Hoog op whisky

PROE SOOS PERDESWEET

Hoog op whisky

Hoog bo seespieël, ver van die stad. Dullstroom is nou wel 'n klein dorpie, maar dis hier waar Wild about Whisky die grootste whiskyversameling in die Suidelike Halfrond huisves. Kan dit waar wees? MICHÈLE MEYER het gaan seker maak



NOORDOOS van Dullstroom is ’n koppie met die omheinde grafte van Britse soldate wat tydens die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het. Desjare het dit bekend gestaan as die hoogste punt in die ou Transvaal. Die dorpie self lê 2,100 meter bo seevlak. Sagte saliegroen heuwels en rante kenmerk dié gewilde forelhengelstreek in Mpumalanga.
So anders as die nabygeleë Laeveld van die provinsie is Dullstroom se unieke klimaat en geografie dat jy jou maklik kan verbeel jy is iewers op die Skotse Hoogland. Dis juis daardie gewaarwording wat Dave Gunns, direkteur van Wild about Whisky, laat besluit het om dié vaatjie in 2006 aan die rol te sit.
In 2004 het Dave en sy vennote, Eve Gunns en Steve Adams, die sjarmante Auldstone House in die dorp se hoofstraat gebou. Naweek- en vakansieverblyf, winkelruimte en soos dit in klein hengeldorpies gaan, later ’n kroeg. Dave vertel dat hy in Mei 2006 as ’t ware die kroeg geërf het van die vorige huurders en op die ingewing van die oomblik besluit het die nuwe gedaante gaan nie sommer 'n hierjy kuierplek wees nie.
“Dullies herinner sterk aan die Speyside van Skotland. Mense verwys ook na hierdie omgewing as die Highlands. Uitstekende toestande vir forelhengel roep boonop beelde van die Skotse forel- en salmkultuur op.”
Dave doen toe wat enige respektabele Skot sou. Hy maak 'n bottel whisky oop. Vyftien, om presies te wees.
Ja, die deure na Wild about Whisky se oorspronklike intieme ruimte is geopen met 15 bottels whisky en die drie vennote agter die kroegtoonbank. Die eerste proe-proewe is gedoen en whisky het 'n ding geword. Intussen is ongeveer 120,000 besoekers al hierdeur en 39,000 het al 'n ses-sopie-proe kom doen. Nie dat die groei van ’n kleindorpse proeplek tot die grootste whiskyversameling in ons halfrond sommer oornag gebeur het nie.
Dave erken dat hulle baie min van whisky geweet het en vir twee jaar elke moontlike brokkie inligting oor die geskiedenis, wetenskap en mistiek daarvan bestudeer het. In 2008 het hulle Skotland toe gereis om distilleerders te besoek en die koeël is deur die kroeg.
“Daar het stukke van die whiskybedryf-legkaart begin ingleuf op 'n werklik opwindende manier.”
Veel meer as net die aanloklike eindproduk was daar nou ook die aantrekkingskrag van kultuur, tradisie en die geskiedenis van Skotland. “Daar was stories wat ons diep geraak het en ons het eenvoudig geweet ons begeerte is om dit met Suid-Afrikaners te deel.”
Sedertdien is Dave-hulle bykans elke jaar terug Skotland toe, het hulle meesterklasse bygewoon en selfs ingeval vir werk by enkele distilleerders om só elke nuanse rakende die bedryf eerstehands te ervaar.
Van 'n nederige begin is Wild about Whisky se verstommende versameling intussen uitgebrei tot iewers tussen 1,600 en 1,700 bottels van oor die hele wêreld. Kenners staan tou om hier “usquaebach” – Gallies vir lewenswater – te kom proe en koop en mekaar “slainte” (gesondheid) toe te wens.
Oor naweke beef die plek wat tans drie ruim areas in Auldstone House beslaan, behoorlik van aktiwiteit. Sonder 'n bespreking kan jy maar vergeet om in te kom. Proeglasies flonker in gelid, hul inhoud smeulend in skakerings van fonteinwater, ryp koring en boomgom. Sowat 50 vasgestelde proetoere is vooraf aanlyn te kies, of gaste kan hul eie keuses saamstel om 'n persoonlike vreugde-ervaring te verseker. Om bloot te kom sit en 'n uitsonderlike enkelmout of doeksagte vermenging te geniet is ook aanvaarde praktyk.
Ons proesessie pluk my soos 'n Hoogland-rukwind tot midde-in die siel van Islay waar Ardbeg, Lagavulin, Laphroaig en Bunnahabhain se name soos 'n inkantasie eggo. Twee druppels water uit 'n pipet “verlos die adder” uit my glas. Konfrontasie en fassinasie met kusturf, souterige seelug en salpeter begin. Ja, perdesweet. Pruim, hout, kreosoot. En teer. Ek sweer, teer. Laghavulin roem hom daarop dat sy whiskies smerig, vleiserig en brutaal proe. Sê dit op straat en ek vlug. Hier binne werk dit.
Vreemd genoeg is die ervaring informeel, dalk oor die passievolle energie wat heers tussen falankse bottels, vate, brokke turf en skarrelende personeel. Juliette Venter, wat ons sessie hanteer, voer ons met haar vertellings mee na Glenfiddich in Speyside en haar oë skitter wanneer sy vertel dat Wild about Whisky in 2013 benoem is as die vasteland se eerste Ardbeg-ambassade. Die ambassadeurs is whisky-“evangeliste” wat wêreldwyd omsien na liefhebbers van dié whisky. Daar is nog internasionale erkenning deurdat Wild About Whisky vanjaar benoem is in die kategorie Best Whisky Bar Rest of World (wat die Verenigde Koninkryk en VSA uitsluit) in die internasionale tydskrif The Whisky Magazine se jaarlikse kompetisie. Juliette is benoem in die kategorie vir "Best Bartender".
Daarop, en op die proe van die aarde in 'n enkele teug whisky, sê ek: “Slainte!”

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.