Oor teddiebeer-sonneblomme en ’n moordkuil van jou hart maak

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Oor teddiebeer-sonneblomme en ’n moordkuil van jou hart maak

ANNELIESE BURGESS sê sy't al as 'n klein meisietjie geleer ‘om die vrede te bewaar'. Sy vertel van die kosmos en teddiebeer-sonneblomme in haar somertuin en deel 'n gedig uit Gaza.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

EK was 'n week weg in Kaapstad en Johannesburg vir vergaderings en ander goeters en ek was gister pateties dankbaar om terug by die huis te wees. Spesifiek by my tuin. My dahlias het ontplof, pienk en wit en oranje opslag-kosmos dwarrel oral en my teddiebeer-sonneblomme is 'n verrassing en wonder.  

In my groentetuin staan die basiliekruid enkelhoogte. Ek het uiteindelik reggekry dat 'n paar dilleplantjies vat (ek verstaan nie hoekom ek so daarmee sukkel nie), die grenadillas blom en ek het my eerste handvol aarbeie gepluk.

Maar die apies maak amok. Wat nie toegemaak word nie, word verorber.  En nou is daar 'n ystervark wat snags kom bolle vreet. Omtrent al my varkore het al gesneuwel. Ek het gaan oplees oor wat ek kan doen om ystervarkbesoeke te ontmoedig en geen oplossing gevind nie, maar wel geleer dat ystervarke vir die meeste van die jaar enkellopende diere is, maar tydens paartyd is eienaardige klanke en 'n neusvrywery ter sprake. 


Oor 'n ander onderwerp. As ek vinnig en feitelik moet skryf, doen ek dit in Engels. En as ek 'n komplekse argument moet konstrueer, werk my kop ook beter in Engels. Maar dit is asof die deel van my brein wat gekoppel is aan my hart in Afrikaans bedraad is. 

Engels is vir my soos taal-lego: blokkies wat netjies op mekaar pas. Afrikaans is musiek: note en oktawe en harmonieë.

Ek gaan soek dié week 'n woord en kom op 'n boekie gesegdes af. Daar is 59 gesegdes met die woord “hart" daarin. 



“Iets op die hart dra”; “van jou hart af gaan" (met teesin van iets skei); “'n riem onder die hart steek"; “wat die hart van vol is, loop die mond van oor"; “jou hart op jou mou dra"; “uit die oog, uit die hart"; “wat die oog nie sien nie, deer die hart nie".

En dan my gunsteling: “om van jou hart 'n moordkuil te maak" – om jou gevoelens te onderdruk en nie te sê wat in jou hart lê nie.

In 'n interne gesprek wat ek met myself voer oor 'n ding wat ek in my lewe probeer uitpluis, blom dié gesegde vandeesweek in my kop oop.

Dit kom uit Nederlands: “Zijne gedachten en gevoelens niet verzwijgen, niet doden, niet smoren; ook van zijn hart geen smoorkuil, smoorkolk, smoorpan maken."

Daar is 'n cliché oor vroue. Dat ons altyd oor alles wil práát. Die cliché is natuurlik spesifiek van toepassing op (heteroseksuele) verhoudings. Dat ons altyd wil derms uitryg; en mans die Groot Grys van die Onuitgesproke verkies.

As ons nou veralgemenings oor vroue se emosionele binnewêreld wil maak, moet ons miskien na die teenoorgestelde kyk. Dat vroue té gereeld van hulle hart 'n moordkuil maak. 

Ek lees onlangs hierdie artikel in Time wat kyk na die verband tussen “self-silencing" in vroue en chroniese siektes (80% van alle outo-immuun-siektes kom byvoorbeeld by vroue voor en die voorkoms van depressie, angs en post-traumatiese stresversteuring by vroue is dubbeld soveel as dié by mans).

Die skrywer, 'n sielkundige, sê haar kliënte is meestal vroue en dat byna almal van hulle sukkel met 'n vrees om ander teleur te stel.

“Ons kultuur beloon vroue wat aangenaam, selfopofferend en emosioneel in beheer is en dit kan teenintuïtief voel  om ‘nee' te sê – of om openlik en ferm oor hulle behoeftes te wees."

Dit is dus spesifiek die “vroulike deugde" van inskiklikheid, onselfsugtigheid en onderdrukking van woede (moordkuil!) wat ons meer vatbaar vir chroniese siektes maak.

Maar om eerliker te wees oor ons emosies, om grense te stel en duidelik te wees oor wat ons nodig het van dié wat ons liefhet, is allermins 'n maklike opdrag, want “om die vrede te bewaar" is iets wat ek – en meeste vroue wat ek ken – al as klein meisietjies geleer het om te doen. Don't rock the boat. Hou jou in. “Discipline with good manners," soos my ma altyd gemaan het. Ag nee wat, ek begin nou dink dit is miskien tyd vir bietjie meer praat. En bietjie minder stilbly.

Salige Sondag

Anneliese


Hard Exercise

In Gaza,
breathing is a task,
smiling is performing
plastic surgery 
on one's own face,
and rising in the morning,
trying to survive
another day, is coming back
from the dead

– Mosab Abu Toha

Toha is 'n gevierde Palestynse digter. Hy is die stigter van die Edward Said-biblioteek in Gaza. Sy eerste bundel, Things You May Find Hidden in My Ear: Poems from Gaza, het die American Book Award gewen: “In this poetry debut, Mosab Abu Toha writes about his life under siege in Gaza, first as a child, and then as a young father. A survivor of four brutal military attacks, he bears witness to a grinding cycle of destruction and assault, and yet, his poetry is inspired by a profound humanity."

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.