Zero babelas

DORS

Zero babelas

Asof millenniërs nie al genoeg kwaad aangerig het nie, maak hulle nou boonop ’n mode van minder drink. Die goeie nuus is as jy saam met hulle op die waterkar klim, is jy nie meer aan vodka-en-tonikum sonder die vodka uitgelewer nie. ANNELIZE VISSER is dankbaar vir die groter verskeidenheid alkoholvrye drankies wat deesdae in kroeë en op Instagram blom.


DRIE millenniërs stap by ’n kroeg in. Die een bestel Heineken 0.0, ’n alkoholvrye bier met net 69 kalorieë en geen-babelas-gewaarborg. Die tweede een bestel ‘n skemerkelkie genaamd Abstinence on the Beach. Dis gemaak van gelyke hoeveelhede lemoen-, bosbessie- en pynappelsap en versier met ’n windmakerige vars perskeskyfie. Die derde een het ’n rowwe dag agter die blad en soek ’n drankie met ruggraat. Soos jenewer, maar nie jenewer nie, jy weet?
Die parate kroegman skink vir haar ’n ’n drankie met ’n alkoholvrye jenewerplaasvervanger, ’n spatsel elk van appelsap, suurlemoensap en appelasyn,’n takkie tiemie en roosmaryn, en ’n knippie suiker. Voor sy haar eerste sluk neem, neem sy ’n foto en deel dit dadelik op Instagram. Sy’s ’n “drinkstagrammer” in haar vrye tyd.
Hierdie drankies het hul ontstaan nie net te danke aan die gesondheidsgolf wat eerstewêreld-lande deurspoel nie.
Ons drie jong kroeggangers behoort aan ’n generasie wat bewus is van hoe hul keuses ander mense raak. ’n Volhoubare bestaan is hoog op hul agenda en hulle is hieroor so openlik soos oor verslawing. Hulle wil eerder deel wees van die oplossing as van die probleem.
Boonop durf hulle nie die kans waag dat iemand ’n foto van hulle op sosiale media deel waar hulle ná ’n laataand-kuier nie blinkend Instagram-gereed is nie. Wie wil nou hul 2 000 volgelinge teleurstel?
Maar hulle wil asseblief nie Sprite Zero met ’n skyfie suurlemoen hê nie, dankie, hulle is nie kinders nie; ook nie ’n smoothie van koringgras en krulkool nie. Hierdie is nie die 90s nie.
Hoewel daar steeds vir elke geheelonthoudende millenniër seker minstens ’n hand vol 18-tot-24-jariges is wat Suid-Afrika se reputasie as een van die lande met die grootste drankdors ter wêreld gestand doen, is die Nuwe Nugter ’n tendens wat stewig groei. Dit laat talle nuwe drankies op winkelrakke en kroegtoonbanke verskyn.
Soet is uit en bitter of suur is in. Danksy die afgelope dekade se eksperimente in die wêreld van jenewer is ons almal nou vlot in botaniese bestanddele soos koljandersade, engelkruidwortel, iriswortel, sterkpeperbessies en wildekaneel. Aan nie-alkoholiese drankies gee dit ’n nodige kompleksiteit sodat dit meer as bloot koeldrank is. Selderysap maak ’n buiging en so ook kaktuswater, sampioen-elikser en aquafaba. Laasgenoemde is ’n skuim wat gemaak word van die taaierige water wat jy gewoonlik van jou blik kekerertjies afgooi.
Fermentasie is groot nuus. Met kombucha, ’n soet tee, of allerhande drinkbare soorte asyn, kry jy sommer ’n skoot probiotika ook tydens happy hour in.
AS JY jou ook nou soos ’n millenniër wil begin gedra of ten minste iets soos Droë Dinsdag deel wil maak van jou roetine, wees gerus dat plaaslike distilleerders hulle heelhartig agter die nuwe mode skaar.
In die Kaap maak Johannes le Roux en Inus Smuts sedert 2016 die wêreld se eerste alkoholvrye (en suikervrye) jenewer-en-tonikum onder die handelsnaam The Duchess. Drie variëteite is reeds beskikbaar: Botanical met jenewer-ekstrak, lemoenskil, naeltjies en steranys, Floral met sitrusbloeisels en sleutelblom, en Garden met roosmaryn, lemmetjieblare en komkommer.
In die Paarl maak Hanneli van der Merwe en Chris Wium ’n alkoholvrye jenewer genaamd John Ross Virgin Distilled Botanicals; in die Overberg maak Stof en Theresa Mouton alkohol- en suikervrye Vermont Vergin, en in Phalaborwa in Limpopo maak Pierre en Loumarie Raubenheimer Saint G&T, sedig dog smaaklik.
IN DIE Verenigde Koninkryk, waar alkoholverbruik binne ’n dekade met 26% gedaal het, en met 40% in die 16-tot-25-ouderdomsgroep, het Diageo, die wêreld se grootste distilleerdery, die skrif aan die muur gesien en belê in Seedlip. Diageo is die vervaardiger van onder meer Johnnie Walker, Smirnoff en Guinness en dis die eerste keer in sy 257-jarige bestaan dat hy in ’n alkoholvrye produk belê.
Seedlip is die geesteskind van Ben Branson, ’n 33-jarige entrepreneur en geheelonthouer wat eenvoudig nie kans gesien het om nog ’n tonikumwater te bestel nie. Hy het Seedlip in 2015 begin met die hulp van ’n boek oor distillering wat in 1651 geskryf is, en met ertjies van sy ouers se ertjieplaas as die sleutelbestanddeel. Kruie, speserye, skil en bas help ook geur verleen.
Die eerste 1 000 bottels (waarop hy die etikette met die hand geplak het), het binne drie weke uitverkoop, die volgende 1 000 binne drie dae, en die 1 000 daarna binne ’n halfuur. Sjefs soos Gordon Ramsay en Heston Blumenthal sit Seedlip op hul spyskaarte en Seedlip-produkte word versprei by deftige winkels soos Selfridges en Fortnum & Mason. (Ter plaatse kan jy dit by Yuppiechef koop.)
Dis ’n feit dat sodra die groot spelers by ’n gier betrokke raak, dit al so te sê die hoofstroom bereik het. Dis gevolglik net ’n kwessie van tyd voor alkoholvrye drankies vir grootmense by jou plaaslike drinkplek beskikbaar gaan wees en die kroegman gaan moeite doen om te verseker dat jou skemerkelkie mooi genoeg is vir Instagram.
MAAR wat as jy nie ’n millenniër is nie en jy bly lus vir wyn?
Soos almal weet wat al deur Droë Januarie gely het, het die plesier van ’n glas wyn nie net te make met die 12 tot 15% alkohol wat dit volgens wet bevat nie (hoewel dit natuurlik help om jou meer toegeeflik teenoor jou naaste te maak).
Tee is goed en wel, maar om ’n glas wyn oop te maak, is ’n okkasie. Dis ’n ordentlike skeidslyn tussen werk en na werk. Jy drink dit (verkieslik) stadig en met oorleg, en daar is ’n soort ongeërgde je ne sais quoi daaraan waarby tee eenvoudig nie kan kers vashou nie. Dieselfde is waarskynlik op hardehout van toepassing, met die moontlike uitsondering van brandewyn en Coke.
Jy’s egter onder geen verpligting om jou wyn prys te gee net omdat dit 2019 is nie. Om die waarheid te sê, is ’n domino-effek van die Nuwe Nugter dat ons al meer verkies om minder maar lekkerder te drink, en hoër standaarde te stel vir wat ons in ons kele afgooi. (Dooswyn is uit.)
Laat hy val waar hy wil.
 
Hooffoto verskaf deur The Duchess

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.