Ken jy die see, meneer?

MAANDAG MET MAX

Ken jy die see, meneer?

MAX DU PREEZ sê hy is behep met die see, maar terselfdertyd doodbang.

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy lyk nou soos jou voorstoep blinkgeskuur
en kalm soos min dinge hier benee,
maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur.

Uys Krige

Ek is behep met die oseaan, maar terselfdertyd doodbang. Ek wil dié vrees in die komende somer oorkom.

Ek het op die haai vlaktes van die Vrystaat grootgeword. Die jaarlikse hoogtepunt (naas Geloftedag se boeresport) was om net voor Kersfees Margate of Amanzimtoti toe te gaan.

Dit was 'n ritueel wat ek seker is baie ander binnelandse families ook beoefen het: Watter kind sien die see op die horison die eerste, op die afdraande pad tussen Pietermaritzburg en Durban?

Ons kinders het ons dae in die louwarm branders deurgebring, gesigte en skouers witgesmeer met sonblokroom. Swem net agter die branders, ry die golwe met ons lywe. Dieper het ons nooit gegaan nie, want: haaie.

Ek dink ek het toe al gedroom om eendag by die see te woon. Nie soos in 'n stad by die see nie, soos in reg by die see. Loopafstand, met 'n uitsig oor die water. Die Bo-Kaap en Rondebosch waar ek lank gewoon het, het nie getel nie.

Vier jaar gelede het ons Simonstad toe getrek. Ons huis half teen die berg op het 'n pragtige uitsig oor die hele Valsbaai. Ek is 'n kort stappie weg van die beroemde pikkewynstrand. Droom verwerklik.

Maar is dit?

Ek is bang vir die see, vir seestrome en haaie. Ek onthou Uys Krige se gedig al van kinderdae af. En die water hier is bitter koud. Ek is nie 'n vriend van koue nie.

Ek het 'n hele klomp vriende en kennisse hier in my buurt wat weekliks in die koue water gaan swem. Somer en winter, sonder duikpakke. Soms 11 of 12°C. Hulle is soos evangeliste oor die impak daarvan op hulle fisieke en geestesgesondheid.

Ek sê nou al drie jaar lank: Wag vir die somer, dan kom swem ek saam. Nou ja, dié somer gaan ek dit laat gebeur.

Maar al kom ek nie baie in die water nie, belewe ek die see. As ek in die oggend my oë oopmaak, lig ek my kop en kyk oor die baai uit. My kantoor langs my huis het 'n glasmuur wat oor die see uitkyk. Ek drink my koffie en sou nou en dan 'n whisky op my dek en staar oor die water.

Ek het 'n obsessiewe walviskyker geword. Daar is 'n hele klomp mense wat blykbaar hulle dae met verkykers deurbring. Ek is deel van 'n WhatsApp-groep waar mense laat weet waar walvisse of skole dolfyne in Valsbaai te sien is. Ek gryp dadelik my verkyker; soms ry ek selfs nader aan Kaappunt of oor die heuwel Scarborough of Kommetjie toe as daar nuus van walvisse naby die kus is.

Gewoonlik sien ek net die groot lywe in die water en die spuit as hulle asem uitblaas, meer elke nou en dan sien ek 'n stert wat uitsteek of op die water slaan, twee keer die laaste jaar ook 'n walvis wat uit die water duik.

Dit is 'n spesiale, onvergeetlike ervaring.

Image: DAVE HURWITZ

Eergisteroggend kom die boodskap deur: orkas naby die Glencairn-strand. Binne minute sien ek die pragtige, vreesaanjaende wit-en-swart lywe sowat 'n kilometer ver. Dieselfde twee orkas kom jaar ná jaar 'n draai hier maak: Port en Starboard heet hulle. Hulle het al die withaaie in Valsbaai verjaag.

As so 'n boodskap deurkom, vat dit net 'n paar minute voor ek Dave Hurwitz van die Simon’s Town Boat Company uit die hawe onder my huis sien uitvaar om die walvisse van nader te beskou. En kort daarna deel hy van sy foto’s op Telegram of Facebook (www.boatcompany.co.za).

Saans lê ek in die bed en dink aan die groot walvislywe in die water hier naby: Bryde se walvisse, boggelrûe, suidelike noorkappers (southern right whales). Dit kalmeer my, bring perspektief: Hoe rof dit ook al met my en my land gaan, die natuur gaan sy gang. Ons planeet is 'n wonderlike plek.

Ek kuier ook gereeld op happywhale.com. Elke walvis in die wêreld se oseane het hulle eie kenmerkende kleure en patrone op hulle sterte en word aangeteken wanneer iemand 'n foto van die stert aanstuur; elkeen kry 'n nommer. Een van die walvisse wat laas jaar hier in Valsbaai was, is byvoorbeeld onlangs aan die ander kant van Madagaskar gesien.

Teen gister is 100 974 individuele walvisse so geïdentifiseer, met duisende foto’s van walvissterte wat jaarliks ingestuur word.

In die somer is dit meer dolfynsoektyd. Daar is iets manjifieks aan 'n skool van letterlik honderde van dié stroombelynde blink lywe wat teen 'n spoed na 'n skool visse swem.

Maar nou het dit tyd geword om my lyf ook deel van dié wonderwêreld te maak. Ek sal maar met 'n duikpak begin.

Die internasionaal bekroonde dokumentêr My Octopus Teacher is net om die draai van my huis deur 'n mede-Simonstadter gemaak. Ek móét die seewierwoude waar die seekatte boer, van naderby gaan beskou. Kyk hierna: My Octopus Teacher | Official Trailer | Netflix - YouTube

Maar ek gaan baie versigtig wees. Ek is net laas week aan die gevare van die see herinner toe drie bemanningslede van die duikboot Manthatisi in Kommetjie se baai gesterf het: lt.kdr. Gillian Hector, MAO William Mathipa en AO1 Mmokwepa Mojela. Daar is steeds ‘n somber atmosfeer in my dorp/woonbuurt oor dié tragiese lewensverlies.

Ken jy die see, meneer?

Max


Ken jy die see

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy lyk nou soos jou voorstoep blinkgeskuur
en kalm soos min dinge hier benee,
maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur.
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur ...

Wat van die storms wat nooit ophou raas?
Jy sit pal in jou kliphuis, kalm en guur,
en hoor die wind al woester, wreder blaas.
En daar’s geen sprokkel hout meer vir jou vuur.
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Was jy al van jou bootjie soos 'n veer gevee
deur 'n grys golf hoog soos 'n tronk se muur.
Wat help dit om te spartel en te skree: “Nee! Nee!”
sluk jy eers daardie waters sout en suur?
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur...

Sien jy die krom ou vroutjie daar, mevrou Mathee,
wat telkens ver, vér oor die golwe tuur?
Sy dink dié briese bring haar seuns betyds vir tee.
Hul slaap al drie agter die kerkhofmuur.
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur ...

Uys Krige

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.