Het jy geval?

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Het jy geval?

DEBORAH STEINMAIR skryf oor sport wat die nasionale purgasie is.

Image: ANGELA TUCK

Ek is beenmoeg. Die Wêreldbeker eis sy tol, ook van rusbankpatattas. Jy lê nie net nie, jy belê emosioneel, jy projekteer, jy bou jou wankelrige geluk op iets heeltemal buite jou beheer. Jy beleef intens, gil jou keel rou en sak uiteindelik in uitgeputte ekstase neer, met kloppende hart en stresvlakke teen die plafon.

My Apple-horlosie se skermpie het Saterdagaand in ’n stadium, toe ek drie dinge tegelyk doen: in die lug opspring, my hande een maal hard klap, en soos ’n viswyf gil, ’n besorgde boodskap geflits: Did you fall? En ’n noodnommer om met ’n enkele kliek te skakel. Ek het dit geïgnoreer omdat my oë op die TV-skerm was, en later wil die horlosie weer weet: Did you fall?, met twee opsies: I fell, but I’m all right en I did not fall. Dankie, Siri. Ons hét nie geval nie.

Sondagoggend was ons maar dof, ná soveel adrenalien en vonkelwyn. Ons is mos verslaaf aan hoop en, die hemel weet, ons het die oorwinning so nodig gehad. Ons het nodig gehad om trots te wees, te vier en fuif, kele nat te maak en te dans asof niemand ons dophou nie. Trevor Nyakane se danspassies druk ons verrukking so elegant uit.

Dit was ’n katarsis. Ons het saam met Cheslin Kolbe gesnik, en uiteindelik saam met Rassie onaantreklik gehuil. Faf is toe glad nie so kort nie, lees ons, maar hy begewe hom tussen reuse, takel vleispaleise, en bollemakiesie halsoorkop eenkant toe. Pieter-Steph het ’n blouoog en Handré se wang kort steke. Dit was oorlog, maar die enigste fatale slagoffers was die Kiwi’s se ego’s.

Cyril was vir my ’n vals noot: Ná soveel leë beloftes en besluiteloosheid het hy glad nie koninklik gelyk in die Springboktrui, soos Mandela destyds nie, eerder onatleties met tone wat binnetoe wys soos ’n duif. Those whose names were never called when choosing sides for basketball, om Janis Ian aan te haal. Maar selfs ons teleurstelling in hom kon nie die oomblik bederf nie.

Sport het ons uitlaatklep geword, ons nasionale purgasie. Wanneer ons span duidelik op pad is om te verloor, sê ek altyd vir my geliefde: “Dis oukei; ons geluk hang nie hiervan af nie. Ons lewe is steeds goed.” Maar die teleurstelling is intens, ’n wrang bitterheid in die klein verhemelte.

Daar is darem altyd die troos om die ref te kan blameer, en die ander span se slinkse vuilspel in die losgemaal. Soos Nieu-Seeland nou doen. Suur druiwe is uiters onaantreklik. Soos oordrewe patriotisme en leedvermaak seker ook, maar ag wat. Ek is ’n redelik goeie verloorder maar ’n swak, ongrasieuse wenner.

Nou gaan ek weer naweke omlees. Ja, daar is nog die Wêreldbeker-krieket, maar vir onafgetredenes is selfs ’n eendagwedstryd darem te tydrowend.

Ek is so mal oor Max se woorde gister dat ek dit hier herhaal: “Nee, die ANC gaan nie skielik beter regeer en ophou steel nie, maar ons is ’n slag daaraan herinner waartoe ons as ’n nasie in staat is.”

Sit Rassie en Nienaber in die kabinet, maak Siya president en laat ons vir die wêreld ’n punt wys. Niemand in ons huidige parlement het nog ooit so hard gewerk soos Cheslin, Kurt-Leigh, Libbok, Mbonambi en die ander nie. ’n Kabinetsposisie, soos ’n plek in die span, moet immers verdien word en aanhou verdien word en nie bloot beloning wees vir stryd in die struggle nie.


Die dag op Nuweland

hoera en boland en haak vrystaat
skree ons van die pawiljoen
vir die rugbyspelers
wat soos gestreepte haaie rondduik
en na mekaar se boudvleise hap
en ons kou grondboontjies en ons kake gaan
op en af
op en af
'n maer meisie van swellendam
brei mansokkies
en soos ons boland en haak vrystaat skree
brei sy al vinniger
sodat ek senuweeagtig word
oor die spoed
waarmee sy die wol
oor haar dun dun voorvinger stoot
en ek my tong raakbyt
oral op die pawiljoen
spring mannetjies
regop en die planke wip
hulle weer terug
en dan weer regop
en ons kou grondboontjies en ons skree
hoera boland haak vrystaat
soos die rugbyspelers
nou met toenemende venyn na mekaar gryp
en alles later bloederig word
en die gras mislikgroen regop staan
dit begin reën
en die blou reën was die bloed dieper
in die gras
die dag is pers en die son skyn oor alles
toe die eindfluitjie blaas
brul en skud die hele pawiljoen
sodat die potsierlike hoedjies
teen 'n ontstellende spoed op en af
op en af
wip
en die rugbyspelers dra die stukkende held
skouerhoog en die held gryns
en die meisie van Swellendam
bêre haar breiwerk in 'n sneeuwitdoekie
en krap in haar neus
die rugbyspelers dra die stukkende held
tot voor my

– Jeanne Goosen

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.