Skaam jou as jy nie weet wie MrBeast is

WOENSDAG MET WILLEM

Skaam jou as jy nie weet wie MrBeast is

WILLEM KEMPEN wonder wat gaan gebeur as 'n YouTuber met die naam MrBeast politieke ambisies sou ontwikkel.

Ek is eerste op die lys van skames – ek het die ander dag vir die eerste keer gehoor van dié outjie van Noord-Carolina wie se regte naam Jimmy Donaldson is.

Rede? Wel, soos 'n krimpende aantal mense steur ek my nie gewoonlik veel aan die wêreld van “influencers” en “content creators” nie, en ook nie aan mense wat afwykend spel of punkteer wanneer hulle besluit onder watter naam hulle beroemd wil word nie.

Dis 'n fout, want mense soos Donaldson maak wel saak, al is dit net omdat baie ander mense so dink: MrBeast is nommer twee op die lys van gewildste YouTube-kanale, met 181 miljoen intekenare laas toe ek gekyk het, en hy het ook nog 'n paar kleiner kanale. Hieruit het hy al klaar 'n fortuin gemaak, en toe het hy boonop sy winste slim belê om 'n sakeryk op te bou wat volgens sommige ramings meer as $1,5 biljoen werd is. Dit sluit in MrBeast Burger en 'n eetgoed-besigheid genaamd Feastables, waar jy gevra word om te TASTE DEEZ NUTZ, want hulle is DELICIOUS AF.

Donaldson weet hoe om homself te bemark, hy verstaan wat sy kykers wil sien, en hy is bereid om enorme bedrae geld te belê om die een skouspel ná die ander te vervaardig en kykers te laat deel in sy fortuin.

In 2021 het hy byvoorbeeld sy eie weergawe van die Suid-Koreaanse reeks Squid Game gemaak. Real Life Squid Game” se enkele aflewering is 25 minute lank, maar het $3,5 miljoen gekos om te vervaardig (insluitend prysgeld van meer as $456 000). Daarenteen het Netflix 'n totaal van $21,4 miljoen betaal vir die werklike Squid Game se nege episodes, wat uitwerk op net sowat $1,2 miljoen per halfuur.

'n Paar van die titels op MrBeast se kanaal vertel die verhaal: “Lamborghini versus Schredder"; “Train versus Giant Pit"; “Last to leave Circle wins $500 000".

Maar so twee weke gelede het hy ook een gemaak met die titel “Every Country on Earth Fights for $250 000", wat uit 'n paar ongewone oorde aandag getrek het. Die TechCrunch-joernalis Morgan Sung sê dié video is 'n “geopolitieke nagmerrie" wat wys hoe onkunde dit kan laat lyk of jy kant kies in 'n internasionale dispuut. Onder die verteenwoordigers van “elke land in die wêreld" is daar byvoorbeeld iemand uit Hongkong, wat deel van China is, maar niemand van Taiwan en Tibet nie – albei dié lande is volgens MrBeast se kaart van die wêreld óók deel van China.

Sy kaart beeld plekke soos Amerikaanse Samoa, Bermuda en Puerto Rico as onafhanklike state uit, om nie te praat van selfs groter flaters met Palestina en die Wesoewer of die twis oor Wes-Sahara nie. En hoewel hy net een deelnemer uit die afsonderlike twee Koreas genooi het, wys die kaart duidelik die 38ste breedtegraad as die grens tussen die twee lande.

Die selfs groter probleem, soos Sung ook uitwys, is dat mense soos MrBeast en besighede soos Google Maps belangriker word in die internasionale politiek. Maps het byvoorbeeld net ses weke ná Putin se anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014 reeds aan gebruikers in Rusland en Oekraïne twee verskillende grense tussen die twee lande gewys – elkeen soos dit plaaslik die gewildste sou gewees het.

En as 'n laaste (en moedswillige) gedagte: MrBeast is beslis nie net in die VSA gewild nie, maar 181 miljoen (intekenare) is meer as die aantal Amerikaners wat in 2020 vir Biden en Trump sáám gestem het.

SCARY AF, sou ek sê.


Wail

for the young who ask, “How did you learn to like yourself?”

There are glaciers, imposing, yet shrinking.
There is the iris, violet sky cradling shards of sun.
The white Bengal tiger, snow and black ink.
Infinite reasons I could give for gladness,

though none may salve the wound from which
your question arises, how to be glad to be alive?
Stitch your heart’s fissure: recall family, friends,
a slap, cigarette burn, the rod, something smashed 

down, or welled up in your darkened pupil.
Turn outward: two A.M. streets, the creeps in cars,
the chaos of human folly delivered by calm,
coiffed news anchors. The wound is within you

and not. The answer within you and not.
Want, comfort, desire, love ought not be wounds.
We pine for them from our first wail,
what you must give and take, till no voice is left.

– Johnson Cheu

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.