Die joernalistiek het my van myself gered

MAANDAG MET MAX

Die joernalistiek het my van myself gered

MAX DU PREEZ het op 3 Desember 1973, 50 jaar gelede, as 'n joernalis begin werk.

Ek het gister presies 50 jaar gelede as 'n joernalis begin werk. Maandag, 3 Desember 1973. 'n Japsnoet van 22 jaar oud, pas uit universiteit.

Ek het nooit 'n ander beroep beoefen nie, hoewel ek in die jare voor Vrye Weekblad 2.0 ook myself soms as politieke konsultant uitgehuur het – die maklikste wat ek nog geld gemaak het. #EntertainingBullshit.

In die lokteks op die binneblad van my 2009-boek van herinneringe, Dwars – Mymeringe van 'n Gebleikte Afrikaan, skryf die uitgewer: “Tydens sy loopbaan as 'n hardegat-joernalis is hy drie keer afgedank, sewe keer weens laster gedagvaar, 13 keer krimineel aangekla en het hy drie vliegtuigongelukke, twee sluipmoordpogings en 'n bomaanval oorleef.”

Nou ja toe.

Ek het by Die Burger se kantoor in Keeromstraat 30, Kaapstad begin werk. Redakteur: Piet Cillié. Die man wat jare later die redakteur geword het, Ebbe Dommisse, dra nou nog die kruis as die man wat my op Stellenbosch vir die koerant gaan werf het.

In my klein wêreldjie as 'n Kroonstadse Boerseun was dit 'n trotse prestasie en 'n voorreg om vir Die Burger te werk. Die geskiedkundige ou gebou oorkant die hooggeregshof in die Kaapstadse binnestad, die ryk tradisies en gebruike en die portrette van oud-redakteurs op die mure (soos DF Malan) het dit beaam: ons is die room.

(Ek het toe nog geen idee gehad dat omtrent alle Afrikaanse redakteurs en senior redaksielede lede van die Afrikaner-Broederbond was nie.)

My heel eerste storie was oor 'n nuwe elektriese bus wat in Kaapstad gebou sou word. My eerste voorbladstorie was oor 'n skaars genetiese afwyking wat net onder wit Afrikaners voorgekom het: die been in die liggaam, veral die skedel, hou nie op groei nie. Ek vergeet die mediese naam, maar dit is ook Afrikaner-dikkopsiekte genoem – een ou van Riversdal het twee verdiepings ver op sy kop geval en nie eens 'n hoofpyn gehad nie.

Die Burger was 'n goeie leerskool vir 'n kadetverslaggewer: jy moet baie seker maak van jou feite en bronne, jy moet jouself en jou vooroordele uit jou berigte hou, en audi alteram partem geld – mense oor wie jy skryf, moet altyd die reg hê om daarop te reageer, moet om kommentaar genader word. Gesoute kollegas het die beginsels van 'n goeie intro en struktuur vir 'n berig oorgedra. Ek het my prakties as landdroshofverslaggewer gedoen.

Teen die middel van 1974 word ek ingelig dat Nasionale Pers, soos dit toe was, 'n nuwe dagblad in Johannesburg gaan stig, as teenvoeter vir Perskor se Transvaler, Oggendblad en Vaderland. Ek moet noorde toe trek, ek is 'n lid van Beeld se eerste redaksie.

Ek was deel van die span onder Schalk Pienaar en Ton Vosloo wat die nuwe koerant uit die ietwat nederige gebou naby Ellispark in Doornfontein moes vestig. Dit was opwindend, ons het soos pioniers gevoel. (As jy toe vir my gesê het ek sou 14 jaar later wéér 'n nuwe koerant help stig, sou ek gesê het jy’s lekker mal, ek het 'n baie belowende toekoms by Nasionale Pers.)

Die Kapenaars in beheer het maar 'n dim view van die tipiese noordelike Afrikaners gehad. Beeld was aanvanklik tipies geelpers, met sensasie, bloed, derms en skandaal. (Ek weet nie hoe apokrief dit is nie, maar Pienaar het glo gesê as jou Transvaalse leser jou koerant oor sy oggendpap lees, moet hy eers 'n ereksie kry en dan gil: O gots!)

Nodeloos om te sê, dit het nie gewerk nie en Beeld se sirkulasiesyfers was gevaarlik laag. Ons junior mense het gebrom en gekla, maar uiteindelik was dit mense soos Vosloo wat die skip omgedraai en daarvan 'n koerant van beter gehalte gemaak het.

Dit was 'n uitstekende, energieke nuuskantoor en ek het my gate uit geniet. Ek het ingekoop in alles; ek het selfs Beeld en die Nasionale Party aktief gehelp om die Herstigte Nasionale Party in 'n tussenverkiesing in Alberton te verslaan. Want die reëls oor audi alteram partem en eerlike, regverdige verslaggewing het nie vir politieke beriggewing getel nie, sien.

Maar toe bevind ek my baie vroeg die oggend van 16 Junie 1976 buite die Protea-polisiekantoor in Soweto. Daar was gerugte dat die onrus onder hoërskoolleerlinge dié dag op die spits gedryf gaan word, kwansuis soos deur Winnie Mandela aangeblaas.

En daar is ek, 'n wit Afrikanerman in sy vroeë twintigs, en is ooggetuie van swart jongelinge net 'n paar jaar jonger as ek wat só kwaad en gefrustreerd is dat hulle bereid was om te sterf; en van polisiemanne wat dit geniet het om swart kinders te skiet. Die maande daarna was ek byna elke dag in 'n brandende township, altyd agter die polisielinies.

Ek het hard probeer om dit te ontken, maar dit het 'n diep merk op my denke gelaat.

Ek het toe die eerste keer raakgesien hoe dit werk. “Verligte” redakteurs soos Pienaar, Vosloo en Johannes Grosskopf maak kritiese geluide in redaksionele kommentaar, maar die nuus wat ons aan lesers oordra is skeefgedraai om die wit regime en establishment te pas. Soos die Arabiese koerante vandag Hamas se terreur van 7 Oktober in Israel toesmeer en Israelse koerante die volksmoord in Gaza verdraai en goedpraat.

In 1978 is ek parlement toe gestuur as deel van die groep se span: Die Burger, Beeld, Die Volksblad en Oosterlig. Die hoof van ons span was Alf Ries, vertroueling van John Vorster en PW Botha.

Dit was 'n ewe groot skok vir my stelsel as die townshipgeweld. Ons was die Nasionale Party diensbaar; ons het die ministers se gatte onbeskaamd gelek. Ek was geen engel nie, maar die immoraliteit wat ek by ministers se private partytjies en private gesprekke ervaar het, het my gewalg. Ek het die meeste van hulle as dom, vervelige, vetgevrete ventjies ervaar.

Alf was reg in sy boodskap aan redakteurs: ou Max is nie parlementêre materiaal nie. En toe pos hulle my in 1978 Suidwes-Afrika toe om die aankoms van die Verenigde Nasies (VN)se oorsigmag en die oorgang na 'n onafhanklike Namibië te dek.

Ek het weer my opdrag misverstaan. Ek het gedink dit was om Suid-Afrikaners behoorlik in te lig wat in daardie kolonie van ons gebeur, wie die hoofakteurs was en wat die onderstromings was. Maar wat eintlik van my verwag is, was om die SA Weermag goed te praat, Swapo swart te smeer en die Pretoria-regering se plannetjies te bevorder.

Dit was 'n avontuurlike, historiese tyd vol drama, oorlog en internasionale intrige – en rowwe partytjies. Dit is ongelukkig ook toe dat ek ernstig beseer is toe die huurvliegtuig waarin ons persmense die VN-gesant, Martti Ahtisaari, gevolg het, in Opuwo in die Kaokoveld neergestort het. (Ek en my beseerde kollegas is in Ahtisaari, later die president van Finland, se vliegtuig vir noodbehandeling Ondangwa toe gevlieg – ek het met my kop op sy skoot gelê sodat hy die verbande op my gesnyde gesig in plek kon hou.) Ek het vir byna twee jaar daarna elke dag gaan werk met my arm van my skouer tot my pols in gips, met vele operasies aan my arm, nek en gesig.

Maar die Boerseun van Kroonstad het begin grootword; van die werklikhede in die wêreld begin raaksien.

My sosiale vriende was aktiviste soos Anton Lubowski, Danny Tjongarero, Ottilie Abrahams en Andreas Shipanga, asook VN-diplomate soos die formidabele Cedric Thornberry.

Ek het die skerp kant van die apartheidsbewind in die townships, die parlement en in Namibië van naderby ervaar. Ek het begin verstaan dat apartheid 'n bose, gewelddadige ideologie was. Ek kon dit nie langer ontken nie en ek kon nie langer aandadig wees nie, al was dit net deur assosiasie.

Ek was 'n eend by die verkeerde dam. Ek móés vlug en teen die einde van 1982 het ek. Beeld se redakteur, Ton Vosloo, het vir my 'n mooi brief van aanmoediging geskryf, maar sy assistent-redakteur, Willie Kühn, het my toegesnou dat ek nog sou “terugkruip” Nasionale Pers toe.

Ek het gedink my heil lê by die Engelse pers. Ek is toe as Senior Editor: Current Affairs by die Financial Mail aangestel en was later politieke korrespondent van Sunday Times en Business Day in dieselfde mediahuis.

Maar die plafon het net effentjies gelig; dié publikasies was meer polite en het nie van klein apartheid en Afrikaner-nasionaliste gehou nie, maar die stelsel van wit oorheersing het hulle goed gepas.

Daar sit ek toe weer in die wit parlement en my enigste pêl in dié establishment is ene Frederik van Zyl Slabbert, leier van die amptelike opposisie, met wie ek al op Stellenbosch kennis gemaak het. Ek deel sy frustrasie dat die parlement 'n wit praathuis is, terwyl die werklike politiek elders gebeur en ondersteun sy plan om dramaties te bedank, wat hy toe in 1986 doen.

En toe word ek deel van Van se planne om 'n simboliese trek van meestal Afrikaners na Dakar in Senegal te reël om die leierskorps van die uitgeweke ANC te ontmoet om die idee van 'n onderhandelde skikking te bevorder. (En toe dank my redakteur, Ken Owen, my af omdat ek kwansuis 'n ANC-apologeet geword het.)

En daaruit is Vrye Weekblad 'n jaar later gebore: die eerste anti-apartheidskoerant in Afrikaans.

Een van my mooiste herinneringe was toe Nelson Mandela my op Woensdag 14 Februarie 1990, vier dae ná sy vrylating, bel en na sy huisie in Soweto nooi. Net ek en hy. Hy wat verskoning vra vir sy “Xhosa-aksent” as hy Afrikaans praat; hy wat vir my tee skink met te veel melk en suiker, tronk-styl. Hy het 'n monoloog gevoer oor die geskiedenis van die Afrikaner en oor sy visie vir 'n demokratiese, vrye Suid-Afrika. Hy het toe by dié visie gehou.

(Terloops, Mandela is môre tien jaar gelede oorlede. Ook maar goed die oubaas was nie 'n getuie van hoe sy geliefde ANC die land die laaste dekade deur hulle gatte getrek het nie.)

Dit was ses fantastiese, traumatiese, historiese jare voor Vrye Weekblad in Februarie 1994 sy deure moes sluit. 'n Dag ná ons sluiting het ek by die Nuwe SAUK met kollega Zwelakhe Sisulu aan die stuur begin. Ons reeks programme oor die Waarheids-en-versoeningskommissie, Special Report on the TRC, was die ander hoogtepunt van my loopbaan.

En ja, ek is onseremonieel in die pad gesteek, weggejaag, toe ek weerstand gebied het teen pogings om die SABC van die openbare uitsaaier in 'n staatsuitsaaier, 'n ANC-mondstuk, te verander.

Ek was daarna onder meer kortstondig redakteur van De Kat, aanbieder van geselsradio, vervaardiger van dokumentêre films, rubriekskrywer vir die Independent-groep se koerante tot ek weens hulle steun vir Jacob Zuma bedank het, asook rubriekskrywer vir News24 en Die Burger en Beeld – só het die wiel ná 1994 gedraai. En ek het 'n dosyn boeke gepubliseer.

En ná 'n lang slaap herleef Vrye Weekblad toe in 2018 as 'n digitale koerant in die stal van Arena Holdings, en 'n jaar gelede het ons op ons eie bene gaan staan met die Nuwe Vrye Weekblad Mediagroep as uitgewer.

Ek is net so trots op Vrye Weekblad 3.0 as wat ek op die oorspronklike koerant was. Ek glo ons speel 'n belangrike rol, weereens 'n pioniersrol, in die nasionale en Afrikaanse joernalistiek en diskoers.

(Julle moet asseblief tog net in Februarie op ons koerant inteken wanneer ons agter 'n betaalmuur gaan wees!)

Ek ys om te dink wat van my sou geword het as ek nie 'n joernalis geword het en so grafies aan die werklikhede van my land blootgestel is nie.

Dalk 'n voorstedelike prokureur, voorsitter van die plaaslike Rapportryers en hoofdiaken, met 'n Fortuner en 'n strandhuis in Gansbaai. Dalk 'n veiligheidspolisieman, 'n AfriForum-agent of 'n apartheid-apparatsjik wat voor die WVK om amnestie moes gaan smeek. Wie weet.

Ek was geseënd.

Groetnis.

Max


Afskeid

Die uurglas het reeds leeg geloop, die populierboom is gestroop van elke goue blaar.

En ons, ons staan beteuterd rond en tuur half skuinsweg op die grond – soos vreemdes vir mekaar.

Ek weet jy wil nog met my praat, maar onder in die donker straat hoor ek die motor toet.

En vir die derde, vierde keer sit ek my loodswaar koffer neer om jou verlaas te groet.

Koos du Plessis

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.