Wie is erger base – mans of vroue?

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Wie is erger base – mans of vroue?

Sy het besluit sy is eerder werkloos as dat sy peanuts betaal word en vir ’n vernederende boelie werk wat haar gaslight en in haar eie vermoëns laat twyfel, sê ANESCA SMITH.

Image: ANGELA TUCK

Dagsê

Twee jaar gelede is ek op ’n road trip saam met my familie na Namakwaland toe ek kort voor Vanrhynsdorp langs die pad aftrek, my foon uithaal en op daardie klein skermpie my bedankingsbrief tik.

Ek werk toe al sewe jaar as skrywer by ’n goor Britse akademiese instelling in Nederland wat peanuts betaal aan sy (hoofsaaklik) internasionale werknemers en waar jy ’n taaklys so lank soos die Dooie Seerolle had.

Maar die ergste van alles was my Chinese baas, ’n boelie van ’n vrou. En soos ek altyd aan my vriende gesê het: Ek glo nie Nelson Mandela het 27 jaar in die tronk gesit net sodat ek in Nederland deur ’n Chinees onderdruk kon word nie.

Tog bly ek sewe jaar al was daar eintlik al vanaf die eerste dag red flags toe sy my sewe keer ’n artikel laat oorskryf het. (Komende van iemand wat nooit kon verstaan waarom ek meer as 20 minute nodig het om ’n nuusberig te skryf nie “want waarom kon ek nie net copy en paste van ander mense se werk soos die Chinese nie”.)

Wat ook nie my vertrek bespoedig het nie, was dat ek al ná ’n paar weke van vernedering myself begin bevraagteken het. Gaslighting, soos dit deesdae heet. Kan ek wel die werk doen? Is ek nie te sensitief nie? Miskien is ek regtig te lui of te dom.

Nadat ek my bedankingsbrief getik het, oorspoel ’n gevoel van verligting en geluksaligheid my. Al het ek toe eintlik geen idee gehad hoe en óf ek ’n sukses van my onderneming sou maak nie. Ek sou wel later deeglik ’n prys betaal vir my planloosheid, maar spyt oor my besluit sal ek nooit wees nie.

Image: ANGELA TUCK

Ek dink dit was waarskynlik in hierdie emosionele tydperk dat ek besluit het ek wil nooit weer ’n vrou as ’n baas hê nie. Wat natuurlik onsin is, want as ek na my werkgeskiedenis kyk, was daar ongeveer ewe veel mans as vroue wat slegte base was.

Een van die mans – ’n nuusredakteur wat jou gereeld verneder en in trane laat uitbars het in sy kantoor, net om jou die volgende keer te oorspoel met komplimente – staan tans tereg op aanklagte van seksuele aanranding in die Kaapse streekhof.

In teenstelling was my eerste redakteur by ’n afdeling van Die Burger, Mercy Morkel, ’n droom om voor te werk. Sy was die persoon wat my ’n stewige grondslag in joernalistiek gegee het en net die regte hoeveelheid sturing sonder om jou te laat voel dat jy ge-micro-manage word. Maar die beste van alles, ’n kalm persoonlikheid midde die ergste krisis.

Verskeie studies het al getoon dat selfs onder vroue verkies die meerderheid ’n man as baas.

Sou dit daarmee te make hê dat ons vroue harder oordeel as mans? Ná my slegte ervaring met my vorige baas het ek besluit ek wil nie onder ’n vrou werk nie, maar dit was nie die geval ná my slegte ervaringe met mans as base nie.

Ander vroue saam met wie ek al gewerk het, meen daar is ’n sekere mededingendheid onder vroue vir ’n beperkte aantal poste aan die top. My vorige baas – wat ek nog gereeld op LinkedIn sien – het altyd min empatie gehad met ander vroue in die algemeen en hul stryd in die werkplek. Haar houding was dat vroue minder moet kla en skouer aan die wiel moet sit.

Ek is nog ’n solo-ondernemer, maar dit laat my wel wonder (met ’n bietjie vrees) watter soort baas ek sal wees as ek wel werknemers begin in diens neem. Wat ek wel weet, is dat dit meer as net jou geslag is wat bepaal watter soort leier jy is. Kultuur, ervaring, persoonlikheid en opvoeding speel ook ’n groot rol.

Mooi naweek

Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.