Maak jou oë en jou hart oop

MAANDAG MET MAX

Maak jou oë en jou hart oop

Die hofsaak in Den Haag en die Israel/Gaza-konflik gaan oor die behoud van menslike lewens en menswaardigheid, skryf MAX DU PREEZ.

Die meeste mense verander baie moeilik van mening, wat ook al die inligting en insigte wat aan hulle voorgelê word. En hoe ouer mense word, hoe moeiliker raak dit skynbaar vir hulle om hulle sienings by nuwe werklikhede en insette aan te pas.

Ek dink mense, mense uit alle streke en nasionaliteite, verkies om by standpunte te bly wat in hulle eie agtergrond en onmiddellike omgewing domineer; wat hulle identiteit en tradisionele lewens- en wêreldbeskouing bevestig eerder as uitdaag. Dit laat hulle veilig voel.

Dit is skynbaar in die mens se natuur om kant te kies, om die wêreld tussen “ons” en “hulle” te verdeel. En jy moet lojaal teenoor “ons” wees, al opper jy soms ligte kritiek.

Die meeste van julle wat hier lees, is gesofistikeerde, denkende mense wat bereid is om oop te bly vir nuwe insigte, anders sou julle nie Vrye Weekblad gelees het nie. Die ander Afrikaanse publikasies bevestig grotendeels jou vooroordele, laat jou veilig in die meestal wit Afrikaanse borrel voel.

Dis hoekom ek dié ongemaklike onderwerp hier kan aanroer.

Ek het hieraan begin dink nadat ek die reaksie van veral wit Suid-Afrikaners en Afrikaanse mense op die verrigtinge in die Internasionale Geregshof in Den Haag oor die Israel/Gaza-konflik Donderdag en Vrydag bekyk het.

Ek is geen profeet van waarheid met buitengewone insigte en wysheid nie, allermins, maar ek is deur my 50 jaar in die joernalistiek telkens geleer om my instinktiewe reaksie op gebeure en standpunte vir 'n oomblik op te skort en myself te dwing om die “ander kant” van die saak eers beter te verstaan en die volle prentjie te sien.

Ek het geleer om 'n deur oop te hou vir die moontlikheid dat my instinktiewe siening dalk skeefgetrek is deur my sosialisering en die invloede wat op my inwerk; om myself te dwing om kompleksiteit te aanvaar en die versoeking van eenvoudige antwoorde te vermy. Om my persoonlikheidsneiging tot wit en swart te temper om ook die grys raak te sien. Ek het my lewe lank 'n sagte plek vir Israel as die staat waar die immer-vervolgde Jode kan veilig voel, en groot bewondering vir die infrastrukuur- en tegnologiese ontwikkeling wat dié staat sedert 1948 bereik het. Selfs nadat ek Israel en die Palestynse gebiede 'n klompie jare gelede besoek en die groot onreg teenoor die Palestyne waargeneem het, was my instink om Israel te verdedig.

Ek het Suid-Afrika se voorlegging van 84 bladsye aan die Internasionale Geregshof met aandag gelees en uiters deurdag en goed verantwoord gevind.

Ek het na elke woord van ons (ja, óns, Suid-Afrika se) regspan geluister. Dit was professioneel en sonder retoriek.

Die span het aan die hand van verklarings en dokumente van die Verenigde Nasies se agentskappe en spesiale rapporteurs en ander geloofwaardige bronne die verskriklikheid van Israel se bombardering en verwoesting en die erge menselyding uitgespel.

Die dodetal van meer as 1% van die bevolking van Gaza, meer as die helfte van hulle vroue en kinders, word nou deur omtrent almal, insluitende die Weste, aanvaar. Al die name van die meer as 23 500 mense wat gesterf het en die sowat 7 000 wat vermis word en waarskynlik onder die puin begrawe lê, is gepubliseer. Meer as 60 000 mense is gewond of beseer.

Selfs die Amerikaanse, Britse en Europese media wat hulle onbeskaamd by Israel skaar, het die laaste klompie weke verskriklike verhale van hongersnood, watertekorte, gebrek aan mediese dienste en 'n permanente vlug voor die bomme uit vertel.

Ek dink daaraan as ek snags in my bed lê: Kan jy jou indink watter impak die laaste drie maande se trauma vir die res van hulle lewe op die geestestoestand van Gaza se mense, veral jongmense, gaan hê?

Ons span het die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu, aangehaal waar hy by meer as een geleentheid gesê het die Palestyne is soos die Bybelse Amalekiete wat in God se opdrag totaal uitgewis moet word. Ons span het 'n video gewys waar Israelse soldate in Gaza oor die Amalek gedreunsing en verklaar het dat daar nie iets soos onbetrokke burgerlikes is nie.

(1 Samuel 15:3 “Gaan nou en verslaan Ámalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.” Daar is ook verwysings na die Amalekiete in Eksodus 17, Deuteronomium 20 en Numeri 24.)

Die president, Isaac Herzog, en verskeie ander ministers en generaals is aangehaal wat dit duidelik maak dat alle Palestyne vir Hamas se vergrype verantwoordelik gehou moet word. Die minister van verdediging, Yoav Gallant, het herhaaldelik na die Palestyne as “mens-diere” verwys. (Die Nazi’s het destyds na die Jode as “untermenschen” verwys, dis tog vergelykbaar?)

In watter univers ruik dit nie na 'n aanmoediging tot die uitwissing van 'n groot aantal Palestyne, dus volksmoord, nie?

Natuurlik behoort die state in Israel/Gaza se deel van die wêreld, of selfs die groot demokrasieë, al lankal 'n saak by die Internasionale Geregshof aanhangig gemaak het wat Israel se verwoesting en bloedvergieting probeer stuit het.

Maar niemand het nie, en dit was ons, ons met ons eie bittere geskiedenis van rassisme, ontheemding en verontmensliking, wat dit toe moes doen.

Ek het ewe aandagtig na Israel se reaksie die volgende dag geluister.

Hulle regspan kon nie die uitlating van senior Israelse leiers oor Gaza wat platgevee moet word of die Palestyne wat untermenschen is, ontken nie, toe sê hulle maar dit is “buite konteks” aangehaal en was “random assertions”.

Nee. Die Hutu-leiers het ook ná die 1994-volksmoord in Rwanda gesê hulle verwysing na Tutsi’s as “kakkerlakke” wat almal uitgeroei moet word, was buite konteks aangehaal. Die Serwiese leiers Ratko Mladic en Slobodan Milosevic het ook dié verweer ná hulle volksmoord in Bosnië-Herzegovina gebruik.

Israel se regspan het verstaanbaar baie klem gelê op die wreedheid van Hamas se aanval op 7 Oktober en die historiese perspektief gegee hoekom die Jode dit as traumaties in die ekstreem ervaar. Selfs Israel se skerpste kritici moet dit verstaan en in ag neem.

Maar die span het 'n prentjie probeer skets van 'n sensitiewe, versigtige Israelse weermag wat burgerlike sterftes probeer vermy en van Israel wat oral nooddienste lewer en barmhartigheidsaktiwiteite loods.

Enigiemand wat sedert 7 Oktober na die gebeeldsende tonele in Gaza gekyk het, selfs net CNN en BBC, of na die VN-agentskappe en organisasies soos Médecins Sans Frontières, Oxfam en Human Rights Watch geluister het, moet mos wéét dit is geheel en al vals.

As dit waar was, wie is dan verantwoordelik vir die tapytbombardement van Gaza, en wie moet die skuld kry vir die kritieke gebrek aan kos, water, sanitêre en mediese dienste?

Israel se regspan het boonop Suid-Afrika probeer uitmaak as 'n kliëntstaat van Iran, 'n vurige ondersteuner van Hamas en 'n land wat terroriste oraloor befonds.

Suid-Afrika is 'n oop gemeenskap en 'n konstitusionele demokrasie met 'n vrye pers. Daar is dalk pro-Hamas-elemente in die ANC en elders in die land, maar ons almal wéét dié aanklagte van Israel is geheel en al vals.

Israel se stellings dat die aanval op 7 Oktober die enigste werklike volksmoord was en dat Suid-Afrika “complicit in genocide” is, was bloot absurd. Volgens Israel se eie verskafte inligting is 1 200 mense dié dag vermoor, maar net 764 was burgerlikes: 274 was soldate, 57 was polisie en 38 veiligheidswagte. Israel het ook al erken dat 'n onbekende aantal van hulle sterftes deur “friendly fire” veroorsaak is.

Die vraag voor die hof is nie of Hamas 'n spul terroriste is en of Suid-Afrika se regering 'n goeie rekord het of nie.

Die enigste vraag is of die vermoede van dade van volksmoord in Gaza bestaan en of die hof “provisional measures” moet aanbeveel om verdere menselyding te voorkom. (Die tweede deel van die hofsaak, oor die vraag of Israel inderdaad aan volksmoord skuldig is, kom later en gaan baie maande vat.)

Dit is my oorwoë mening dat Israel se antwoord op Suid-Afrika se aanklag en aansoek meestal rook en spieëls was en niks weerlê het wat Suid-Afrika voor die hof op die tafel gesit het nie.

As dit 'n strafhof was waar kruisondervraging moontlik was, sou Israel se saak heeltemal verkrummel en die leuens en halwe waarhede op die lappe gekom het.

Die oorweldigende reaksie van veral wit Suid-Afrikaners, soos weerspieël in sosiale media, op geselsradio en kommentare op nuuswebwerwe, was dat hulle skaam is vir Suid-Afrika se voorlegging voor die hof; dat Israel se regspan dié van Suid-Afrika ore aangesit het; dat die Palestyne in Gaza kry wat hulle verdien; dat “die ANC” geen morele gesag het om so 'n aansoek te rig nie en eerder die groot getal moorde in Suid-Afrika self, veral plaasmoorde, moet beveg.

Die Palestyne is “hulle”, die Israeli’s is “ons”; die ANC is “hulle”, die DA, Vryheidsfront, ActionSA en AfriForum is “ons”.

Amerika, Brittanje, Duitsland en Kanada is “ons”; die Arabiese state en die state in Sentraal- en Suid-Amerika, Afrika en die Ooste wat hulle nie agter Israel skaar nie, is “hulle”. Die Moslems is “hulle”, die Christene en Jode is “ons”.

En in die proses gaan dit by die meeste van ons verby dat dit eintlik gaan oor die behoud van menslike lewens en menswaardigheid.

En of jy nou 'n vooroordeel jeens Palestyne, Arabiere of Moslems het of nie, gee ten minste toe dat alle lewens ewe veel waarde het. Almal, sê die Bybel, is na die beeld van God geskape.

Vrede en groete

Max

Naskrif: Bibi Netanyahu het gister verklaar: “We will restore security to both the south and the north. Nobody will stop us – not The Hague, not the axis of evil and not anybody else.”


Minus een

Sedert jy weg is, is ek minus een.
Ek leef van dagdroom & wensdenkery,
& al sou 'n ander weer sonder skroom
my eensaamheid bewoon, bly ek alleen.

- Johann de Lange

Uit: Die meeste sterre is lankal dood

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.