Lente en liefde

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Lente en liefde

'n Onderhoud wat sy hierdie week gedoen het, het ANNELIESE BURGESS laat besef dat ons nie skaam moet wees om vir die liefde op te staan nie.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Dit is amptelik lente. En hier in die Oos-Kaap beteken dit die koraalbome staan in vlamme en die manjifieke Stereospermum kunthianum of pienk jakaranda in my buurman se tuin swaar dra aan sy bloeiselwolke. Die stuitigheid hou net vir 'n week of twee, dan is die boom ewe skielik weer sy gewone, wye, statige, stil ooparm-mooi.

Ek stap nou al 'n paar dae met 'n ding in my kop ná my gesprek hierdie week met Erwin Schwella van die Skool vir Sosiale Innovasie by die Hugenote Kollege. In 'n stadium sê die vername professor vir my: “Ons moet meer praat oor die liefde. Liefde is belangrik."

Dit was in die konteks van die empatie wat hy so dikwels onder Suid-Afrikaners opmerk by die projekte waarby hy betrokke is. 


Daar was 'n tyd dat die filosofie van liefde 'n onderwerp was vir die groot mense van idees, soos die psigo-analis en sosiale filosoof, Erich Fromm, wat verbonde was aan die Frankfurt School of Critical Theory. In 1956 skryf hy The Art of Loving, waarin hy die konsep van liefde en die belangrikheid daarvan vir die menslike lewe ondersoek.

Ek het die boek meer as 30 jaar gelede gelees. In Duits nogal, want dit was op 'n lang leeslys wat my eksentrieke Duitse peetma, Dietgart, my laat deurwerk het toe ek vir 'n jaar gereeld by haar aan huis gekom het. (Sy't my ook ook onder meer Winnie Mandela se biografie laat lees – wat toe nog in Suid-Afrika verban was – en aangedring dat ek my drome elke oggend neerskryf as ek wakker word en dan het sy dit by die ontbyttafel uitgelê). 

Fromm het 'n groot indruk op my jong gemoed gemaak: Love is the only sane and satisfactory answer to the problem of human existence,” sê hy.

Die bekendste aanhaling uit die boek is:

“Infantile love follows the principle: ‘I love because I am loved.’
Mature love follows the principle: ‘I am loved because I love.'
Immature love says: ‘I love you because I need you.'
Mature love says: ‘I need you because I love you.'"

En terwyl hy in die betekenis van interpersoonlike liefde gedelf het, het hy die konsep op so 'n elegante manier wyer bedink:

“Nationalism is our form of incest, is our idolatry, is our insanity. ‘Patriotism' is its cult ... Just as love for one individual which excludes the love for others is not love, love for one's country which is not part of one's love for humanity is not love, but is idolatrous worship.”


Dit voel vir my vandag asof die onderwerp van liefde iewers gekaap geraak het deur die selfhelp-genre – daardie hoekie in die boekwinkel waar jy vir eenvoudige antwoorde op diep vrae gaan soek. En dit is miskien hoekom ek so verbaas was dat ek die woord uit die mond van 'n sakeskool-professor gehoor het. En dit my so bly gemaak het. Ek stem saam. Kom ons praat meer oor die liefde.

En kindness (ek sukkel steeds met 'n Afrikaanse woord wat die essensie van dié woord vasvang). En respek vir ander. En empatie. Al daardie oud-modieuse waardes wat van die wêreld 'n beter plek maak. 

Daarmee groet ek.

Salige Sondag

Anneliese


Birds of a Feather

I like the black keys better
I like the lights turned down low
I like women who drink alone
While I hunch over the piano
Looking for all the pretty notes

– Charles Simic (uit die bundel Come Closer And Listen)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.