee. Want ons liewe land, ons stede en dorpe is in 'n ernstige krisis.

Ek sou begin deur James Wilson en George Kelly, twee Amerikaanse akademici van die 1980’s, se broken windows-teorie te verduidelik; gebreekte vensters synde 'n metafoor vir verval in 'n gemeenskap.

Die idee is dat ernstige misdaad en wetteloosheid grotendeels uit wanorde en plaaslike verval groei. Mense voel onveilig en onttrek, en so verswak die sosiale kontroles wat misdadigheid in toom hou. Dit lei tot 'n kettingreaksie.

In 1994 het William Bratton die hoof van die polisie in New York geword en die broken windows-teorie begin toepas – hy het dit net die “quality of life initiative” genoem. Onder Bratton is bedelary, openbare drankmisbruik, prostitute op die strate, anti-sosiale leeglêry en mense wat sonder kaartjies trem gery het, vasgevat. Binne twee jaar is die misdaadsyfer byna gehalveer.

'n Studie wat in 2018 in die Journal of the American Medical Association gepubliseer is, het voorts bevind dat die opruim van leë erwe in Philadelphia tot 'n betekenisvolle toename in die geestesgesondheid en selfrespek van inwoners gelei het. Verskeie ander studies, ook uit Europa, het al bewys dat gemeenskappe in skoon omgewings hulle buurte skoon hou, maar mense in buurte met vullis op straat maak dit net nog vuiler.

In Marshalltown in Sentraal-Johannesburg het 75 mense Donderdag 'n aaklige vlammedood gesterf toe die gebou waarin hulle geplak het, uitgebrand het. Daar is honderde sulke geboue in Johannesburg en 'n hele klompie in Durban en Pretoria.

Ek het in die 1970’s en 1980’s graag in die Johannesburgse middestad uitgehang en in klein, outentieke restaurante in die agterstrate geëet. Ek het lank in Yeoville gebly en baie in Hillbrow gekuier. Vrye Weekblad se kantoor was in Breëstraat in Newtown, naby die Markteater. Dit was my hood.

Maar die laaste drie dekades het ons opgehou om die reëls toe te pas, gedragsreëls én munisipale ordonnansies. Mense wat dit geëis het, is weggeklap met die beskuldiging dat hulle nostalgies vir die ou orde is – julle moet vrede maak dat dit Afrika is, is vir hulle gesê. (Gaan sê dit tog vir die stadsvaders en -moeders van Windhoek en Kigali.)

En nou is die binnestede van al ons metro’s – buiten Kaapstad – plekke wat so gevaarlik en chaoties is as die berugte onderdorpe van Tijuana in Mexiko, Lagos in Nigerië of Caracas in Venezuela.

Dié verval is 'n metafoor van wat regdeur ons land gebeur: skole, hospitale en klinieke, rioolwerke, strate, paaie en ander infrastruktuur, treinpendeldienste, spoorvragvervoer en hawens, watervoorsiening, openbare ondernemings, stadsrade en staatsdepartemente.

Ons pas lankal nie meer die reëls toe nie. Amptenare en polisiemanne/-vroue vee hulle aan hulle take af en hulle base speel politieke magspeletjies of bestee hulle energie aan selfverryking.

Hoekom lyk Kaapstad en die Wes-Kaap anders? Omdat die stad en die provinsie se regeerders die wet en die reëls toepas. Omdat hulle die gebreekte vensters regmaak. Ver van volmaak, maar strate beter as enige ander owerheid.

Suid-Afrika is na aan bankrot – die nasionale tesourie het dit die naweek self in 'n omsendbrief bevestig.

Ons kan dus nie ons vele probleme en krisisse met groot bedrae geld oplos nie. Wat ons wel kan doen, is om elke rand twee keer om te draai en te sorg dat elke amptenaar doen waarvoor ons as belastingbetalers hom/haar betaal om te doen. Om die algemene effektiwiteit van die staat met 200% te verbeter.

En die wette van die land meedoënloos toe te pas.

Dis gatskop-tyd. No-more-Mr.-Nice-guy-tyd. Reg-of-weg-tyd.

Laat die sweep klap!

Max


Voices in the air

People do not pass away. 
They die
 and then they stay.

– Naomi Shihabnye (uit die bundel Voices in the Air)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.