Hoera vir Meghan en kleurvolle uitrustings

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Hoera vir Meghan en kleurvolle uitrustings

ANESCA SMITH is sat vir die skakerings van saai wat alles oorheers.

Ek soek op die internet na ’n gevlegde of geweefde Afrika-mandjie vir my ateljee – verkieslik iets met kleur.

Nee, ek gaan nie ’n mandjie uit Suid-Afrika saambring nie, want dis te groot vir my bagasie en ek het al gesien hoe smyt koffergooiers items met spesiale afmetings die vliegtuig binne. My soektog voer my na ZARAHOME. Maar o my goeie fok – álles is beige. Ek scroll en ek scroll. Dieselfde storie met beddegoed, vase en tapyte.

Ek was natuurlik vaagweg bewus van die opkoms van minimalisme à la die 1990’s in klere en tuisversiering die afgelope twee of drie jaar, maar het eerlikwaar gedink die trend het ’n stille dood gesterf nadat die TV-reeks Succession sy laaste asem uitgeblaas het. Dié reeks word alom beskou as die voedingsbron vir die gewildheid van sogenaamde quiet luxury – peperduur, maar saai items in skakerings van beige, grys, swart en roomkleurig.

Daar is selfs ’n verskynsel op TikTok genaamd “beige Mums”. Dis ma's wat nie net hulleself en hulle huis in beige uitdos nie, maar selfs hulle babas – die speelgoed, die kinderkamer en natuurlik die kind self. Waarom sou jy jou kind kleur ontsê?

Ek het waardering vir minimalisme. Die elegansie daarvan. Die eenvoud van skoonheid. I get it. Maar self het ek besluit om hierdie jaar meer helder kleure te dra. Soos wyle koniningin Elizabeth II – iemand wat wêreldwyd bekend was vir haar kleurvolle ensembles (vir haar 90ste verjaarsdag was sy in neongroen).

Meghan Markle het een keer vertel hoekom sy byna altyd in neutrale kleure in die openbaar geklee was toe sy en prins Harry nog in Engeland gewoon het. Daar was glo ’n ongeskrewe reël dat jy nooit dieselfde kleur as Haar Koninklike Hoogheid op koninklike uitstappies kon dra nie.

En asseblief, as jy Meghan haat, staan net soontoe, boomer. Ek het nog nooit ’n goeie of begryplike rede gesien waarom dié jong vrou nou al jare oorspoel word met 'n golf walglike kommentaar in die Britse pers en op sosiale media nie.

Dit gaan ’n bietjie soos volg: Iemand op sosiale media sal ’n storie oor Meghan versin oor waarom sy o-so-verskriklik is. Vervolgens word dit deur die Britse pers versprei – ongeag of dit waar is of nie – wat dan weer selfaangewese koninklike kenners vir kommentaar (byna altyd negatief) nader hark. En dan gaan die bespreking terug na sosiale media oor waarom Meghan die grootste monster is wat tot nog toe geleef het en “gedwing moet word om naak deur die strate te loop terwyl mense stront na haar gooi”, soos Jeremy Clarkson al in ’n rubriek geskryf het.

Ek sien selfs die grootste aanvoerders van die haat-veldtog teen Meghan (publikasies soos The Spectator, The Sun en natuurlike The Daily Mail) het verlede week gepleit dat mense Kate Middleton ná Photoshop-gate asseblief met rus moet laat, want “sy is ’n vrou en 'n moeder”. Ha!

Nietemin, ek gaan hierdie jaar meer kleur dra. Ek moet erken, ek het nooit werklik nagedink oor kleur as ’n medium vir die omarming van my Suid-Afrikaanse kultuur nie, tot ek in Nederland kom woon het waar die uniform ook maar ’n skakering van saai is. Behalwe op Koningsdag. Dan dra almal oranje.

En dis goed om te sien dat Markle nader aan die einde van haar tydperk in Brittanje weer in volle kleur te sien was. Hoera, Meghan.

Mooi week

Anesca


Pied Beauty 

Glory be to God for dappled things –   
For skies of couple-colour as a brinded cow;      
For rose-moles all in stipple upon trout that swim;
Fresh-firecoal chestnut-falls; finches’ wings;   
Landscape plotted and pieced – fold, fallow, and plough;      
And áll trádes, their gear and tackle and trim.
All things counter, original, spare, strange;   
Whatever is fickle, freckled (who knows how?)      
With swift, slow; sweet, sour; adazzle, dim;
He fathers-forth whose beauty is past change:                               
Praise him.

– Gerard Manley Hopkins

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.