Waaraan sal jy nie jou mond sit nie?

Fynproe

Waaraan sal jy nie jou mond sit nie?

Die parmantige NETTIE PIKEUR het haar loopbaan as kosskrywer in die tagtigs by Vrye Weekblad begin. Nou is dié befaamde kos-ghoeroe terug by die huis met 'n bok, 'n snoek en 'n slak.


VRA enigiemand by ’n braai, kerkbasaar of vrolike troue met kostafels boordens vol smulgeregte: Wat eet jy nooit ooit nie?
Die antwoorde sal jou soos ’n nat snoek slaan. Die boer uit die Klein-Karoo sê die dag as hy sy mond aan lewer moet sit, trek hy liewer Joburg toe.
Maar lewer is dan afval! verklaar ’n ander boer. Eet jy nie jou ma se heerlike potjie afval met aartappels en marog elke keer as julle in die winter skaapslag nie?
Wat sommige mense laat kwyl en smul terwyl ander hardop psalms sing om te vergeet van derms en bloedwors, wissel van die herkoms en agtergrond tot tradisies waarmee jy grootgeword het.
Hier op Ladismith in die Kaap bied ’n nuwe restaurant bokvleis as ’n Sondag-special aan. My eetmaat word groen van gril. Hygend hert, der jagt ontkomen, eet hy ook nie wildsvleis nie? Lekker koedoe of springbok van ’n Karooplaas, ’n geurige stukkie rib oor die kole met die kok se spesiale wynmarinade?
Bokvleis moes ons lankal landwyd bekendgestel het. ’n Bok is goedkoper as ’n skaap, eet omtrent alles en sy vleis raak jy gou gewoond. Draderig en ietwat taai, maar dis mos waarvoor goeie rooiwyn gemaak is – om ’n taai bok se vleis te tem en die sjef te daag om dit in ’n fynproewersgereg te omskep.
Bokmelkkaas is heerlik, vertel die kosmaat, maar dis duur, want om ’n bok te melk moet jy haar laat stilstaan. En baie eters dink steeds dit proe te bokkerig.
My oorle ma het tot haar dood gedink ek is mal oor snoek-en-koolbredie. Protesteer het niks gehelp nie. Want daar is altyd net één visgraat in die bredie en dis op my bord. En in my mond. Nes in die vis en chips van die hoekkafee die dag as die stokvis op is en hulle snoek gaarmaak.
Snaaks hoe die ou afval nou skielik mode en baie duur geword het. Beesstert was altyd deel van afval, nou betaal jy ’n kragrekening se geld om die stert te bekom. Dieselfde met murgbene, so lekker uitgeskep op roosterbrood met suurlemoen en pietersielie.
Oor die radio vertel ’n tuinman weekliks aan klaende lesers hoe om slakke uit hul plante te kry. Dikwels wou ek al sê: Haal hulle af, gooi in ’n emmer met ’n digte deksel en laat verhonger tot al hul gif uit is. Maak dan die slakke gaar volgens een van die legio resepte op die internet, en eet hulle op. Die doppe trap jy fyn en gebruik as kompos.
Ons worrie nie eens met die slak-in-die-dop-gereg wat hulle in restaurante ten duurste vir jou bring met ou, bitter knoffel en botter nie. Maak jou slakkies gaar soos ’n klein bredie met vars knoffel en baie pietersielie en sit voor op rys. Moenie eens vir Boet Basjan vertel dis slakke nie, anders sit hy sy vurk net daar neer.
In die wonderlike ou dae op Waenhuiskrans het ons vars oesters geëet, sommer dosyne op ’n slag, net daar uit die see gehaal. Ek en my pa het die spesiale oestermes gedeel om die doppe oop te maak, terwyl almal om ons alweer fiemies het oor die oesters nog lewe.
Maar hulle moet nog lewe! verklaar ek en Pa. ’n Dooie oester kan baie giftig wees. Dis ’n elegante manier om te sterf, maar jy gaan vreeslik ly. Dit was natuurlik ons manier om die kosbare seekos van die ander weg te hou. Hulle eet liewer die gebliktes, gerook tot smaakloos, met net suurlemoensap en Tabasco.
Viskoppe is destyds amper verniet weggegee op die Kaapse Parade, tuis bruingebak en stuk vir stuk uitmekaargehaal deur die Kaapse vroue wat geweet het hoe lekker die wange en oogballe smaak.
Eenvoudige geregte. Soos geniet deur Oupa Bram, gebore in 1900, wat op sy oudag ’n stuk growwebrood in bitter swart koffie doop en verklaar: koningskos.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.