Joer is dood

MAANDAG MET MAX

Joer is dood

Die dood van 'n geliefde hond laat MAX DU PREEZ ver dink oor wat presies ons vir ons kinders nalaat.

My hond Joer (kort vir Jurie Wessels, of Yuri, soos hy deur gesinslede as babahondjie gedoop is) is Woensdag voor my huis deur 'n kar doodgery. Die elektroniese toegangshek het onverwags onklaar geraak en hy het besluit om die buurt te verken.

Joer was 'n Yorkie-tipe brak met kort beentjies, 'n stomp neusie en sielvolle oë. Hy was lojaal en toegewyd tot 'n vlak wat aan irriterend gegrens het. Hy het my letterlik orals gevolg, voor my voete gelê terwyl ek skryf, langs my bed geslaap en was uitermate verheug elke oggend as ek my oë oopmaak. So asof hy gevrees het vir die dag dat ek nie wakker word nie.

So klein as wat Joer was, so dapper en kordaat was hy. Hy het by geleentheid die grootste bobbejaanmannetjie wat in ons tuin hier in Simonstad kom kuier het, probeer doodbyt. Maar 'n kwaai woord van my as hy iets gedoen het waarvan ek nie gehou het nie, het hom diep seergemaak en vir ure laat sulk.

Sy beste hondemaat was Moemoe, ons wollerige baster-optelbrak. Die twee het, soos broers maar maak, baie keer kwaai stry gekry, maar hulle was onafskeidbaar.

Moemoe – en ek maak dit nie op nie – is erg neerslagtig na Joer se dood. Hy loop in 'n dwaal rond en lê vir lang rukke stil met oop oë. Hy lê nou op Joer se plek by my voete en langs my bed. Anders as gewoonlik wil hy nou net op my skoot sit. Hy wil getroos word en hy wil my troos.

Joer was nie my kind nie, hy was 'n hond. Maar my honde is 'n groot deel van my daaglikse bestaan en 'n opkikker vir my psige. Bronne van liefde en aanvaarding, kamerade in die mooiste sin van die woord. Honde speel al tienduisende jare lank dié rol in ons spesie se evolusie en is veral belangrik vir introverte en mense met onderontwikkelde sosiale vaardighede. Soos ek.

Ja, ek het bitterlik gehuil toe ek Joer se pap lyfie moes optel. Maar die werklike reaksie is 'n vertraagde een. Ek word in die nag wakker en onthou sy snaaksighede. Ek loop in die huis en tuin rond en moet myself net keer of ek roep sy naam. Ek sal vandag sy mandjie langs my bed êrens moet gaan wegsteek.

As ek my oë toemaak, spoel 'n gevoel van bodemlose verdriet en verlies oor my. En dis nie asof die dood iets vreemd is in my lewenservaring nie.

Dan besef ek dit gaan nie net oor 'n dooie hond nie. Dit gaan oor al die verlies en hartseer wat ek in my lewe ervaar en nooit behoorlik verwerk het nie.

Ek het Saterdagaand weer my trane voel vloei. Ek het na Aljazeera se beelde van beseerde kinders in Gaza en kinders wat na hulle dooie ma’s roep, gekyk. Dalk het my hartseer oor Joer my dik joernalistieke pantser 'n bietjie dunner gemaak.

Israel en sy ondersteuners kan enige redenasie oor die land se reg om homself te verdedig oproep of Hamas as 'n spul fanatiese terroriste uitmaak, maar die impak van die oorlog op honderdduisende jongmense en kinders in Gaza, en die dood van sowat 12 000 van hulle, laat 'n diep wond aan die hele mensdom, ook aan Israeli’s en Jode self.

Jy wat hier lees het self 'n slegte herinnering uit jou kinderdae wat jou vandag nog bybly. Dit kan die dood van 'n ouer wees, soos in my geval, of 'n broer of suster of beste maat; dit kan geweld, mishandeling of swaarkry wees. Maar dit kan ook 'n geboelie of 'n vernedering op skool wees, of 'n lelike ding wat 'n familielid vir jou gesê het of iets soortgelyks wat op die oog af nie erg klink nie.

Dié wonde en kwetsings blý by ons, veral as ons nie gehelp was/word om dit behoorlik te verwerk nie. En dit het 'n impak op ons geestesgesondheid.

'n Dekade of twee, drie van nou af gaan die kinders van Gaza wat oorleef nog die sielkundige letsels van die verskriklike oorlog van die laaste vier maande dra. En hulle gaan dié trauma aan hulle kinders oordra.

(Dit geld natuurlik ook ander konflikte, soos die burgeroorlog in Soedan of Rusland se oorlog in Oekraïne, maar van Soedan weet ons min en die burgerlikes van Oekraïne is nie so 'n primêre teiken van die aanvalsmag as wat die Palestyne van Gaza is nie.)

Hier by ons aan die suidpunt is dit veral die kinders wat in woongebiede bly waar die bendes hoogty vier wat my bekommer: gewelddadige plekke soos Westbury in Johannesburg en Bonteheuwel, Manenberg en die Kaapse Vlakte in Kaapstad.

Die meeste van die kinders in sulke gebiede was al ooggetuies van skietery of ken iemand wat in bendegeweld gedood of gewond is. Hulle, en hulle ouers, leef elke dag met die vrees dat hulle volgende gaan wees.

Watter kans het dié jongmense om eendag gebalanseerde, liefdevolle en produktiewe lewens te lei?

Ons het 'n leër nodig: 'n leër van toegewyde maatskaplike werkers, terapeute en sielkundiges.

Maar daar is nie geld nie, sê die regering. Wat van die meer as R2 biljoen wat elke jaar aan die persoonlike beskerming van politici en amptenare bestee word? Kan ons nie die helfte daarvan gebruik om na ons jongmense se geestesgesondheid om te sien nie?

Kan ons nie die president se blouligkonvooi van 14-plus duur Duitse motors na sewe verminder sonder om sy veiligheid in gevaar te stel nie? Het die burgemeester van Phuthaditjhaba regtig agt lyfwagte nodig?

Elke gemeenskap, elke beskawing het dié strewe: ons kinders moet beter daaraan toe wees as ons.

Ons kry dit nie juis reg hier in Suid-Afrika nie.

Drink saam met my 'n dop op Joer en alle wesens soos hy. En kom ons gee meer vir mekaar om, en vir ons kinders.

Gegroet

Max


En as ek dood is

En as ek dood is, sal alles nog so mooi wees? …
die ylrooi bloeisels smôrens blink aan die perskeboom,
wit wolke torings bou daar bo die verste berge,
die kalwers langs die kraalmuur smiddags lê en droom?
sal daar nog warm son wees tussen donker bome?
Sal voor my venster nog die rose somers rank,
die berge ver, so ver en blou wees?
Ek wil geen mooier wêreld hê as hierdie,
ek wil nie blind wees, blind en doof en koud.

- N.P. Van Wyk Louw

Uit: Alleenspraak

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.