Sonder die Rothschilds sou die geskiedenis anders (en beter?)...

WOENSDAG MET WILLEM

Sonder die Rothschilds sou die geskiedenis anders (en beter?) verloop het

WILLEM KEMPEN wonder hoe die Rothschilds onthou gaan word.

Die Britse finansier lord Jacob Rothschild is Maandag in die ouderdom van 87 oorlede. As die mees senior oorlewende lid van Europa se magtigste bankiersfamilie is dit nie 'n verrassing dat hy fabelagtig ryk was nie, maar hy was – waarskynlik – nie “die rykste mens ter wêreld" soos opgewonde kommentaar-krygers op sosiale media dit wil hê nie.

(Dis moeilik genoeg om die rykdom van 'n individuele entrepreneur soos Jeff Bezos of Elon Musk te probeer vasstel gegrond op hulle aandeelhouding in genoteerde en ander maatskappye, maar mens moet gewoonlik heelwat spekuleer oor die ware fortuin van 'n familie soos die Rothschilds. Die mees waarskynlike ramings is in die omgewing van $1 biljoen vir die familie as geheel, en dis versprei oor baie vertakkinge en individue. Dit kan ook heelwat meer as dit wees...)

Onder al die effens onverwagse dinge wat sedert Maandag oor Jacob Rothschild gesê is, is dat hy die inspirasie was vir The Simpsons se Charles Montgomery Plantagenet Schicklgruber, oftewel Mr. Burns. Is dit regtig so? Dalk, dalk nie.

Nog 'n voorbeeld is 'n gewaande numeroloog wat op X wil weet of nog iemand die aardskuddende betekenis van Jacob Rothschild se sterfdatum insien: As jy die twee en ses van die dag in Februarie by die tweede maand van die jaar tel en dan ook die vier syfers in 2024, dan kom jy by 18 uit, wat dan weer optel na ... ja, die demoniese, apokaliptiese Nege! Wys jou net.

Die punt is, die blote noem van die naam Rothschild laat mense groter as gewoonlik dink en laat verbeeldings op loop sit.

Daar was ook nie die afgelope week 'n tekort aan Facebook-profete en ander heldersiendes wat een van die oudste en hardnekkigste samesweringsteorieë oor dié skatryk Joodse familie herhaal het nie: Dat Nathan Rothschild ná die Slag van Waterloo op 18 Junie 1815 'n fortuin gemaak het deur heel eerste die nuus van Napoleon se nederlaag amptelik in Londen te kon aankondig en aandele kon koop wat by dié nuus baat gevind het.

Die joernalistiek-akademikus Brian Cathcart het in 2015 in die Britse koerant Independent die oorsprong van dié teorie teruggespoor na 'n pamflet wat meer as drie dekades ná Waterloo op verskeie plekke in Europa gedruk en versprei is. Die pamflet, Histoire édifante et curieuse de Rothschild Ier, roi des juifs, is deur ene Georges Dairnvaell onder die self-in-voet-skietende skuilnaam “Satan” geskryf.

Onder die opskrif “The Rothschild Libel: Why has it taken 200 years for an anti-Semitic slur that emerged from the Battle of Waterloo to be dismissed?" het Cathcart verskeie aspekte van die storie as versinsels uitgewys. Nathan Rothschild was byvoorbeeld glad nie op daardie dag eens naby Waterloo nie.

Wat wel waar is, is dat Mayer Amschel Rothschild sy vyf seuns, insluitend Nathan, in die 18de en 19de eeu strategies oor Europa versprei het, dat hulle sodoende ons moderne bankstelsel geskep het, en dat die familie in die proses skouspelagtig ryk geword het. 'n Goeie voorbeeld van die familie se invloed is dat 'n Rothschild-lening die Britse regering in 1875 in staat gestel het om die Suez Canal Company se grootste aandeelhouer te word.

Die ander groot vraag wat altyd oor die Rothschilds gevra word, is oor hulle rol in die Balfour-verklaring van 1917 en die totstandkoming van Israel ná die Tweede Wêreldoorlog en die Holocaust. Kyk onder wat Jacob Rothschild daaroor gesê het:

Hulle is dalk nie meer die wêreld se héél rykste familie nie, maar dis moeilik om te dink aan 'n enkele ander naam wat 'n groter invloed op die verloop van die geskiedenis gehad het as dié van die Rothschilds.


insulien, ’n klein mitologie

op eilandjies ver van Griekeland
speel 'n intrige in die kleine af,
'n stryd om grondstowwe en skatte,
onderhandel boodskappers,
storm troepe uit Trojaanse perde,
veg ridders verbete,
meng gode lukraak in –

helde met spies en swaard bring
soet verligting
en tydelik is daar oorvloed
en fees, klink Pan
se fluite op en rus Achilles
op sy louere, verbeel hom
van sy swakheid genees.

- Ilse van Staden

Van: Versindaba

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.