’n Loflied aan die goedheid van gewone mense

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

’n Loflied aan die goedheid van gewone mense

ANNELIESE BURGESS was die week in die Vrystaat en vertel langpad-stories.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek het hierdie week my “Jaar van Ja" afgeskop met 'n tog na Bothaville waar ek my broer Chris se Landbou Weekblad “Oplossings vir die platteland"-saamtrek bygewoon het. Ek beplan om my “Jaar van Ja" op die pad deur te bring. Ek wil deur die land swerf. Skryf wat ek met my oë en my hart sien. Die siel van Suid-Afrika probeer vasvang. Bly waar die wind my waai.

Ek ry die eerste dag van Oos-London na Bloemfontein. My slaapplek is 'n mistroostige woonstel met beige gordyne en lugreëling wat nie werk nie. Polsesny. (Voorneme #1: Meer moeite om depressing verblyf te vermy.)

Ek gaan soek troos in 'n kroeg op die perseel.

Dit ruik na naskeer en rook. Die musiek pomp. Rugby op die televisie - Maties teen die NWU Eagles. Maties verloor sleg. Ek drink 'n whiskey. En nog een. Dit is onuithoudbaar warm. Daar is net pizza op die spyskaart. (Voorneme #2: Ek druk nie meer duisende sinnelose kalorieë in my mond van 'n pizza met hompe catering ham en geprosesseerde mozarella nie.) Ek vis 'n appel uit my mandjie in die kar vir aandete. Die hitte laat my wilde drome droom. 

Ek val vroeg in die pad, met 'n beker Illy-koffie en Cremora, want daar is nie melk nie. Heerlik.

Bachus Nel se nuwe album, Vaalrivier. Dit is die perfekte klankbaan vir die rooigras en mielielande wat verbyflits. Sonneblomme en mynskagte. Ek is betyds vir oggendtee by die Nampo-terrein. 

Dit is 'n merkwaardige twee dae. Ek is 'n kind van die platteland. My hart lê in die landskap van klein dorpies en plase. In die vlaktes en berge. In die agterpaaie en hoekies se stilte.

Wat op Bothaville gebeur, is 'n loflied aan die goedheid van gewone mense. Tagtig van hulle vertel een na die ander die stories van hoe hulle hul gemeenskappe en dorpies red van die verval wat ons platteland in sy wurggreep het. Waar die staat verdwyn het. Waar munisipaliteite werk voorsien maar nie dienste lewer nie.

Daar is 'n optimisme wat borrel. 'n Balsem in die saamwees en in die deel van oplossings vir verslete paaie en droeë krane en uitmekaarvallende dorpskerns. Van Lichtenburg tot Murraysburg. Van Prieska tot Frankfort. Van Greytown en Hhuluwe en Pongola en Reddersburg. Wit en swart inwoners wat mekaar vind in die diep moeilikheid waarin hulle gemeenskappe verkeer. Hierdie is my mense. Mense wat dóén in plaas van net kla. Wat woeker in plaas van net woedend wees. Hierdie is my Suid-Afrika. My Suid-Afrika is nie in die leë gerammel van Groot Politiek nie, dit lê in dié fluister van hoop.

Ek sal oor die komende weke en maande meer oor die individuele stories vertel, maar vir nou twee opmerkings:

Die platteland is 'n plek waar mense baie naby aan hulle geloof lewe. Dit het my opgeval oor hoe baie van hierdie ongelooflike inisiatiewe gebore is uit mense se geloof. En dit is ook baie keer 'n gedeelde geloof wat mense oor grense saambring. Swart en wit. Bo-dorp en onderdorp. En tweedens, die platteland se grootste enkele bate is sy boere. Hulle is die rede hoekom dinge nog nie heeltemaal uitmekaar gebliksem het nie. Ons kan groot trots voel vir die landbouers van Suid-Afrika. Die boere en die werkers.

Woensdagaand, na die afsluiting van verrigtinge, word ek en my boet uitgenooi na 'n vooraanstaande boer se plaas in die Bothaville-distrik. Ons braai op die stoep van die sandsteenhuis wat uitkyk op 'n dam met wolke wit bosluisvoëls. Die gesprek om die vuur is sinlik. Oor geskiedenis en literatuur en soja wat mooi opkom. Ons drink wyn en eet later tjoppies met eenvoudige gekookte aartappels en botter om die kombuistafel wat gedek is met kerse.

Ek bly vir twee dae alleen op die plaas. Oom Andries het sake in die stad. Daar is net stilte en voëls en beeste. Ek skryf op die bank in die koel sitkamer. Maak kos in die lieflike kombuis. Drink koffie onder die eikebome. Lê in die bad en kyk hoe die swaeltjies deur die sipresbome buite die venster swiep.

Daar is geen selfoonsein nie. Ek moet ry om my eerste storie Donderdagoggend op ons stelsel te gaan laai. En toe weer vir die tweede een. Vrydag gaan sit ek in 'n koffiewinkel om te begin met hierdie brief. Mon Cherie – 'n “Franse kafee" in die boerestyl. Die spyskaart is in Vrystaat-Engels – onder andere 'n “Bobotie Pancake Skrew". Ek het nie gevra nie.

Op pad uit die dorp trek 'n winkeltjie in die hoofstraat met outydse goue letters my aandag. Tussen die Tops! en 'n Bangladesji-winkel met winkelpoppe op die sypaadjie is “Ida's Geskenke Sentrum". 

Die bejaarde dame agter die stowwerige toonbank is Ida. Sy is 92 jaar oud. Sy het dit begin nadat sy haar vorige besigheid, Ida's Carnival Cafe, 65 jaar gelede verkoop het, vertel sy. Dit was “'n tipe diner, en sy het 15 lodgers gehad ook".

Ida is die ultimate verkoopspersoon. Mense kom van Bloemfontein om hier te koop, vertel sy my. Die rakke is bietjie leeg, want sy wag vir “nuwe stock". Dis oor haar goeie pryse. Alles is uit 'n ander era en lê onder 'n dik laag stof. Ida is fantasties. Ek koop op die ou einde drie stukkies “juweliersware" wat sy my “vir 'n baie goeie prys" gee. Ek wil dit glad nie hê nie, maar sy maak dit onmoontlik om nee te sê. Sy is 'n meester. Maak die hangertjies skoon met 'n vuil lappie en druk dit in 'n papiersakkie. Ek moet gaan kontant trek. Ek wonder wanneer laas iemand hier iets gekoop het.

Ek sit daardie aand op die kombuistrappies van Thornvale en kyk hoe die dag sterf in een van die mees asembenewende sonsondergange wat ek nog ooit beleef het. Ek luister na Wagner se Tannhauser op die luidspreker wat ek in my langpad-boks saamry. 

Die eindelose groot Vrystaatse horison versmelt in dramatiese hale pienk en oranje en geel en glimmende silwer. 

Ek los 'n briefie teen die ketel in die kombuis. Om dankie te sê vir die geskenk van die twee bittermooi dae. Mens kyk op 'n ander manier na die wêreld as jy alleen is. My pa het altyd gesê: “solitude focuses the mind". Dit doen.

Daarmee groet ek.

Salige Sondag

Anneliese


Self-Pity

I never saw a wild thing
Sorry for itself.
A small bird will drop frozen dead from a bough
Without ever having felt sorry for itself.

D.H.Lawrence

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.