Klein gesprekke oor groot goed

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Klein gesprekke oor groot goed

ANNELIESE BURGESS deel 'n lukrake lys van 15 alledaagse gelukkighede en 'n gunsteling-gedig.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Dit storm hier. Ek lê in my bed en kyk hoe die dag stadig deur die venster breek. Eers 'n ragfyn borduurwerk van die fyn boomtoppe wat teen die lig sigbaar raak. Maar uiteindelik 'n bewegende skildery van woeste groen hale teen die opkomende son. Die wind is vanoggend so wild dat selfs my vroegoggend-vriende, die trop hiperaktiewe blou apies, iewers wegkruip.

Naweke stap ek saam met my vriendin Emma. Ons Vrydagroete neem ons padlangs, seelangs, boslangs, strandlangs, tot by die rotspoel waar ons hierdie week vinnig met die honde geswem het. Saterdae en Sondae doen ons die moeiliker kringloop op 'n naburige boer se plaas. Sonbesies en nukkerige Nguni-beeste. Bloekombome. Vee. Dammetjies met waterlelies. En my gunsteling-deel – die ruie bos langs die Gonubierivier. (Vandag, met dié wind, gaan ons beslis nêrens heen nie).

Ek hou van die stille kameraadskap van ons stappery. Maar ook die tipe geselse wat mens het as jou gemoed deur vars lug oopgewaai word. Klein gesprekke oor groot goed. Ons gesels gister oor momente van geluk. En alledaagse plesiere.

Hier is my (redelik lukrake) lys:

#1. 'n Onverwagse oomblik van medemenslikheid.
Ek moes hierdie week gaan toustaan by binnelandse sake. Dis 'n deurmekaarspul. Niemand weet waar die ry begin en eindig nie. Ek besluit die enigste manier deur is Zen.

Ek word uiteindelik geroep deur die man wat my aansoek hanteer het en wat ek onthou, omdat ek hom as ongelooflik nors en ongeskik ervaar het. My hart sak in my skoene. Maar my sertifikaat is gereed! Nors-man sê ek moet kyk dat die details korrek is. Ek sien my ma en pa se name. In hoofletters. Dit slaan my ewe skielik in die maag. Albei van hulle is nou weg. Ek wil nie huil nie, maar ek kan dit nie keer nie.

Nors-man vra of daar fout is met die dokument? Ek hoor hoe ek vir hom sê ek verlang maar net na my ouers. Hy steek sy hande uit. En vou my hande in albei syne. En vra of hy vir my kan bid. My isiXhosa is net goed genoeg dat ek verstaan hoe hy vra dat “die Here van ons almal, hierdie ‘suster van my' se seer hart moet help genees". Joe. Soms doen hierdie land diep dinge aan 'n mens. Soms in die mees onverwagte plekke.

#2. Die reuk van lakens wat in die son droog geword het.

#3. Wolke kyk. Dit is duidelik nie net ek wat daarvan hou om op my rug te lê en na wolke te kyk nie. Die Cloud Appreciation Society het wêreldwyd byna 50 000 lede wat na hulleself as “cloud spotters" verwys. Hulle manifesto lui: “We believe that clouds are for dreamers and their contemplation benefits the soul." Ek is met hulle.

#4. Gedigte.
Ek het 'n paar jaar gelede afgekom op 'n gedig deur May Sarton (ek deel dit hier onder) en dit het my teruggebring na die wonder van poësie. Maria Popova, die skrywer van die nuusbrief The Marginalian (ek dink dit is hoeka waar ek Sarton se gedig raakgelees het) sê iets oor poësie wat vasvang hoe ek ook voel: “I have come to see that while poetry may be a language for the silent places in us, it is also a language of connection – a way of finding the intimate in the universal and the universal in the intimate."

#5. Om met iemand (wat jou hart sag maak) in die bed te lê en geselsies te maak in die donker.

#6. Reën.
Sagte reën op die dak. Stormreën teen die venster. Die reuk van reën wat kom. Die reuk van nat grond. Stap in die reën. Alles oor reën is vir my 'n gesang van die hart.

#7. Om te ry met oop vensters in plaas van lugreëling.

#8. Storms. Wilde, donker, stormagtige see. Woedende branders wat soos glas teen die rotse breek. Die gevoel van knusheid as jy (gelukkig genoeg is) om voor 'n kaggel te kan wees en die wildheid vanuit 'n warm stilte te kan ervaar.

#9. Om iemand se hand vas te hou.

My eerste lenteblomme.
My eerste lenteblomme.

#10. Blomme.
Die jasmyn is verby, maar my eerste papawers blom. En 'n hele ry pienk ranonkels. En 28 van my dahlias het kop uitgesteek. Vandag plant ek my groot nuwe sonneblombedding en tussen die rye wil ek die (geel en oranje!) kosmossade gebruik wat ek onlangs present gekry het. 

#11. Voëls.
Van my stoep af kan ek die waterbakke dophou wat ek in my tuin vir die voëls uitgesit het. Ek is mal oor hulle almal, maar my twee gunstelinge op die oomblik is die vet vleiloerie wat saans in die tuin kom rondploeter en die pikswart vlieëvangertjie wat lyk soos 'n stuk steenkool met 'n vierkantige stert. En die kwikstertjie wat nou al twee jaar lank 'n nessie in die blombak op die stoep het, se kuikens het so pas uitgebroei.

Die kwikstertjies se nes.
Die kwikstertjies se nes.

#12. Vlamme.

'n Vuur. Enige soort. Enige plek. En kerse. 

#13. Om my langeraat-dogter steeds in haar nek te soen.

#14. Tee. In 'n teepot. Met 'n mooi koppie. Op 'n skinkbord. Met 'n lappie. En melk in 'n bekertjie. Of in 'n fles. Vir drink iewers tussen die duine met 'n uitsig oor die see. Of op langpad-pieknieks.

Tee.
Tee.

#15. Kombuis. Om vir ander mense kos te maak is een van my grootste vreugdes. En dit is wat ek vandag gaan doen, want vanaand het ek lang tafel met vriende en familie. Die heel beste manier om 'n naweek af te sluit.

Daarmee groet ek. Salige Sondag.

Anneliese


All day I was with trees

Across wild country
on solitary roads
Within a fugue of parting,
I was consoled
By birches' sovereign
whiteness in sad woods,
Dark glow of pines, a single
elm's distinction –
I was consoled by trees.

In February we see the
structure change
Or the light change, and so
the way we see it.
Tensile and delicate, the
trees stand now
Against the early skies, the
frail fresh blue,
In an attentive stillness.

Naked, the trees are
singularly present,
Although their secret force
is still locked in.
Who could believe that the
new sap is rising
And soon we shall draw up
amazing sweetness
From the stark maples?

All day I was with trees, a
fugue of parting,
All day lived in long cycles,
not brief hours.
A tenderness of light before
new falls of snow
Lay on the barren landscape
like a promise
Love nourishes every vein.

– May Sarton 

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.