Met die maan gepla in Ysland

MAAN-MANIE

Met die maan gepla in Ysland

Neil Armstrong en sy mede-ruimtevaarders het Ysland besoek voordat hy die eerste mens geword het om op die maan te loop. In 'n buite-aardse belewenis het PIET VAN NIEKERK op Armstrong se spoor geloop.


DIS verstommend hoe vinnig jy ’n skare trek as jy ’n man in ’n ruimtepak verfilm wat tussen stomende en borrelende modderpoele probeer maak of hy byna gewigloos oor die maan se oppervlak bons. Dis presies wat ons heeltemal teen ons sin regkry by Hverarönd in die hartjie van ’n Arktiese woestyn in die noorde van Ysland, waar ons ’n kort dokumentêre program en multimediastorie vir die BBC se reisafdeling skiet.
Omring deur fumarole waaruit stoom, gas en kleurvolle modder teen kookpunt borrel met geen plantegroei in sig nie, is dit ’n buiteaardse prentjie wat ons probeer skep, maar met so baie toeriste blaas ons ’n taktiese aftog van die selfiebehepte agies en wyk uit na die Hrossaborg-krater. Dis hier waar Tom Cruise sy 2013 post-apokaliptiese fliek Oblivion geskiet het. Die krater bied aan ons algehele privaatheid, want die pad is gesluit weens ’n yslaag van ’n halfmeter diep. Geen toeris sien kans om saam met ons in die windkoue van - 20˚ C vir oor ’n uur daarheen voet te slaan nie.
“Ons is van ons koppe af,” mompel Werner Hoffmann, ons kameraman, van onder sy dik baard. Asof ek dit nie self weet nie. Die vorige aand het ons so byna van ’n gletser bo op ʼn berg gegly in ’n poging om ’n skoot te kry van die maan wat oor Ysland se rotsagtige landskap opkom. Toe het ek al geweet ons is goed gek, of, in dié geval: Lekker met die maan gepla.
So, waarom dan ploeter ons nog steeds voort?
Kyk af, ruimtevaarder!
Neil Armstrong en die ander Apollo-ruimtevaarders is voor die eerste maanlanding na die noorde van Ysland gestuur vir opleiding in geologie. Nasa was bekommerd dat die spannetjie macho-vlieëniers wat gekies is om die ruimte ingeskiet te word se oë te veel op die hemele gefokus was. Hulle wou hul ruimtevaarders as’t ware aarde toe bring, om seker te maak dat as hulle eers op die maanoppervlak rondbons, hulle darem sou weet hoe om ’n verteenwoordigende verskeidenheid klippe op te tel om terug te bring.
Met dié dat die mensdom binnekort (op 20 Julie vanjaar) die vyftigste herdenking van Armstrong se eerste stewelspoor op die maan gaan vier, het ons vroeër die week sukkelend en meestal vloekend op ’n ysige pad gly-gly van Ysland se hoofstad, Reykjavik, na die kusdorpie Húsavík aan die noorde van die eiland gery. Dis in Húsavík se omgewing waar die aspirant-ruimtevaarders in 1965 en weer in 1967 “maanspeletjies” gespeel het om ’alles en nog ’n bietjie meer van klippe te leer.
Ons het ook gehoor dat Húsavík se omstrede penismuseum - die Icelandic Phallological Museum - so ’n paar jaar gelede Reykjavik toe getrek het.  In die geboutjie wat toe leeg gestaan het, is daar ’n museum begin wat hulde bring aan ontdekkingsreisigers – van die Vikings se dae af tot by die dromers wat nou Mars toe wil vlieg.
Werner, wat hom uit Boedapest by my in Reykjavik aangesluit het, was oortuig dat daar iets oor die Apollo-ruimtevaarders se besoek aan Ysland in die museumpie sou wees. Behalwe vir so ’n paar kameras was Werner ook gewapen met ʼn tuisgebroude bottel appelkoos-witblits, en iets wat ek gou besef ek ook moes saamgebring het, ’n ski-baadjie.
Kraters en lawarotse soos vratte
Die tog met ’n huurkar na Húsavík was nie speletjies nie. Dit het so kwaai gesneeu dat Werner elke paar minute verplig gevoel het om te vra of ek nog die pad kan sien. Soms kon ek nie, maar ek was te skrikkerig om te stop uit vrees dat iemand wat ook nie kan sien nie van agter af in ons vasduiwel. Nou en dan, as die sneeu en wind padgee, kon ons ons verkyk aan die barre landskap: uitgestrek met kraters en lawarotse wat soos vratte langs die pad sit.
Ek het my toe al verbeel dat die plek maklik soos die maan kan lyk as daar net nie so baie sneeu en ys was nie. Ná nege ure van swaar ry het ons tot stilstand gegly voor Húsavík se Cape Hotel. Die eienaar, het ons gehoor, is ook die kurator van die Ontdekkingsreisigersmuseum. Örlygur Hnefill Örlygsson is inderdaad albei en sommer ook die bestuurder van die dorp se enigste wassery. Dis seker nie te eienaardig nie, as mens in ag neem daar woon minder as 3 000 siele (ek vermoed dit sluit katte en honde ook in) in die ganse distrik van Húsavík.
Die dorpie, met ’n indrukwekkende 26 m hoë houtkerk, sit reg tussen ’n berg en die see van Groenland. Die meeste toeriste kom hiernatoe om walvisse dop te hou, maar as hulle toevallig by die museum inloer, sal hulle vinnig agterkom dat Ysland ook ’n belangrike rol in die Apollo-maansage gespeel het. Daarvan het Örlygur seker gemaak met ’n uitstalling van historiese foto’s van die ruimtevaarders se besoek aan Ysland en ’n paar ongewone artefakte, soos die vishoeke waarmee Neil Armstrong probeer hengel het toe hy hier was.
Armstrong die hengelaarDie vishoeke sit ons op ’n ander spoor. Sou enige iemand nog onthou van Armstrong se liefde vir hengel? Natuurlik, meen Örlygur. Ingólfur Jónasson, ʼn skaapboer op die plaas Helluvað, was maar 19 toe hy vir Armstrong en nog ʼn ruimtevaarder, Bill Anders van Apollo 8, in die Laxá-rivier in die omgewing van Skjólbrekka leer hengel het. Ons kry Ingólfur op ’n trekker agter ’n skuur waar sy skape vir die koue winter onder dak staan.Armstrong het ’n fantastiese persoonlikheid gehad, “met ’n sterk aura”, onthou Ingólfur, maar hy was maar ’n ellendige hengelaar. Bill Anders het heelwat forel gevang, maar Ingólfur kan nog soos gister onthou hoe die enkele vis wat Armstrong aan die lyn gekry het met een sprong die hoek uit sy bek geskud het. Twee jaar later was Ingólfur “die trotsste man in Ysland” toe hy die aand na die radiouitsending van die maanlanding geluister het. “Dit was ’n baie spesiale gebeurtenis in my lewe omdat ek die voorreg gehad het om die eerste man op die maan persoonlik te leer ken.”
Dis nie lank ná ons besoek aan Ingólfur se skaapplaas nie dat ons wegvlug van die skares by Hverarönd se stomende modderpoele. Uiteindelik binne in die krater by Hrossaborg (dit vertaal na “burg vir perde” omdat wilde perde soms daar teen die yskoue noordewind kom skuil), stuur Werner sy hommeltuig die lug in sodat ons op die monitor kan sien hoe die wêreld van bo lyk. Maar die wind gryp die tuigie en dié gaan land homself toe veiligheidsonthalwe hoog op die rand van die krater. Ons moet so ’n halfuur klim om daar uit te kom, met Örlygur wat die pas aangee. Die tog is die klim werd. Van daar sien ons met ons eie oë die ys-uitspansel wat in die deinsing van die horison wegkwyn. Ons sak op ons enkels neer om die grootheid in te neem. Dis yslik koud en ek mis my ski-baadjie. Werner vis sy bottel tuisgebroude doepa uit sy kamerasak en gee dit gans te stadig aan. Na ’n laaaang sluk voel ek heeltemal warm in – en oor – Ysland.
Die brousel maak Örlygur se tong los. Hy was al ’n volwassene toe hy die eerste keer gehoor het die Apollo-ruimtevaarders het sy geboortedorp besoek. “Dis nie iets wat ons op skool geleer het nie.” Toe hy eendag in ʼn boekwinkel in Reykjavik vir ʼn vriend staan en wag, blaai hy deur ’n boek en sien toevallig ’n hoofstuk met ou foto’s van die ruimtevaarders se besoek aan die Askja-krater naby Húsavík. “Ek was nie net verstom nie, ek was baie trots.”
Dié stukkie kennis het Örlygur se lewe verander. Hy het die Ontdekkingsreisigersmuseum kort daarna begin en elke druppel inligting oor die Apollo-projek begin opslurp. Armstrong se seuns en kleinkinders het al sy museum besoek en kom weer vanjaar om ’n konsert by te woon waar plaaslike musikante die musiek gaan speel waarna hul pa en oupa geluister het terwyl hy op pad was maan toe. Armstrong was glo erg oor klassieke klaviermusiek, iets waaroor die ander twee Apollo 11-ruimtevaarders, Buzz Aldrin en Michael Collins, nie te opgewonde was nie, grinnik Örlygur.
Meer Mars as maanDeesdae word Örlygur as ʼn ruimtevaartkenner beskou. Hy reis oor die hele wêreld as spreker by ruimtevaartkongresse. Sy ironiese boodskap aan ruimte-entoesiaste is dat ofskoon Nasa sy ruimtevaarders na Ysland gebring het omdat hulle gedink het dis die plek op aarde wat die meeste soos die maan is, dui geologiese navorsing daarop dat Ysland se geologie nader aan dié van Mars is as aan die maan.
Daarom het Örlygur ’n boodskap vir die entrepreneur Elon Musk, wat voor in die ry staan om mense na Mars te stuur: Kom toets julle toerusting hier en kom maak jul ruimtevaarders hier gereed vir die tog!Die tog terug na waar ons die kar gelos het, is ver en vermoeiend, en die hitte van die witblits het lankal uitgewerk. As jy boonop ’n kamera se driepootstaander oor jou skouer dra, staar jy net na die klippe voor jou. ’n Kaartjie Mars toe is ver buite my begroting, maar wat de hel. Ek strompel dan nou hier in Neil Armstrong se voetspore. Ek sien die klippe wat hy moes optel en bestudeer om te bewys hy is die regte mens vir die maan.Daai aand neem ons die mooiste foto’s van die maan wat opkom oor Ysland se landskap. Ek vermoed die maan is dalk mooier van hier af as om op hom te loop. As Ysland so naby aan die maan was, volgens Nasa, en nog nader aan Mars, volgens Örlygur, dan is hierdie ʼn baie goeie plek vir ’n ontdekkingsreisiger.
Om in Ysland te kom

Ysland val in die Schengen-gebied. As jy op ‘n Suid-Afrikaanse paspoort reis, het jy ‘n visum nodig.
Die goedkoopste vlugte na Ysland van Suid-Afrika is gewoonlik via London, Berlyn, Amsterdam en Frankfurt, maar ‘n selfoongogga soos Skyscanner sal die beste weet.
Die internationale lughawe is in Kevlavik (internasionale kode: KEF). Dis so 45 minute se ry van Reykjavik.
Huur altyd ’n motor met sneeubande, tensy dit hoogsomer is.
Hou regs en ry stadig. Selfs as daar nie ys op die pad is nie veroorsaak die geotermiese kragte op die eiland eienaardige hobbels en verbuigings op die paaie.
Moenie tolpaaie vermy nie. Die 6km tol-tonnel onder die Hvalfjörður-fjord is een van die langstes in die wêreld en duik 165 meter onder seevlak. Dit spaar jou meer as ‘n uur se ry. Sedert September verlede jaar is die gebruik van die tonnel gratis, maar van die ander tonnels kos tot R50.
Die pad na Húsavík is deel van Ysland se gewilde Route 1, ook bekend as Ysland se Sirkelpad, (in die Yslandse taal Þjóðvegur 1 of Hringvegur). Dit is 1,332 kilometer lank. As jy die hele roete aanpak, sal jy ook die massiewe watervalle Seljalandsfoss and Skógafoss sien en die gletser-strandmeer by Jökulsárlón.
Geboue word verhit met geotermiese water wat onder druk uit die grond deur verhittingspanele vloei. Dit stink soms soos vrot eier, maar is skoon en mens raak gou daaraan gewoon. Dis glo meer suiwer as gebottelde water.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos [email protected] of skakel 0860 52 52 00.

X