Gesoek: diversiteit en jeugdigheid in ons regering

MAANDAG MET MAX

Gesoek: diversiteit en jeugdigheid in ons regering

MAX DU PREEZ bepleit meer diversiteit en jeugdigheid in die uitvoerende gesag ná die komende verkiesing.

Wallis het pas 'n swart premier (first minister) gekry, Vaughan Gething, wat in Zambië gebore is. Sy pa is 'n Walliese veearts, sy ma was 'n Zambiese hoenderboer, wat hom in ons taal seker bruin maak.

Nie een van die Verenigde Koninkryk, die eens magtige Britse empire, se top-leiers is nou meer wit mans nie.

Die Britse eerste minister, Rishi Sunak, se ouers is van Indiese herkoms en hy is in Tanzanië gebore.

Die premier van Skotland, Humza Yousaf, se ouers is van Pakistanse herkoms, so ook die ouers van Londen se burgemeester, Sadiq Khan.

Die regering van Noord-Ierland word deur twee vroue, Michelle O'Neill en Emma Little-Pengelly, gelei.

Laat dit vir die res van die wêreld 'n voorbeeld wees. Diversiteit in etnisiteit en gender is 'n groot bate.

En jeugdigheid. Sunak is 43 jaar oud, Gething 50, Yousaf 38, Khan 53, O’Neill 47 en Little-Pengelly 44.

En in Amerika veg twee stokou wit mans om die presidentskap: Donald Trump is 77 en Joe Biden is 81.

Volgens die onlangse meningsopname van die Brenthurst-stigting is die twee gewildste politieke leiers in Suid-Afrika onderskeidelik 71 (Cyril Ramaphosa) en 81 (Jacob Zuma).

Afrika hou van ou ballies. Yoweri Museveni van Uganda is 79, Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe is 81 en Hage Geingob van Namibië was 82 toe hy onlangs in die amp gesterf het.

Ons opposisieleiers is darem meestal jonger. Julius Malema van die EFF is 43, John Steenhuisen van die DA is 47, Songezo Zibi van Rise Mzansi is 48, Gayton McKenzie van die Patriotic Alliance is 50, Velenkosini Hlabisa van die IVP is 59, met Herman Mashaba van ActionSA op 64 en Pieter Groenewald van die VF Plus op 68 die oubasies, darem steeds onder 70.

Ons het die laaste dekade of twee verskeie jong vroue as staatshoofde verkies gesien. Voorbeelde van dienende eerste ministers of presidente is Vjosa Osmani van Kosovo (41); Kaja Kallas van Estonië (46); Evika Silina van Latvië, Ana Brnabic van Serwië en Katrin Jakobsdóttir van Ysland (al drie 48); Zuzana Čaputová van Slovakië (50); en Maia Sandu van Moldova (51). Sanna Marin was 34 jaar oud toe sy in 2019 die eerste minister van Finland geword het. Sy was tot verlede jaar in die pos. (Daar is darem hier en daar 'n jong manlike president ook, soos die 37-jarige Gabriel Boric van Chili.)

Suid-Afrika het 'n kans om ná die verkiesing van 29 Mei meer jeugdigheid en diversiteit na sy uitvoerende gesag te bring.

Ons soek meer jong vroue en ons het meer bruin, wit en Indiër-lede van die kabinet en provinsiale regerings nodig.

Wat van 'n sterk, jongerige Afrikaner, vrou of man, as minister van landbou, byvoorbeeld? Soos die uiters knap Annette Steyn (54), grondkenner en gewese skaduminister van landbou in die parlement? En 'n jongerige, dinamiese bruin minister van onderwys? Om mee te begin.

Ons het al in die verlede lede van ander partye as die regerende ANC as ministers en adjunk-ministers gehad. Mangosuthu Buthelezi van die IVP en Patricia de Lille van Good, byvoorbeeld, en Pieter Mulder van die VF Plus.

Die president mag boonop twee ministers en twee adjunkministers aanstel wat nie lede van die nasionale vergadering is nie – dit het ook al 'n slag of wat gebeur.

Glynnis Breytenbach van die DA as minister van justisie? Corné Mulder van die VF Plus as minister van samewerkende regering en tradisionele sake? Zibi as minister van binnelandse sake? Ayanda Allie van Build One SA as minister van kommunikasie? Michael Jordaan as minister van handel en nywerheid? Adrian Enthoven as minister van minerale en energiesake, met Mark Swilling as sy adjunk? Mbali Ntuli as minister van vroue en die jeug? Wat van die gewese parlementêre leier van die DA, Lindiwe Mazibuko?

En behoort daar nie plek in ons nasionale regering vir een van ons mees talentvolle politici en Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis (37), te wees nie?

Ons verwagting as burgers is dat 29 Mei 'n keerpunt gaan wees; dat dit die einde van die ANC se eenpartydominansie gaan beteken; dat dit die eintlike Nuwe Daeraad gaan inlui.

Ons is omtrent almal behoorlik gatvol vir korrupsie, onbevoegdheid, water- en energieprobleme, verrottende stede en swak ekonomiese groei wat werkloosheid aanblaas. Die verskil tussen ons nasionale etos en dié van die regerende ANC is al lankal onhoudbaar en onnatuurlik groot.

Kom ons aanvaar dat die ANC steeds die grootste enkele party gaan wees, maar nie naby 50% gaan uitkom nie. Kom ons aanvaar vir die doeleindes van dié gesprek, hoewel dit geen uitgemaakte saak is nie, dat Ramaphosa steeds ons president gaan wees.

Die eerste twee weke van Junie 2024, wanneer 'n nuwe uitvoerende gesag gevorm moet word, is amper meer kritiek as die verkiesingsuitslag self.

Dit bied aan Ramaphosa, dan in sy finale termyn, die ideale geleentheid om iets nuuts, iets meer verbeeldingryk, opbouend en produktief te doen as om weer 50 of 60 dikgevrete, gatkruipende en meestal onbevoegde ANC-kaders as ministers en adjunkministers aan te stel.

Vanaf 1 Junie is die ANC nie meer gelykstaande aan die staat en die staat aan die ANC nie. Wat ook al die permutasies van 'n koalisieregering, dit is 'n helse groot sprong vorentoe.

Dit is potensieel 'n goue oomblik. 'n Diverse, bekwame nasionale leierskap is 'n voorvereiste.

Voor ek groet, 'n kennisgewing: hierdie is die laaste van my Maandag-briewe wat gratis is om te lees. Van volgende Sondag af sal ons daaglikse briewe aan lesers agter die betaalmuur wees, soos die res van ons premium-artikels. Ek hoop regtig dat as jy nog nie ingeteken is op Vrye Weekblad nie, jy dit nou sal doen.

Dit kos R75 per maand. En daarvoor kry jy vier weeklikse uitgawes en ses daaglikse nuusbriewe. Ek kan nie aan 'n beter deal dink nie. Per week kos dit minder as 'n (gewoonlik swakkerige) cappuccino. En per maand minder as 'n middelmatige bottel wyn – en baaaaie minder as 'n goeie bottel olyfolie.

Kliek hier om dit sommer nou te doen. En as jy enigsins sukkel, stuur vir ons'n e-pos by hulp@vryeweekblad.com. Of WhatsApp ons by 071 170 8927. Ons sal jou probleem baie gou oplos.

Groetnis!

Max


Tydens onluste

Ek het my skoene verloor. En nou weet
ek nie wat om te doen nie. Die probleem is
net ek was die vervangbare een. Dis
min dat 'n ou sy skoene vergeet

in sy ex-meisie se flat. Ek het nog
gebruik daarvoor gehad: ek wou hulle
agterna gooi … Hoe jammer tog!
Of was dit mý skoene … die twee vrot skille

toe ons moes weghol van die Boere?
My skoene kleef te lank aan vloere.

Twee ou visbote sonder asemspane,
die nou passaat van my tree versaak
deur sy ponte; die heimwee-hamers
is nou polsloos, my kliphasies naak.

– Charl-Pierre Naudé

Uit: Die nomadiese oomblik

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.