Goeiemôre
Die gesprek begin gewoonlik op ’n vrolike noot, onbewus van wat kom: “Het jy kinders, Anesca?”
Ek oorweeg die vraag. As ek sê nee, is daar opvolgvrae soos: “Maar wil jy nie kinders hê nie?”
So daarom trek ek maar die pleister vinnig af: “Ek het ’n dogter gehad, maar sy is dood.” Stop.
As ek mense vertel dat my kind dood is, hou ek dit kort en terloops.
Nie omdat ek nie daaroor wíl praat nie, maar omdat dit dikwels so ongemaklik is vir die ander party. Ná ’n paar tellinge van afgryse kan jy dit eintlik al op hulle gesigte lees: “Is daar nie ’n meer gesellige gespreksonderwerp nie?”
Miskien weet mense nie wat om te sê nie. Of miskien is hulle bang mý ellende is aansteeklik en iets vreeslik kom hulle óók oor. Soos my vriendin, swanger ’n paar maande ná my kind se dood. Op ’n dag stuur sy my ’n WhatsApp om te vra waar ek is. Ek skryf dat ek besig is om ’n grafsteen uit te soek, want dit is waar ek my op daardie oomblik bevind het.
Ná ’n paar minute kom die antwoord: “Kan jy asseblief nie oor jou dogter praat nie? Jy dra jou slegte vibes oor aan my kind.” Ek probeer myself troos dat haar hormone waarskynlik op loop is, maar dit maak dit nie minder pynlik nie.
Hoewel die dood alomteenwoordig is, bly dit vir vele mense ’n moeilike gesprek om te voer. En met die dood van ’n kind is dit selfs meer van ’n taboe. Vra maar al die vroue wat al miskrame gehad het. Jy verval heeltemal in eensaamheid.
Ek onthou my eerste dag terug by die werk. Mense loop met ’n boog om my heen. My (Britse) baas steek sy kop by sy die deur in. “Okay, Anesca?” Voor ek kon antwoord, is hy al weer woerts die gang af. Weg.
Godverdomme, was dié dag ’n nagmerrie. Ek wou heeltemal nie daar wees nie, maar my kind was nog nie in die grond nie toe kom HR al op besoek. Ná ’n beleefde oor-en-weerdery kom die vraag:
“Wanneer dink jy dat jy weer terug werk toe kan kom?”
In my verwarde gedagtes onthou ek iemand het my een keer gesê harde werk help teen hartsverdriet. So ek sê: “Ek weet nie. Twee weke?”
“Maar kan jy nie intussen uit jou bed werk nie?”
Jy sou dink ná die traumatiese corona-tydperk dat die dood meer bespreekbaar sou word. Die dood het immers ’n hoofrol gespeel. Dit was nie meer net op die randjies van die samelewing in hospitale, tehuise vir bejaardes en hospices nie, maar massaal teenwoordig in ons sosiale kringe, ons werk, ons strate, ons huise.
Maar dit lyk of ons ongemak oor die dood net groter geword het. Hardnekkiger. Liefs wil ons so gou moontlik aanbeweeg na vroliker onderwerpe.
Ons vrees die dood en die lydensweg daartoe – ons eie, maar dié van ons geliefdes miskien selfs meer. Dit help nie as ons ook ’n vrees het om daaroor te praat nie. Nie elke dag nie. Net meer.
Groete
Anesca
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.