Hoekom is daar ’n Vrouedag?

SATERDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Hoekom is daar ’n Vrouedag?

Ons boekeredakteur wonder oor lywige staatsdepartemente en swierige etes wat glo daarop gemik is om verwaarloosde, mishandelde en onderdrukte vroue te bemagtig.

Hoekom is daar ’n departement van vroue, jeug en mense met gestremdhede?

Die mislukkings van hierdie departement is duidelik. Geslagsgeweld vier hoogty en vir die vrou op straat het min verander. As jy my vra, verkwis die departement en sy onderafdelings lustig geld wat vroue kon help. Die departement sou nie nodig gewees het as ons samelewing daarin kon slaag om gelyke regte vir hierdie drie weerlose groepe te bewerkstellig nie. Want ja, in 2024 is vroue steeds weerloos. Waarom?

Ek is deur ’n verteenwoordiger van die EU gevra om deel te neem aan ’n gesprek tussen “gewone” Suid-Afrikaanse vroue. Daar was hawelose vroue en ’n blinde vrou. Ek was die wit, Afrikaanse vrou. Later meer oor die gesprek.

Die Vrouedagviering was ’n inisiatief van die EU, het die organiseerder my vertel. Toe het drie departemente in ons regering, een waarvan sy nog nooit gehoor het nie, die geleentheid geheel en al gekaap. Hulle het die EU se geld gevat en hulle eie agendas bevorder. Die venue was die DIRCO-konferensiesaal in die Oliver Tambo-sentrum – so ’n blingerige gebou wat al my oog gevang het, in die middel van nêrens langs Soutpansbergweg in Rietondale. DIRCO staan vir Department of International Affairs and Cooperation.

Die Oliver Tambo-sentrum is eerstewêrelds en herinner aan ’n swierige universiteit. Die konferensiesaal is toegerus met gemakstoele en lugverkoeling, dank die Heer. Op die verhoog pryk drie ministers, ander hooggeplaastes, EU-verteenwoordigers en ’n diplomaat uit Noorweë. Die verrigtinge begin ongeveer ’n uur laat. Die groot saal is vol, met heelwat diplomate uit Afrika. Ons gaan sit per ongeluk in die diplomatieke seksie – my partner het ’n oog vir die gemaklikste stoele. Netsowel.

Daar is ’n digter, Lebo Mashile, wat die bloeddruk opjaag en die lug laat knetter. My persoonlike hoogtepunt is toe sy ’n gedig oor Khwezi voordra (onthou jy, die gay jong vrou wat by haar oom Jacob gaan kuier het, die verkragting, die stort, die hofsaak, die regter wat hom slegs oor die vingers tik) – dit terwyl haar eksellensie Nkosazana Dlamini-Zuma op die verhoog sit en glimlag.

Daarna is dit, wat my betref, afdraand.

Die geagte verteenwoordigers en die drie ministers word aan die woord gestel en deklameer eindeloos oor hoeveel daar vir vroue gedoen is en gedoen word. Beeldpoetsery, winkelversiering, beloftes en stemmewerwing, as jy my vra. Die drie ministers, Thandi Modise, Naledi Pandor en Dlamini-Zuma, kwyt hulle uitstekend van hulle taak; hulle is orators uit die boonste rak en gaan haal die storie ver, met vele afdraaipaaie en borduurwerk. Die BBP van Noorweë is skaars verstaanbaar en ek wens ek het gebaretaal geken. Die eregaste benut hulle ure op die podium tot die maksimum, soveel so dat die res van die items (ons gesprek, ’n jeugkoor) uitskuif tot ná middagete.

Middagete is ’n groot en jolige storie en neem veel meer as die uur wat daarvoor begroot is, in beslag. Daar is twee vleisgeregte en geen vegetariese dis nie.

So anderhalf uur ná middagete sê die organiseerder ons moet maar voortgaan, die skare gaan nie terugkom nie. Hier en daar is ’n mens op ’n sitplek, dit herinner my aan iets wat ek in ’n roman gelees het: Summer teeth: summer there, summer not.

Die ministers en hulle entourage het duidelik in die hotel gaan rus. Die jeugkoor sing soos nagtegale, maar hulle program is kortgeknip. Ons gesprek begin voor ’n gehoor wat min of meer so groot is soos dié by KKNK-boekgesprekke, ’n handjievol, 20 as jy optimisties is. Die “gewone” vroue sing ’n ander deuntjie as die ministers. Hulle vertel van worstel om as enkelma’s te oorleef, diskriminasie, geweld en die gedurige vrees om verkrag te word. My bevoorregting versmoor my soos ’n duikpak op droë land. Wat doen ek, wonder ek? Ek skryf oor vroue se stryd. Dis die wapen wat in my hand gelê is.

Naas Lebo was hierdie gesprek sonder gehoor die hoogtepunt wat die krag van vroue onderstreep – dieselfde krag wat die patriargie motiveer om hulle te bly onderdruk.

Ons, die mense, moet vir onsself dink en die ding self doen, want die regering gaan aanhou partytjie hou en beeldpoets. Lank lewe vroue!


In Mei vier ons weer boekefees in Cullinan. Moet dit nie misloop nie, ons feeste is jolige affêres. Die tweede VWB-Cullinan-boekefees gebeur van 10 tot 12 Mei in dieselfde venue as verlede jaar, @Church in Oakrylaan 134.

Kaartjies kos R90 per gesprek, maar daar is ’n Saterdag-winskopie – R500 vir die hele dag se feestelikheid. Kliek hier vir die volledige program en hier om te bespreek by Quicket.

Image: ANGELA TUCK

A Dog Has Died

 

My dog has died.
I buried him in the garden
next to a rusted old machine.

Some day I'll join him right there,
but now he's gone with his shaggy coat,
his bad manners and his cold nose,
and I, the materialist, who never believed
in any promised heaven in the sky
for any human being,
I believe in a heaven I'll never enter.
Yes, I believe in a heaven for all dogdom
where my dog waits for my arrival
waving his fan-like tail in friendship.

Ai, I'll not speak of sadness here on earth,
of having lost a companion
who was never servile.
His friendship for me, like that of a porcupine
withholding its authority,
was the friendship of a star, aloof,
with no more intimacy than was called for,
with no exaggerations:
he never climbed all over my clothes
filling me full of his hair or his mange,
he never rubbed up against my knee
like other dogs obsessed with sex.

No, my dog used to gaze at me,
paying me the attention I need,
the attention required
to make a vain person like me understand
that, being a dog, he was wasting time,
but, with those eyes so much purer than mine,
he'd keep on gazing at me
with a look that reserved for me alone
all his sweet and shaggy life,
always near me, never troubling me,
and asking nothing.

Ai, how many times have I envied his tail
as we walked together on the shores of the sea
in the lonely winter of Isla Negra
where the wintering birds filled the sky
and my hairy dog was jumping about
full of the voltage of the sea's movement:
my wandering dog, sniffing away
with his golden tail held high,
face to face with the ocean's spray.

Joyful, joyful, joyful,
as only dogs know how to be happy
with only the autonomy
of their shameless spirit.

There are no good-byes for my dog who has died,
and we don't now and never did lie to each other.

So now he's gone and I buried him,
and that's all there is to it.

– Pablo Neruda, vertaal deur Alfred Yankauer

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.