Hollandse manne, Thaise bruide en eie menings

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Hollandse manne, Thaise bruide en eie menings

ANESCA SMITH skryf oor ’n bedryf waarin vroue en minderjariges uitgebuit word en ’n man wat sê as hy dit nie doen nie, sal iemand anders wel.

Image: ANGELA TUCK

Dagsê

Hiervan kry jy ook nie ’n hoër dunk van die wêreld nie, Smitter, sê ek vir myself terwyl ek kyk hoe ’n 83-jarige oupa – mét kierie – wegskuifel met ’n 20-jarige Thaise prostituut aan die arm.

Ek kyk ’n dokumentêre program oor Hollandse manne wat Thaise bruide soek in die stad Pattaya. Nie dat ek glo daar is veel sprake van ware liefde nie, want Pattaya is berug as ’n seksparadys vir veral Europese, Amerikaanse en Australiese mans. Hul leeftyd wissel van middeljarig tot hoogs bejaard.

“Ja,” bevestig een sestiger, “as ek in Nederland ’n verhouding begin met ’n vrou wat soveel jonger is as ek, sal dit natuurlik vir groot ophef sorg.”

Maar waarom nie ’n Nederlandse vrou van sy eie leeftyd soek nie?

Hy waai dié voorstel weg. “Dít is vra vir probleme. Hulle kom almal met bagasie. Hulle het óf kinders óf sit diep in die skuld. Ek het nie lus vir dié soort drama nie.”

Tot in die 1960’s was Pattaya nog ’n nederige vissersdorpie. Een man vertel dat tydens die Viëtnamese oorlog Amerikaanse soldate met posttraumatiese stres eers hierheen gestuur is om te rus en tot hul sinne te kom voor hulle terug Amerika toe gepos is. Dis in dié tyd dat meisies van oral in die land na Pattaya begin kom het om geld te verdien.

Die vrolike 83-jarige klant wat die programmaker aanvanklik by ’n kroeg raakloop, word gevra of hy soms van die meisies huis toe neem.

“Ja-haaaa,” bevestig die oom.

Maar bepeins hy ooit die feit dat dié soort lewe miskien aaklig is vir die meisies?

Hy haal argeloos sy skouers op: “Nee. Dit gaan oor geld.”

Image: ANGELA TUCK

Daar word ook met die eienaar van die kroeg gepraat waar, behalwe om ’n biertjie te drink, ook ’n meisie vir ’n uur of twee gehuur kan word. Die Nederlandse sportliefhebber is duidelik sy teikenmark. Al die meisies het vanaand truie van die Rotterdamse voetbalklub, Feyenoord, aan. Almal is beskikbaar om gehuur te word behalwe daardie een agter die toonbank, beduie die man. “Dit is my vrou.”

Hoe het hulle ontmoet? Hy was eers haar klant en het toe ná ’n tyd besluit om met haar te trou. Sy verskoning oor waarom hy deelneem aan ’n bedryf waarin veel vroue en minderjariges uitgebuit word? “As ek dit nie doen nie, sal iemand anders dit wel doen.”

Uit die program word dit duidelik dat die meeste van die meisies uit armoedige omstandighede kom, dikwels van die platteland en deur dié soort werk hulle familie onderhou. Sterker nog, hulle familie moedig hulle soms aan om tot die seksbedryf toe te tree. Een meisie met ’n kindergesiggie vertel hoe haar suster haar na Pattaya laat kom het. Sy het seks met tot 10 manne per dag.

In die loop van die program duik daar wonder bo wonder tog mans op wat skynbaar na ware liefde op soek is. Daarvoor word nie in die strate van Pattaya gedwaal nie, maar klop hulle aan by agentskappe met vele vroue op die boeke. Dié soort meisies is hoogs opgelei, welbespraak en het hul eie mening oor sake.

Een van hulle word gevra waarom hulle nie in Thaise mans belangstel nie. “Baie Thaise mans verwag nog dat jy onderdanig moet wees. Dat jy ’n paar treë agter hulle moet loop. Ek wil my eie lewe bepaal en nie voorgesê word wat om te doen nie. Ek het ook ’n mening.”

Sy staan op die punt om met ’n 66-jarige Nederlander op ’n date te gaan. Die man was al voorheen met ’n Thaise vrou getroud en soek nou ’n ander.

As hy van stryk gebring is deur die feit dat sy, en die ander vroue met wie hy op ’n date gaan, soveel sterk menings het, laat hy niks blyk nie.

Mooi naweek

Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.