Goeiedag
'n Groot tenker lê nou al 'n paar dae op anker in die see voor my huis. Die romp is bloedrooi. Die res is wit. 'n Skip soos 'n kind dit sou teken. Saans brand die ligte in die donker leemte van die oseaan. Dit voel feestelik en misterieus. En ek was die afgelope paar oggende so bly om te sien dat sy nie in die nag weggeglip het nie, dat sy ons nog 'n bietjie geselskap hou.
Dit is ongewoon vir 'n skip om hier op anker te lê. Ek is gewoond aan skepe wat stadig verbyvaar (en met die krisis in die Suez-kanaal kan ek sien daar is 'n toename in vaartuie). Ek kyk hier van my lessenaar hoe gly hulle in sig deur die kaal takke van die koraalboom en dan oor 'n groot hap blou see, tot hulle weer agter my bure se vrolike blou sinkdak wegglip. Of andersom. Naweke kierts seiljagte soos wit skoenlappers rond. Of glip kanovaarders vroegoggend my see-uitsig soos stotterende naaldekokers binne en verdwyn dan weer.
Ek wil weet wat gaan aan met die skip. Ek bel my voormalige buurman, die wêreld se mees “gloriously grumpy" man. Hy haat mense. Want almal is blykbaar stupid en oppervlakkig en weet niks nie. En honde. Want hulle blaf. Trouens, ek dink hy haat alles en almal behalwe die baie inheemse bome wat hy in sy tuin geplant het en waarop hy klein koperplaatjies met die botaniese naam aangebring het. Sy vrou beaam dit. Hy haat haar ook, vertel sy. Maar dis reg, sy haat hom terug. Dan lag hulle. Maar dit voel nie vir my na 'n snaakse “ha-ha"-lag nie. Eerder na die onheilspellende waarheid...
Ek weet hy hou so 'n bietjie van my, want as ek soms sommer sonder uitnodiging aan die deur klop met 'n bottel wyn, kan hy nie vinnig genoeg vir my 'n glas kry nie. En ek kry soms selfs 'n glimlag. Ek is mal oor sy norsigheid. En sy skoorsoekerigheid. En sy monumentale negatiwiteit wat vir my baie amuserend is. Die grootste issue met mense is volgens hom dat niemand enigiets wéét nie. Quote, unquote.
Anyway, ek weet hy sal weet van die skip. Geen manier wat hy nie sou ondersoek ingestel het nie. Ek is reg.
Ek kry al die detail. Die naam is Hector N. Dit is 'n olietenker. Geregistreer in Panama. Call Sign: 3FEL3. Iets het onklaar geraak en die skip wag nou om te kan anker lê in die veiligheid van die Oos-Londense hawe. Dit maak sin. Daar is iets fout met hoe die skip in die oseaan lê. Dit kantel soms dramaties van kant tot kant en gistermiddag het ek gekyk hoe die yslike vaartuig stadig om en om tol. Asof dit op 'n manier stuurloos geraak het.
Dit laat my dink aan die metafoor van 'n veilige hawe.
Hoe dit vir ons elkeen waarskynlik iets anders beteken. Die plekke waarheen ons gaan as ons stuurloos voel. As ons hartseer of bang is. Wanneer ons ons sterflikheid in die oë moet kyk. Wanneer bekommernis ons van stryk bring. Of teleurstelling ons kelder. Of frustrasie ons pootjie. Of woede ons laat kantel en tol soos die Hector N gister.
Miskien is jou veilige hawe 'n plek. Miskien is dit 'n vriendskap, 'n huwelik of 'n liefdesverhouding. Miskien is dit 'n gedig, of 'n gebed, of 'n herinnering. Miskien is dit familie. Miskien is dit juis nie familie nie. Of miskien is dit 'n plek binne-in ons.
My veilige hawe is landskap. As ek oorweldig voel en ekwilibrium soek, voel ek altyd geroep deur die landskap van die Oos-Kaap. Of die dorheid en verlatenheid van die Karoo. My veilige hawe is ook hierdie huis waar ek woon. As ek wil wegkruip, wil ek dit hier doen. Nie in my mooi Pringlebaai-huis by die see nie, maar hier in die vierkantige koeistal met sy sitkamer wat nou my slaapkamer geword het (want wie het nou eintlik 'n sitkamer nodig as jy 'n stoep het en boonop ernstige kluisenaar-neigings toon). My veilige hawe is die handjievol mense by wie ek kan wees sonder om myself te moet verduidelik. Mense wat die intimiteit van 'n gedeelde stilte verstaan. My drie broers en my dogter verstaan dit. En so 'n paar ander.
Uiteindelik, dink ek, is my veilige hawe 'n plek van wéés met myself en in myself. Waar stilte my die beheer gee om dinge te kan deurdink en te ontrafel todat ek weer gereed voel om die wêreld in al sy komplekse en uitdagende en vreugdevolle realiteit te ervaar.
Ek kom op 'n aanhaling af van Clarissa Pinkola Estés, wat onder meer die boek Women Who Run with the Wolves geskryf het.
“When a great ship is in harbour and moored, it is safe ... but that is not what great ships are built for."
Ek hou so baie hiervan. Want dit spreek tot die belangrikheid van terugtrek na 'n veilige hawe wanneer die storms kom, maar ook die belangrikheid van in die wêreld wees – voortvarend na ontdekking en avontuur, in die groot skip van die lewe. Want dit is waarvoor ons gebou is.
Daarmee groet ek.
Voor ek gaan, wil ek noem dat hierdie die laaste van my Sondag-briewe is wat gratis sal wees om te lees. Van volgende Sondag sal dit agter die betaalmuur wees, soos die res van ons premium-artikels. Ek hoop so van harte dat as jy nog nie ingeteken is op Vrye Weekblad nie, jy dit sal doen sodat ons kan aanhou saamgesels. Ons Sondae saam is baie kosbaar vir my.
Dit kos R75 'n maand. En daarvoor kry jy vier weeklikse uitgawes en ses daaglikse nuusbriewe. Ek kan nie aan 'n beter deal dink nie. Per week kos dit minder as 'n (gewoonlik swakkerige) cappuccino. En per maand minder as 'n middelmatige bottel wyn – en baaaaie minder as 'n goeie bottel olyfolie.
Kliek hier om dit sommer nou te doen. En as jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n e-pos by hulp@vryeweekblad.com. Of WhatsApp ons by 071 170 8927.
Salige Sondag
Anneliese
You don’t read my poems anymore
So I must update you:
I now prefer bourbon to tequila, my hair
is brown and always curly, I don’t shake
at night anymore, I still make
clam linguine with orzo pasta salad
I’m almost done my second book, and everything
you did to hurt me; God is holding onto
– Maria Giesbrecht
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.