Die r-woord verg nadenke

DONDERDAG MET MERCY

Die r-woord verg nadenke

MERCY KANNEMEYER meen mens kan nie sommer so lukraak vir iemand staan en vra hoekom hulle wit is nie.

Image: ANGELA TUCK

In ’n Sondagkoerant (mal daaroor dat ons na ’n Sondagkoerant verwys terwyl ons almal weet dat ons van Rapport praat), lees ek van ’n regter se “bisarre ras-eis”. Die volledige opskrif was: Regter se bisarre ras-eis: ‘Hoekom is julle almal wit? Verduidelik!' (Haal asem, tel tot tien).

Nou moet ek bieg – die kop het klaar nie lekker met my gesit nie. En aangesien ek ons lesers hier as van my beste en getroue vriende sien, kan ek mos maar eerlik wees. Wanneer koppe of mense of selfs ’n caption op Instagram ras op so ’n manier stel dat dit lyk asof dit ’n negatiewe konnotasie by het, staan my afro penorent.

Ons land is (on)gelukkig steeds op ’n te brose, sensitiewe, in-ons-ontwikkelingsfase plek vir ons om ligtelik om te gaan met die woord ras en alles wat daarmee gepaard gaan. Gaan stry met jouself oor hoe ons al 30 jaar in ’n demokrasie leef. Oh-my-word-Mercy-kom-net-oor-dit, en die-chip-op-jou-skouer-is-al-’n-aartappelplaas, Mercy. Soveel soos wat ons almal aan die nuwe Suid-Afrika wil bou, soveel soos wat ons ’n post-ANC-Suid-Afrika in ons leeftyd wil sien, moet ons die misdrywe van die verlede te alle tye vierkantig in die oë kyk en ’n ding op sy naam roep.

Os. Jas.

Art. 9 van die Grondwet word deur regter Mandlenkosi Motha voorgehou as die rede vir sy vraag oor waarom die regslui wat voor hom verskyn, nie divers genoeg is nie. Art. 9 gaan oor gelykheid: “Elkeen is gelyk voor die reg en het die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg.”

Subart. 3 van Art. 9 lui: “Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.”

En dan spring subart. 5 uit met: “Diskriminasie op een of meer van die gronde in subart. (3) vermeld, is onbillik, tensy daar vasgestel word dat die diskriminasie billik is.”

En weet julle wat is FANTASTIES van ons Grondwet? Dis vooruitstrewend, beslis, swart op wit, en nie onduidelik oor ons regte en verantwoordelikhede nie. ’n Hooggeregshof wat die Grondwet verontagsaam? Brand die hele plek af.

Heel wroegend probeer ek toe nou Sondag met die bisarre rasding deal. Lees deur die hofsaak. Soek die stuk in ander publikasies. Google konsepte wat ek nie verstaan nie. Regspraak lees nou juis nie soos die instruksies op ’n papboks nie. Wroeg, wroeg, wroeg en wremel – HOKAAI. Ras het min met dié saak te make. Verstaan my mooi, my mede- sosiale geregtigheidswarriors en vyfde vlaag veministe (wink-emoji), spaar die goeie bra’s vir ’n ander dag se bra-brandery. Motha se vraag oor waarom die regspan wit is, het geen plek in die saak wat aangehoor moet word nie. Verstaan my nóg mooier. Ek het Kimberlé Crenshaw en interseksionaliteit sowel as kritiese rasteorie so diep bestudeer (in my MA-tesis), dat ek met my bors uitgestoot híér op hierdie Donderdag in die jaar van onse Heer 2024 vir julle kan sê – ras het niks met die saak tussen PERI Formwork Scaffolding Engineering en die Kommissie vir Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging te doen nie.

Ek vra graag waarom sekere situasies (soos panele, rade van plekke, verhoogproduksies, redaksies, flieks en so) slegs wit mense bevat. Ek vra dit met die hoop op ’n gesprek oor transformasie en inklusiwiteit. En, baie belangrik, ek vra dit wanneer dit saak maak. ’n Mens kan nie sommer so lukraak vir mense staan en vra hoekom hulle wit is nie. Relevansie. Tydsberekening. Grasie. ’n Verstaan van mekaar of 'n poging om mekaar te verstaan-houding. Alles trefwoorde vir wanneer ons oor die r-woord wil gesels.


Autumn song

Now the leaves are falling fast,   
Nurse's flowers will not last;
   
Nurses to the graves are gone,
   
And the prams go rolling on.
   
Whispering neighbours, left and right,
   
Pluck us from the real delight;
   
And the active hands must freeze
   
Lonely on the separate knees.
   
Dead in hundreds at the back
   
Follow wooden in our track,
   
Arms raised stiffly to reprove
   
In false attitudes of love.
   
Starving through the leafless wood
   
Trolls run scolding for their food;
   
And the nightingale is dumb,
   
And the angel will not come.
   
Cold, impossible, ahead
   
Lifts the mountain's lovely head
   
Whose white waterfall could bless
   
Travellers in their last distress.

– W.H. Auden

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.