Oor die Springbokke en traffic cops

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Oor die Springbokke en traffic cops

ANNELIESE BURGESS is ondanks haar effense rugbybabbelas opreg dankbaar vir die balsem wat die Springbokke se sukses vir ’n nerfaf nasionale psige geword het. Sy skryf ook oor gewone Suid-Afrikaners se goedheid, en deel ’n gedig.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre 

Ek het my stem weggeskreeu gisteraand. En ek’s ook minstens twee jaar ouer as wat ek gisteroggend was. En ek het ’n fyne, kleine babbelas. Kollega Jeff Rankin het beheer verloor oor die diepte van die doppe wat hy gegooi het soos wat die wedstryd se minute begin aftik het (en die res van ons nie meer omgegee het wát ons drink nie, want ons senuwees was so op).

Daar is ’n magic aan Siya Kolisi en Rassie Erasmus en Jacques Nienaber se rugbyspan wat veel dieper as rugby lê. Ons het dit al baie gesê. Hulle sukses is balsem vir ons nerfaf nasionale psige. Hulle verteenwoordig die beste wat ons kan wees. Die uitmuntendheid waartoe ons in staat is. En die eenheid. En samewerking. En, om eerlik te wees, die liefde wat ons vir mekaar kan hê.

As jy nog nie die video hier onder gesien het nie, daag ek jou uit om nie ’n knop in die heel te kry nie. Dit is alles daar. Dít wat ons uniek maak.  Maar ook wat die span uniek maak – en die absolute meesterlike narratief van eenheid, teen die agtergrond van ons aaklige verlede van verdeling, wat die gom is tussen die spelers. Maar ook tussen ons en hulle. 

My joernalis-vriendin Karyn Maughan sê gister op sosiale media: “We do the most with very little. And we are tenacious in our joy, even in the worst times. I love my country. There is nothing like us. ❤️❤️❤️”

Springbok-advertensie, RWB 2023


Ek het onlangs ’n klein persoonlike ervaring gehad wat my weereens ’n warm gevoel gegee het oor die goedheid van soveel doodgewone Suid-Afrikaners. 

Ek ry van die Kaap af terug Oos-Kaap toe. Ek is so diep in gedagte dat ek vergeet om in Port Alfred vir diesel stil te hou. Die son begin al sterk water trek toe ek net anderkant Birha agterkom die brandstofliggie is aan. Ek weet nie hoe ver die bakkie op sy reserwetenk kan ry nie en om die waarheid te sê is ek ook nie seker hoe lank die liggie al aan is nie. Dit is nie die eerste keer dat my loskopgeit my in die moeilikheid kry nie en ek het al geleer om saam te leef met die chaos wat dit soms veroorsaak.

(Om vliegtuigkaartjies vir die verkeerde datum te bespreek is een van my besonderse talente. Inkopies wat in die winkel agterbly. Motorsleutels wat altyd soek is – ek het dit eenkeer in die yskas gekry. My ID-kaartjie wat nooit in my beursie is nie. Sonbrille wat verdwyn in 'n Bermuda-driehoek van ek-weet-nie-waar-nie. En my rybewys wat op die oomblik wéér weg is.)

Die eerste petrolstasie waarvan ek weet, is net voor die lughawe aan die buitewyke van Oos-Londen. Google Maps sê dis nog 90 km. Ek ys om te dink ek gaan staan sonder petrol, alleen, in die donker, maar ek het nie veel van 'n keuse nie. Ek ry stadiger, freewheel by die afdraandes af ...

Die pad anderkant Port Alfred.
Die pad anderkant Port Alfred.
Image: ANNELIESE BURGESS

Net voor Tsholomnqa (terloops, die tuisdorpie van Makazole Mapimpi) se pienk en geel huisies en die loslopende vee wat ry in die donker in hierdie deel van die wêreld so 'n nagmerrie maak, kry ek ’n verkeerspolisiekampie langs die pad. ’n Paar karre, twee containers en ’n draad daarom. Daar is twee jong verkeersbeamptes aan diens. Ek vertel hulle van my penarie. En vra of hulle weet van 'n nader dieselpomp.

Nee, die eerste opsie is by Kidd’s Beach; daar is blykbaar nou ’n nuwe vulstasie net langs die hoofpad. Maar dis nog minstens 35 km ver. En hulle kan nie toelaat dat ek langs die pad gaan staan nie. Hulle gaan agter my aanry om seker te maak ek kom veilig daar. En as my petrol opraak, sal een van hulle by my bly en die ander een sal ry om brandstof te gaan haal. Hy gaan kry net gou ’n 5 liter-kan in die kantoor.

Om te sê dat ek uit die veld geslaan was, is om dit regtig sagkens te stel.

Lydia Jabavu en Themba Maqina volg my al die pad tot in Kidd’s Beach. En toe ek by die vulstasie indraai, groet hulle eenvoudig met 'n woep-woep van hulle sirene en verdwyn weer in die donkerte.

Dit het my so laat dink aan 'n aanhaling van Charlie Chaplin wat ek in my dagboek aangebring het: “Our knowledge has made us cynical. Our cleverness, hard and unkind. We think too much and feel too little. More than machinery, we need humanity.”

Kyk na die lieflike klein TikTok-video’tjie hier onder om ons Suid-Afrikaanse humanity in volle glorie te beleef.

Daarmee groet ek.

Salige Sondag

Anneliese


The journey

Above the mountains
the geese turn into
the light again

Painting their
black silhouettes
on an open sky.

Sometimes everything
has to be
inscribed across
the heavens

so you can find
the one line
already written
inside you.

Sometimes it takes
a great sky
to find that

first, bright
and indescribable
wedge of freedom
in your own heart.

Sometimes with
the bones of the black
sticks left when the fire
has gone out

someone has written
something new
in the ashes of your life.

You are not leaving
Even as the light fades quickly now,
you are arriving.

– David Whyte

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.