Dankie, Springbokke, ons kon ’n slag verby ras kyk

MAANDAG MET MAX

Dankie, Springbokke, ons kon ’n slag verby ras kyk

Bokke, julle manjifieke bliksems. Natuurlik skryf MAX DU PREEZ oor Saterdagaand se rugbytriomf en oor hoekom dieselfde euforie laas in 1994/’95 beleef is.

Die ongelooflike nasionale opwelling van emosie (patriotisme?) in die aanloop tot die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi en die orgasmiese vreugde met die oorwinning Saterdagaand is iets wat Suid-Afrika nie sedert 1994/’95 beleef het nie.

Daar was natuurlik ook vreugde toe die Springbokke in 2007 en 2019 die trofee verower het. Maar hoekom was dit dié keer so heeltemal, heeltemal anders?

Vir eers sou ek sê dit is weens ’n diepgewortelde gevoel onder Suid-Afrikaners dat die verval van die staat van die laaste dekade of so nie weerspieël wie ons as ’n nasie is nie.

Ons wou ons eie swartgalligheid besweer en wýs dat ons nié ’n mislukte piesangrepubliek is nie. Ons kán soms wen. Ons het nog hoop.

Maar ek dink die belangrikste verskil is dat daar geen manier is waarop die jongste oorwinning as ’n “meestal wit” prestasie gesien kan word nie, soos baie gevoel het die oorwinnings van 2007 en 2019 was nie.

Want: Siya Kolisi.

En Bongi Mbonambi. Ox Nché. Cheslin Kolbe. Damian Willemse. Trevor Nyakane. En die ander swart en bruin supersterre.

En Rassie Erasmus.

Die meeste van julle het seker die video gesien van die jong swart outjie voor die TV-skerm in die halfeindstryd wat amper van sy kop af geraak het toe Eben Etzebeth ’n drie druk. “Elizabedi!” het hy oor en oor geskreeu en soos ’n mal haas heen en weer gehol.

As dit ’n meestal wit span was onder ’n wit kaptein, sou dié ou homself dalk nie die vryheid gegun het om ’n wit Afrikaner as sy eie held te eer nie.

En dis hoe dit was die laaste paar weke. Wit spelers soos Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, Deon Fourie, Handré Pollard, Duane Vermeulen en Kwagga Smith was in swart en bruin oë net sulke helde soos Kolisi en Kolbe en Nché.

Hulle was nie meer wit nie, net Springbokke. Óns manne.

Ons kon ’n slag verby ras kyk.

(G’n wonder die EFF-leiers was sigbaar afwesig in die nasionale amperse histerie van positiwiteit nie.)

Maar die voorvereiste daarvoor was dat swart en bruin spelers behoorlik in die span verteenwoordig is; en dit het baie gehelp dat Kolisi die kaptein was, en Mbonambi as Kolisi die veld verlaat het. Dat spelers met uiters moeilike jeugjare soos Makazole Mapimpi ’n Springbok is.

Ek het die laaste weke vele dosyne TikTok- en YouTube-video’s in my inboks ontvang van veral wart Suid-Afrikaners wat die Bokke vier en verheerlik. Van dié video’s is gemaak deur hip jong swart vroue wat waarskynlik nog nooit by ’n rugbywedstryd was nie.

Want dit was oor baie meer as rugby.

Ek het Saterdag dié aanhaling op sosiale media gekopieer, maar nou weet ek nie meer wie dit gesê het nie: “The Boks are a picture of us when we're at our best. Those from privileged and underprivileged backgrounds, black and white, deeply bonded yet compassionate of differences and fighting for a lofty goal together.” Net so.

Kolisi gaan in die geskiedenis as ’n baie spesiale figuur opgeteken staan. As ’n arm seun van ’n arm township is hy nie net ’n simbool van wat moontlik is nie (is daar iets soos ’n Suid-Afrikaanse Droom?), maar hy het dit deurentyd verwoord.

Meer selfs as Francois Pienaar in 1995 het Kolisi die punt by elke geleentheid gemaak dat dit meer oor die mense van Suid-Afrika as oor rugby en die Springbokspelers gaan. Die Bokke wil wen want hulle wil inspireer; meer so as enige ander nasionale span.

Saterdagaand ná die oorwinning het Kolisi gesê die wen moet vir die res van die nasie wys dat niks onmoontlik is nie.

“There is so much going wrong in our country and we are like the last line of defence. We can show we can achieve so much together. People before me fought for people who look like me to play for this team. It’s my duty to make sure we make this team all it can be," het hy gesê.

En hy het die ma’s en oumas bedank wat die spelers grootgemaak het. Hy weet waarvan hy praat; hy kom uit ’n wêreld wat ver verwyderd is van my eie wit, Afrikaanse, bevoorregte agtergrond.

Kolisi het in Erasmus die beste moontlike bondgenoot gehad. Hy is allesbehalwe ’n politieke dier, maar het instinktief op ’n menslike vlak al die regte goed gedoen om ’n kultuur te help skep waar dit nie eens meer nodig is om enige gesprekke oor “transformasie” te hê nie.

Rassie (of moet ons sê Rasnaber, want Jacques Nienaber moet ook van die eer kry) se onortodoksie, eksperimenterende benadering, rugbypolitiek-inkorrektheid en berekende risiko’s (niemand het nog ooit gewaag om sewe voorspelers en net een agterspeler in die reserwebank aan te wys nie) het van hom ’n internasionale legende gemaak, al sê die rugbybase en kommentators van ander lande ook wat. Hulle is jaloers op hom. Kyk hier na Rassie en span se emosionele reaksie nadat die eindfluitjie geblaas het:

Kom ons wees eerlik: Die All Blacks kon Saterdag net sowel gewen het – en hulle sou dalk as hulle nie vroeg al ’n rooi kaart gekry het nie.

Maar dit is ook waar dat die Bokke in die geskiedenis van die Wêreldbeker-toernooi die heel moeilikste pad na die eindstryd gehad het, baie meer veeleisend as die All Blacks s’n.

Ons oorwinning is amper meer poëties omdat die Bokke die laaste drie wedstryde elk met net een punt gewen het.

Ek wil graag glo dat ons geesdrif en ondersteuning as ’n nasie deels vir dié verbete wengees bedank kan word.

’n Oompie by my plaaslike kafee waar ek my Sondagkoerante gaan koop het, sê vir my: “As ’n perd in ’n resies met net sy neusgate eerste oor die wenstreep gaan, wen hy steeds, niemand bitch agterna nie.”

Ek luister gister op BBC radio na Matt Dawson, die skrumskakel van die Engelse span wat in 2003 die trofee gewen het: “I think we have witnessed the greatest ever rugby side. What they have done in this tournament is simply remarkable – the way they have come through their group and the knockouts.

“I don't think it will ever be surpassed, and it has all been achieved with the target of current world champions on their back."

Ek hoop Tom Curry het ook geluister, daar eenkant.

As jy een van die suurgatte is wat vandag sê: “Ag, dit beteken niks nie, die land is steeds in sy moer,” kan ek net sê: Get a life, broer, jy mis uit op ’n spesiale oomblik.

Nee, die ANC gaan nie skielik beter regeer en ophou steel nie, maar ons is ’n slag daaraan herinner waartoe ons as ’n nasie in staat is.

Bokke, julle manjifieke bliksems.

Groetnis

Max

Naskrif: Hier is die beste stuk wat ek oor die Bok-oorwinning gelees het: Siya Kolisi inspires South Africa to keep finding point of difference | South Africa rugby team | The Guardian


Lykskouing

my vriendin se ma kan haar noggie begrawe nie
sy wag vir die lykskouing
sy sê lykskouing die way iemand 'n nuwe woord sê
wat hulle nog nooit gebruik het nie
'n woord wat normal mense nie nodig het om 
te gebruik nie
lykskouing stap
in my vriendin se ma se woordeskat in
soos 'n overdressed kerksuster by 'n kind se doop
ek kan sien hoe die woord oor haar smelt
waar sy sit
in die voorhuis
waar my vriendin se soet musky reuk nog
in die furniture vassit

– Ronelda S. Kamfer

Uit: I Wished I'd Said ...

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.