Pampoenbredie vir my pa

KAAPS

Pampoenbredie vir my pa

In hule boek Kaap, kerrie & koesisters, kook tweelingsusters Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien die Kaaps-Maleise kos waarmee hulle op die Kaapse vlakte grootgeword het. Hier is Gadija se pampoenbredie.

  • 19 April 2019
  • Vrye Tyd
  • 1 min om te lees
  • artikel 22 van 33


Hierdie gereg is een van my pa se gunsteling-maaltye, indien nie sy grootste gunsteling nie. Jy kan jou dus indink hoeveel druk daar op my was toe ek dit die eerste keer vir hom gemaak het vir sy verjaardag. Gelukkig was my oorlede mammie ’n goeie leermeester wat ons al die moets en moenies van pampoenbredie geleer het.
Ek het benoud gewag op my pa se reaksie, maar toe hy klaar geëet en sy vingers afgelek het, was ek baie verlig toe hy sê dit was heerlik en my bedank en sê hoe baie hy dit waardeer het. Ek was so bly, want dit was nie lank ná my mammie se oorlye nie en ek het ’n tikkie heimwee in my pa se oë gesien … oor herinneringe aan haar wat die gereg teruggebring het. En ek het besef hoe kos emosies in ’n mens kan opwek.
Wanneer ek deesdae bak of ’n gereg maak, doen ek dit altyd met die bedoeling om herinneringe vir die toekoms te skep, of oues op te wek.
60–90 ml (4–6 e) kookolie2 uie, fyngekap3 heel brandrissies2 wonderpeperkorrels (piment)2 kaneelstokkies1 kg bees- of lamsvleis, in blokkies gesnysout en swartpeper na smaak1 kg pampoen, geskil en in blokkies gesny 30–45 ml (2–3 e) suiker15 ml (1 e) botter
1. Verhit die olie in ’n groot kastrol oor matige tot hoë hitte en braai die uie, brandrissies en heel speserye totdat die uie goudbruin is.
2. Voeg die vleis by, braai die blokkies alkant bruin en roer af en toe. Voeg die sout en peper by en stowe vir 5 minute. Voeg dan 250 ml (1 k) warm water by en laat prut die vleis oor matige hitte totdat die water verdamp het. Herhaal hierdie proses totdat die vleis sag is.
3. Voeg die pampoen by en stowe oor matige hitte totdat die pampoen sag maar nie pap is nie en steeds in blokkies is. Skep die suiker en botter oor die pampoen en laat 2 minute lank deursmelt. Sit voor met wit basmati-rys.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.