Van Argentinië na Chili: busry is nie so bad nie

ODE AAN 'N VIS

Van Argentinië na Chili: busry is nie so bad nie

In die vierde aflewering van JACQUES PAUW se Suid-Amerikaanse avontuur verruil hy en sy reisgenoot, Anton Espost, die Inka-valleie van Noordwes-Argentinië vir die beroemde vismark van Puerto Montt in die suide van Chili. ’n Nagmerrie-busrit en ’n grillerige hotel later ontdek hulle eindelik dié seekos-en-wynhemel.

“HOE gaan ons in Mendoza kom?” wou ek van Anton weet. Daar was nie vlugte tussen Salta en Mendoza nie en ons sou via Buenos Aires of Córdoba (die naasgrootste stad) daarheen moes vlieg.Mendoza lê aan die voet van die Andes in die sentrale gedeelte van die land en is Argentinië se wynhoofstad.“Ons gaan die bus vat,” het Anton gesê.“Dis so ver soos Johannesburg van Kaapstad!”“So what? Baie mense ry met ’n bus tussen Johannesburg en Kaapstad.”“Ek het nog nooit met daai busse gery nie. Ek vlieg.”“Wel, nou gaan jy busry. Argentinian style.”“Dit vat 20 uur van Salta tot in Mendoza!”“Gaan jou tyd gee om lekker te ontspan.”Busry sonder boozeDis eers nadat ons die buskaartjies aanlyn gekoop het dat ons die fynskrif – in Engels – gelees het: “No alcohol is allowed on our busses.”“Dis soos om met Egypt Air om die wêreld te vlieg,” het ek gesê. “Kan jy jouself enigiets erger voorstel?”“Ek moet erken: Dis bietjie van ’n gatslag,” sê Anton. “Ons sal ’n plan moet maak.”Ons is met vyf plastieksakke op die bus. In sak een was vodka en glase. In sak twee was lemoensap. In sak drie was twee bottels malbec, in sak vier twee groot pakke ys en sak vyf was vol empanadas, koekies en tjips. Elkeen van ons het ook ’n slaappil gehad.Ek het vir ons sitplekke 36a en 36b agter in die bus bespreek om ons uit die publieke oog te kry. Die bus was effe lank in die tand, maar het darem gemakstoele gehad wat halfpad kon platslaan, soortgelyk aan dié wat jy in besigheidsklas op ’n bankrot lugdiens sou verwag.Die buswaardin was getooi in ’n vietse buspakkie, met hoëhakskoene en al! Haar enorme tas het op die leë sitplek langs ons gestaan en sy het ’n paar keer tydens die reis van uitrusting verander. Sy het sonder twyfel verbeeldingsvlugte van Emirates gekoester.Toe die son laatmiddag sy psigedeliese kleure teen die rotswande kaats en die wingerde van Lafayette verby ons gly, het ek en Anton glasies vodka-en-lemoensap geklink en ek het besluit: Busry is glad nie so sleg nie.

Teen sononder het die ys in die een sak begin smelt. Ons het dit nie raakgesien nie totdat stroompies water in die busgang afgevloei het. Die buswaardin, mop in die hand, het drooggemaak en kom ondersoek instel. Ek het na die lugreëlaar gewys wat agter ons gerammel het en beduie dat hy lek.
Toe bars die tweede sak ys. Ons het probeer om die yssakke in ander sakke te sit, maar almal was vol gate. Die spruitjie het ’n riviertjie geword. Ons moes sluk aan die vodka en lemoensap en teen daai tyd het almal op die bus geweet ons suip. Die buswaardin het na ons getuur asof ons besig was om ’n baba te slag.
Teen so elfuur die nag was die eerste bottel malbec ook op. Ons het ons slaappille met die laaste druppels gesluk en stomdronk omgeval.
Ek het nou en dan wakker geskud as die bus stop, halforent gekom en na Anton gekyk wat langs my op sy rug gelê en oopmond gesnork het. Dit was ’n ongure gesig. Ek het omgedraai en in ’n beswyming weggesink.
Ek en Anton het die volgende oggend wakker geword met die buswaardin, uitgedos in ’n nuwe uitrusting en vars soos ’n Jakarandablommetjie in Oktober, wat langs ons gestaan het met twee skinkborde met brekfis. Aan ons voete was die rommel van ’n fuifparty.
Wit skuim
“Weet jy wat, Espost,” het ek vir Anton gesê terwyl ons skoongemaak het, “ons is wit skuim.”
“Net so! Wat verwag jy? Die een van Parow, die ander van Pretoria!”
Teen elfuur die oggend het ons heelwat beter gevoel en teen middagete, toe ons Mendoza binnery, het die laaste bottel malbec ook in die stof gebyt. Die gastehuis waarin ons bespreek was, was smerig. Ons is met ’n luide protes daar uit, maar Mendoza se hotelle was vol en ons het ure gesukkel om ’n plek op Airbnb te kry.

Mendoza: Elegante stadMendoza – óók in die laaste maande ’n begraafplaas van Springbokrugby – is ’n elegante stad met breë boulevards wat met Jakarandas belyn is, plazas met ’n magdom stalletjies, fonteine en standbeelde, en ’n gul munisipale mark wat my na my asem laat snak het.Die blink mes van ’n bejaarde slagter het deur ’n heel serrano-ham gegly wat in ’n staal-en-hout-harnas vasgeklem was.  Tientalle ander hamme het soos vlermuise bokant sy kop gehang.Langsaan het ’n parrilla - 'n braaier - stukke lam, bees en vark oor ’n oop vuur geskroei en ’n entjie verder het ’n vishandelaar ’n blinkoogvissie in stukke opgekap. Dié het hy in ’n paellapan saam met olyfolie, garnale, calamari, mossels, uie, geel en rooi soetrissies en ’n skeut torrontés blanc gevlakbraai...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.