Nostalgie in 3D

SATERDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Nostalgie in 3D

Ons boekeredakteur deel 'n besonderse ervaring.

In Londen beleef ons die ABBA Voyage-show. Tree 1974 se Eurovision-kompetisiewenners dan nog steeds op, die vier Swede in hulle sewentigs? Nee, maar dis asof ’n mens hulle in ’n droom beleef, so lewensgetrou dat jy jouself wil knyp, en tog vreemd: fantasmagories, anderwêrelds, uncanny.

’n Duisend animeerders het Agnetha Fältskog, Anni-Frid Lyngstad, Benny Andersson en Björn Ulvaeus verewig – in state-of-the-art digitale formaat. Hulle hologramme dans voor jou oë, gooi skadu’s, hulle hare wapper en die vroue se rompe skyn deur. Daar word na hulle verwys as ABBAtars. Hierdie amper-goddelike wesens bons vanuit ’n alternatiewe universum ons s’n binne. Hulle materialiseer op ’n 65 meter-skerm. Van ver is hulle natuurlik so groot soos vuurhoutjies, maar die beelde word ook in groter formaat aan die kant van die verhoog geprojekteer, soos by musiekfeeste. Hulle lyk glansend, afgerond, met leë oë en ewigdurend breë glimlagte, soos alle popsterre oral.

Daar is hipnotiese visuele effekte en pisgedeliese diskoligte. Dis soos ’n sampioentrip – jou brein wapper in die wind, gebaai in elke skakering van die reënboog.

Ek is snobisties oor live musiek. Ek was al by shows waar die muso’s geswael en onsamehangend was, hulle woorde vergeet en oor die mikrofoonkoord gestruikel het. Van die noot af gesing het. En tog: ’n mens vergewe alles, want jy was daar. In die oomblik. Lewend, ongeredigeer. Jy was deel van die belewenis.

Vir wat wil ’n mens dan na hologramme gaan kyk? Miskien omdat mense met die hulp van tegnologie ’n verstommende produksie opgedroom het en omdat dit vir my, chronies liggelowig en bereid om elke illusie te omhels, kompleet gevoel het asof ABBA in die vertrek is. Die gevoel word versterk deur die ekstatiese entoesiasme van duisende sittende, staande en dansende konsertgangers. Die Sweedse supersterre was dáár.

Nostalgie spoel in golwe oor my. Opeens is ek is terug in die sewentigs, op hoërskool, op my bed onder die ABBA-plakkaat, met my kassetspeler. Ek en duisende ander. “Fernando” klink op en ek hoor weer hoe my supernova-ma en vuurvreter-tante, albei nog jonk en elegant, dit soos engele harmoniseer om die vuur by Boggomsbaai. Die gehoor dans op alles.

Daar is ’n orkes van tienstuks wat lewendig optree, waaronder Britpop-kunstenaars en sangers. ABBA en live musiek trou soos jakkals en wolf se vrou, voor jou oë.

Die gehoor is op hulle voete en gillend met die crescendo van “The Winner Takes It All" – ’n golf suiwer energie wat beurtkrag vir ’n paar minute sou kon ophef.

Die ABBA-arena is spesiaal ontwerp en gebou vir die show. Dit spog met ’n surround sound-sisteem met 291 luidsprekers. Dit kan opgepak en oor die wêreld heen opgeslaan word, so hierdie konsert gaan myle optel. Glo my as jy wil.

Dit laat ’n mens wonder waar die grense van die brawe nuwe wêreld lê. Wat gaan mense nog regkry, en lui dit die doodsklok vir konserte met musikante van vlees en bloed, wat moeg word, te veel drink, keelseer kry, ouer word? En politici? Gaan die smalende Putin nooit meer sy paleis verlaat nie, maar drie-dimensioneel geprojekteer word voor ’n reusegehoor? Gaan die SONA-spiets afgesteek word deur ’n Ramaphosatar, nou bloedloos sowel as ruggraatloos? Hou hierdie ruimte dop.


hemelwaarts                                                   

vermaer staar die man
uit sy toring van verlange
haar name is stede op ’n kaart
wat hy opgeteken maar verloor het
die voëls wat om sy minaret maal
is so vergete al blind en stom

deur klowe van afskeid en terugkeer kom sy
in ’n jas van woorde gepapier
na die gedig en die waarheid
se maskerdans

en sy vreugde was soos wilde dogters in die veld
wanneer hul hul dansweerkaatsings soen

sal ons vir lief neem met die ure
in mekaar verweef
soos die baba Moses
in sy mandjie van palmiet
verstrik in die graslied
van die bruin rivier
wat weer soos daardie eerste keer soel
na die herwonne wêreld spoel
luister kamiljoentjie
die water is saam met ons bly

nagte word ’n vleuelende vlag
wat ligter as ’n windswael dein
gewieg op die hoogwater
van haar tong wyndonker
bestrooi in verkoolde sterre
om die weg na die korf oop te rook

uit ’n rib van sy lies
het hy ’n fluit gekerf
sodat sy haar hart mag doop
in die heuning wat uit sy lied sypel
hulle saamword is ’n sloot van verlange
omswagtel in ’n windsel van gesange
as bly-by-my deur die beendere genoot

om die trapsoetjies te laat dans
op die minaret se maat
in die grag van stilte waar vlerke dryf

- Dominique Botha

Van: Litnet

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.