As uiterlike skoonheid nie meer tel nie

DINSDAG MET ANESCA SMITH

As uiterlike skoonheid nie meer tel nie

Dis absurd hoe mense hulle deur uiterlike skoonheid aan die neus laat lei, skryf ANESCA SMITH.

Dagsê

Dit was 20 Februarie 2014 en oudpres. Jacob Zuma het op die punt gestaan om sy staatsrede in die parlement te lewer. Maar in plaas van Zuma was daar ’n ander Suid-Afrikaanse politikus wat daardie dag die tonge los gehad het: Tim Harris.

Harris was destyds 'n DA-LP en het in die parlement se staande komitee oor finansies gedien. Ongelukkig was dit nie sy ekonomiese kennis wat mense laat swymel het nie, maar sy voorkoms. Suid-Afrikaanse politici is nie sexy nie (let’s face it), maar Harris was ’n uitsondering en op Twitter is daardie dag behoorlik gekwyl toe foto’s van hom by die opening van die parlement verskyn het.

Ek wonder of meer mense daadwerklik DA sou gestem het as Harris die partyleier was? Want dit is nou eenmaal so: sex sells. 

Aan die ander kant weet ek nie of skoonheid en sjarme ’n bepalende faktor onder Suid-Afrikaanse kiesers is nie Ons is immers desperaat vir bekwame politici, nie vir sexy politici nie.

Die Nederlandse tydskrif Filosofie het onlangs ’n reeks artikels oor skoonheid gepubliseer. Een mening wat ek interessant gevind het, was dié van die Italiaanse filosoof Francesca Minerva. Volgens haar word veel aandag aan diskriminasie op grond van huidskleur, geslag en ouderdom geskenk, maar weinig aan lookism – oftewel, diskriminasie op grond van uiterlike aantreklikheid.

“Mooi babas word meer vertroetel. Aantreklike mense kry makliker ’n werk, kan gouer die regbank oortuig, wen makliker verkiesings en vind gouer  liefde as onaantreklike mense. Andersom kry laasgenoemde dikwels swaarder strawwe, dis lastiger vir hulle om ’n werk te vind en hulle verdien minder,” voer Minerva aan.

En sosiale media en dating-apps maak dit nog moeiliker. “Neem Tinder as voorbeeld: Vroeër kon lelike mense hulle humor in die kroeg inspan om ’n moontlike liefdespartner te verower, maar nou kom dit nie eens sover as ’n eerste afspraak nie, want hulle word meteens weg geswipe."

Minerva pleit daarom dat mense wat te veel afwyk van ons aangebore voorkeure oor aantreklikheid toegang tot gratis plastiese snykunde kry.

Trouens, die ekonoom David Hamermesh het al bereken dat onaantreklike mense in hullle lewe gemiddeld sowat R420 000 (€20 000) minder verdien weens hulle uiterlike en eintlik daarvoor vergoed moet word.

Een van die beste films wat ek onlangs gesien het, was The Triangle of Sadness waarin skoonheid as betaalmiddel onder die loep kom. Ons ontmoet twee modelle in ’n verhouding met mekaar – Yaya en Carl. Omdat modelwerk een van die min beroepe is waarin vroue meer betaal word as mans, is Yaya se verdienste veel meer as Carl s'n. Dit sorg vir spanning in die verhouding.

As die twee op ’n gratis bootreis saam met ander rykes en bekendes gaan (danksy Yaya se bykomende verdienste as influencer) en die boot vervolgens sink, beland hulle saam met ander gaste én die personeel op ’n verlate eiland. En skielik word die rolle omgeruil: die rykes is nou in ’n wêreld waar hulle geld niks meer werd is nie en die enigste een wat kan visvang, kook of selfs vuurmaak, is die boot se voormalige toiletskoonmaker, Abigail, wat nou in beheer is en onmiddellik in ’n outokraat ontpop.

Die wiel draai ook vir Carl. Sy aantreklikheid help die groep op geen enkele manier nie, maar dien wel as oorlewingsmiddel vir homself: in ruil vir seksuele gunsies kry hy beter behandeling (en etes) van Abigail. Skielik is sy skoonheid meer werd as dié van Yaya.

Minerva se pleidooi klink absurd en is natuurlik nie haalbaar nie. Maar is dit nie ook absurd hoe ons onsself gewillig deur skoonheid aan die neus laat lei nie?

Mooi week.

Anesca


Manuskrip in ’n bottel

ek is van die aarde

ek leef in die stilte

dit het ek lief

Marius Nigrini

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.