’n Bietjie son. En donker wolke.

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

’n Bietjie son. En donker wolke.

ANNELIESE BURGESS onthou hoekom sy 15 jaar gelede besluit het om afstand van joernalistiek te kry, maar hoe 'n ongelooflike hartseer verhaal haar hierdie week laat besef het die draad tussen haar kop en hart het weer vasgegroei.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Eers 'n bietjie son (en dan 'n donker wolk).

Jay kom kuier uit Johannesburg. 'n Paar van ons het gister van Cefane na Rooiwal gestap. Die name sal niks vir julle beteken nie, maar dit is 'n 16 km lange ongeskonde en wonderbaarlik verlate stuk kuslyn net hier anderkant van waar ek woon. Die weer het saamgespeel. Ná dae van van verswelgende  humiditeit was dit triestig met 'n ligte motreën.

Ons het die vorige dag 'n visvangpermit aanlyn gekoop om mossels te kan uithaal en vir ons aandete in ons rugsakke teruggedra. Gisteraand het ons 'n Belgiese mosselpot gemaak. En dun tjippies geëet met tuisgemaakte knoffelmayonnaise. En koue bier gedrink op die stoep in die somerhitte wat dié tyd van die jaar soos 'n dik, klam kleed oor alles kom lê.

Dit was 'n heerlike, heerlike dag.

Maar daar is 'n skadu in my hart.

Ek het die afgelope jaar 'n punt daarvan gemaak om vreugde te soek met 'n doelbewuste inkering na die alledaagse. In my groentetuin. In lang ente stap. In stil tyd in die natuur. In my dahlias en sonneblomme. In swem in die see. In tyd met my dogter. En met my broer op die plaas. Tussen my pa se beeste. In skryf. In vriendskappe. In gewone daaglikse rituele. Die meditasie van skottelgoed was. En wasgoed vou. Ek het weer begin musiek luister. Vir baie jare het musiek vir my soos onnodige geraas gevoel.

Maar die onderhoud wat ek Woensdag gedoen het met Corene Conradie, hoof van Gift of the Givers in die Oos-Kaap, het hierdie alles stomp en sinneloos laat voel. Soos 'n toondoof dwaalspoor van bevoorregting. Selfhelp-simpelgeit terwyl die wêreld eintlik uitmekaar val.

Ek was gister met ons tog hier langs die kus op so intens bewus van die skoonheid en ongereptheid van die omgewing. En die voorreg daarvan. Maar ek kon ook nie ophou dink aan die bittere swaarkry wat skuil onder die mooi van hierdie armste provinsie in Suid-Afrika nie.

Conradie vertel van die grootskaalse hongersnood in dele van die provinsie. Nie wanvoeding nie – dit sou erg genoeg gewees het. Hongersnood. Kinders wat doodgaan van die honger. En ma's wat uit 'n groteske desperaatheid hulle kinders weggee en weggooi en doodmaak. 

“Die Suid-Afrikaanse Polisie kry baie kinders se oorskot in oop ruimtes of verlate geboue. Niemand kan natuurlik met sekerheid sê dat 'n kind vermoor of verlaat is as gevolg van armoede nie, maar jy kan vir jouself dink dat hierdie gevalle van wanhoop is."

Ek kan nie ophou dink aan hierdie gesprek nie. Dit spook by my as 'n joernalis en Suid-Afrikaner – maar veral as 'n ma. Die vlak van wanhoop wat jy moet bereik om te besluit dat jy jou kind om die lewe gaan bring met rottegif, of doodsteek met 'n mes ...

En tog gebeur dit. Hier, reg onder my neus. Butterworth, die brandpunt van die swaarkry, is minder as 'n uur se ry van my voordeur af. Toleni, 'n nedersetting wat mense die dorpie van die dood noem, is volgens Google Maps 1 uur en 1 minuut se ry van my af.

As joernalis raak mens baie gewoond. Jy bou skanse en filters sodat jy jou werk kan doen. 

Die laaste keer wat 'n onderhoud so aan my gevat het, was 15 jaar gelede toe ek 'n storie gedoen het vir die televisieprogram Special Assignment oor kinderverkragtings in die Helderberg-kom. Ek onthou hoe ek in 'n donker, stowwerige “advieskantoor" in Macassar met 'n maatskaplike werker gesels het oor die 48 kinderverkragtings wat daardie maand by die Somerset-Wes-hospitaal aangemeld is. En nes met hierdie hongersnoodstorie, was die fluisterende ondertoon die verontmenslikende geweld van armoede op die psige van mense. Ek onthou hoe ek geluister het na die maatskaplike werker se uiteensetting van die “sosiale probleme": huise sonder pa's, ekstreme alkoholisme, jong seuns wat wegraak in bendes.

Dit was een van my laaste stories vir Special Assignment. Ek het kort daarna besef ek moet vir 'n ruk afstand kry van die donkerte waarmee ek week ná week gewerk het, want jy het jou hart nodig om stories oor mense se swaarkry met integriteit te vertel. Dit het destyds gevoel asof daardie storie die draad tussen my kop en my hart weggesmelt het. 

Corene Conradie, en Gift of the Givers, is die lig in die skadu wat oor my gemoed kom lê het. Sy, en hulle, verpersoonlik die heel beste in die mensdom. 

“Dr. Imtiaz [Suliman] sê altyd medemenslikheid is een enkele nasie. En wanneer jy na mense kyk, sien jy nie ras of geloof nie. Jy kyk na die mens en die behoefte van daardie mens. Alle mense het dieselfde behoeftes. Dit is die benadering wat ons by hom geleer het.

“Hierdie werk trek aan jou hartsnare. Ek voel baie dankbaar om vir Gift of the Givers te werk."

En dit is hoekom ons besluit het dat wanneer Vrye Weekblad se inhoud in Februarie agter 'n betaalmuur gaan, ons 'n persentasie van elke intekening aan Gift of the Givers gaan skenk. Want hulle is ons gewete.

Maar meer as dit: Gift of the Givers is nie praters nie; hulle is doeners. En dít is wat ons land meer nodig het as enigiets anders. Minder slim praatjies en vingerwysery en blaam. En meer voete en hande en harte op die grond. Waar dit lewens verander.

Daarmee groet ek. Jammer vir die donker wolk. Maar, soos Conradie sê, ons durf nie wegkyk nie.

Salige Sondag

Anneliese


Ode To The God Of Atheists

The god of atheists won’t burn you at the stake
or pry off your fingernails. Nor will it make you
bow or beg, rake your skin with thorns,
or buy gold leaf and stained-glass windows.
It won’t insist you fast or twist
the shape of your sexual hunger.
There are no wars fought for it,
no women stoned for it.
You don’t have to veil your face for it
or bloody your knees.
You don’t have to sing.

The plums that bloom extravagantly,
the dolphins that stitch sky to sea,
each pebble and fern, pond and fish
are yours whether or not you believe.

When fog is ripped away
just as a rust red thumb slides across the moon,
the god of atheists isn’t rewarding you
for waking up in the middle of the night
and shivering barefoot in the field.

This god is not moved by the musk
of incense or bowls of oranges,
the mask brushed with cochineal,
polished rib of the lion.
Eat the macerated leaves
of the sacred plant. Dance
till the stars blur to a spangly river.
Rain, if it comes, will come.
This god loves the virus as much as the child.

– Ellen Bass, April 2023

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.