Night of the Evil Shopping Trolley, Part I

WOENSDAG MET WILLEM

Night of the Evil Shopping Trolley, Part I

WILLEM KEMPEN wonder waarom ons so min tegnologie in die beskeie winkeltrollie sien.

Gehoor van die fantastiese nuwe winkeltrollie wat by vanjaar se Consumer Electronics Show in Nevada onthul is?

Ek ook nie. Daar was nie so iets nie.

En as nuwe tegnologie nêrens in die Las Vegas Convention Center se totale uitstalruimte van 230 000 vierkante meter 'n plekkie kon vind nie, dan bestaan dit nie.

Dis nogal vreemd, want supermarkte is van die mees bestudeerde plekke op die aardbol, en sonder winkeltrollies kan supermarkte nie oorleef nie. Die trollie-simbool pryk op elke liewe plek op die internet waar jy iets kan koop.

Moderne supermarkte is die produk van omvattende navorsing: Presies waar hulle geleë moet wees; naby watter ander handelaars dit moet wees; hoeveel parkeerplek beskikbaar moet wees; hoe die rakke gespasieer moet word en hoe hoog hulle moet wees; waar in die winkel watter spesifieke produkte uitgestal moet word; hoe breed die gange en hoe diep die vrieskaste moet wees; watter musiek gespeel mag word en teen watter volume; en so gaan dit aan.

Agter die skerms is daar verbete mededinging tussen vervaardigers van alles van waspoeier tot tandepasta om die beste moontlike plek op die rakke te probeer verseker. Die supermarkbase word mildelik beloon as hulle maniere kan vind om meer klante te lok deur dinge slimmer te organiseer. Verkoop die broodrolletjies teen 'n 20%-verlies, dan maak jy 30% meer uit tee en koffie, daai soort van ding.

Pick n Pay het pas sy voormalige bedryfshoof Sean Summers uit sy aftrede in Brittanje na Suid-Afrika laat terugkeer in die hoop om die groep weer meer mededingend te maak. Woolworths, blykbaar 'n gedurige slagveld van Suid-Afrika se verveelde klasse, moes die afgelope week wal gooi nadat iemand verkeerdelik beweer het hulle aanvaar nie meer kontant by hulle winkels nie.

En tog is die winkeltrollie grootliks onaangeraak deur dit alles. Hulle lyk feitlik nog net soos tien of twintig jaar gelede, dalk met bietjie meer plastiek en minder staal. Klaarblyklik is hulle die optimale wydte sodat presies 1,9 van hulle langs mekaar in 'n winkelgang kan inpas. Die agterwiele kan nog steeds nie gestuur word nie. Die voorwiele kan nog steeds net genoeg myle op 'n slag doen om die naaste taxistaanplek te haal. Die moeders en vaders van 2024 sukkel nog net soveel soos wat die moeders en vaders van 1984 gesukkel het om 'n kleuter sonder drama in en uit daardie goedbedoelde maar totaal onpraktiese sitplekkie te kry. Kleuters weet ook steeds instinktief om eers te vra om daar te mag sit as daar reeds te veel ander goed ingepak is sodat die stoeltjie nie meer kan uitvou nie. By die betaalpunt kan jy gewoonlik nog steeds nie van agter af iets bykom wat voor in die trollie gelaai is nie, en daar is nog steeds nie genoeg plek om te kan verbyskuif sonder om die arme vrou by die till langsaan van haar stoel af te stamp nie.

Is daar 'n ander verskynsel van ons tyd wat so bestand is teen nuwe tegnologie? Met enkele uitsonderings in fancy plekke oorsee het winkeltrollies nie 'n skerm wat vir jou sê waarheen die tamatiesous nou geskuif het nie, of wat die brood kos wat al weer nie 'n prys op het nie, of iets om die kinders te vermaak nie, of 'n plek waar jy jou foon kan inprop om te laai nie. Nie eens 'n advertensie vir die week se specials op mieliemeel of Handy Andy nie. (Daar was al 'n paar sulke pogings, maar niks daarvan sal die verwoede rangeerdery van trollies in die parkeerterrein van 'n tipiese Suid-Afrikaanse môl kan oorleef nie.)

Winkeltrollies is ook nie cool nie. Niemand word nostalgies oor die spesiale deugde van OK se 1977-model, of oor die ene wat vir die eerste keer 'n hakie vir die hondekos gehad het nie. Hulle word nie ironies ingespan as tuin-ornamente of in kunswerke nie. Voorstedelike kunsvlytklubs versier hulle nie met helder kleure of keramiek-sonneblommetjies nie. Niemand versamel uitsonderlike winkeltrollies as 'n stokperdjie nie, want hulle is nooit uitsonderlik nie. Niemand waarvan ek weet het selfs al 'n slim manier gevind om 'n winkeltrollie as 'n lekker braai in te span nie. Oor omtrent elke alledaagse voorwerp waaraan jy kan dink, het iemand in Hollywood al 'n gruwelfliek gemaak; net nie die winkeltrollie nie. 

Ten spyte van al hierdie dinge is daar geen teken dat winkeltrollies bedreig word of deur iets beter vervang gaan word nie. Niemand betoog teen óf vir hulle nie, niemand veg vir hulle oorlewing óf vir hulle uitwissing nie, niks.

Is daar hoegenaamd iets anders waarvan ons dieselfde kan sê?


Düsseldorf

Ek omarm dié park wat ek waarskynlik
nooit weer sal sien nie, 'n kort besoek
was dit. Ek kus die bome, nie vaarwel nie,
maar oopmond soos 'n getroue minnaar.
Ek vleg my vingers deur die blou wind
se hare. Tog is my liefde nie uitsluitend nie,
ek eis nie alles op nie en self gee ek ook
nie alles nie. Ons haal asem tussen elkander,
tussen twee vastelande, tussen twee drywende.
Vreemd was ek daar, vreemder leef ek hier
in 'n lyf.

- Johan Myburg

Uit: Uittogboek

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.