Die koel kat kom weer

VINTAGE

Die koel kat kom weer

Buiten skoene en onderklere is daar bitter min wat nuut is in ERLA RABE se kas. Dit was nog altyd so. Sy verkoop vintage-klere by BangBang Vintage-Market in Observatory, en reël The Retro Rendezvous in Stellenbosch. Die lekkerste van alles is wanneer ’n waarlik besonderse item ’n goeie huis kry, sê sy. Sy skryf oor die terugblik – nie die terughunkering nie – wat veroorsaak dat mense oud bo nuut verkies.


MY ma het 'n pragtige rok gehad, wit met pers blomme so groot soos ’n seven single daarop. Jackie Kennedy-styl. Ek het ’n prentjie in my kop van haar in dié rok met bloedrooi lipstiffie aan tussen die rose in ons agtertuin.
Ek skryf my liefde vir die kleure en patrone van 40, 50, 60 jaar gelede toe aan dié vrolike pers blomme. En moontlik die feit dat my niggies se ou klere gereeld by ons afgelaai is. My ma was dankbaar dat sy só die rande kon rek; ek was nie heeltemal so opgemaak daarmee nie: My niggies was lank, slank en iewers tussen 16 en agtien; ek was rond, plomp en op laerskool. Die wyepypbroeke en denimrompe in die pakkies was dus nie vir my beskore nie en tot vandag toe smag my hart daarna.
Of dit werklik die rede is vir my vintage-voorliefde, weet ek nie. Wat ek wel weet, is dat ek lank nie meer alleen is nie en dat ou klere en ou meubels nie meer kentekens van ’n subkultuur is nie.
DISCO-DEKADE ... Mooi, bekostigbaar en herwinbaar maak 'n tevrede klant.
Wat het verander?
Om mee te begin het ons e-pos en EFT's pleks van briewe en tjekboeke. Maar moenie 'n fout maak nie, vintage het bitter min met nostalgie te doen.
Elizabeth Guffey, professor in kuns- en ontwerpgeskiedenis in New York, is een van die mense wat die op-en-opgang van vintage juis voor die deur van die snelle tegnologiese vooruitgang van die afgelope paar dekades lê.
In Retro – The Culture of Revival vertel sy van die heropening van Tomorrowland by Disneyland nadat dit oor 'n tydperk van drie jaar gemoderniseer is. Sowat 60,000 mense het op 22 Mei 1998 opgewonde tougestaan om te sien wat die toekoms inhou. Dit het hulle nie lank geneem om te sien dat die toekoms baie bekend lyk nie. Soos een besoeker gesê het, dit het begin by Jules Verne en geëindig by Buck Rogers. Die toekoms was 50 jaar oud.
Die Disney-span, skryf Guffey, kon hulle nie ’n toekoms verbeel wat mense sou wou besoek nie. Die gevolg was ’n Tomorrowland wat terugkyk, ’n toekoms wat retro is.
Die TWA-hotel wat pas in New York geopen het, sou goed hier ingepas het. Die ou Trans World Airlines-terminus by John F. Kennedy-lughawe wat vir jare toegestaan het, is in ’n hotel omskep en open in Mei. Dit lyk soos 1962, kompleet met ’n gesonke sitarea waar Lady Penelope uit Redding Internasionaal sou tuis voel. Dis ’n ontwerpdroom so reg uit die middel-20ste eeu met tulpstoele met Knoll-kussings, TWA-sjampoebotteltjies en personeel in TWA-uniforms.
Soos Guffey sê die Brit Tracy Cassidy, ’n senior tekstiel- en modenavorser, dat so ’n terugblik op ’n tyd toe die toekoms blink, opwindend en vol hoop was, verduidelik waarom mense al meer die oue bo die nuwe verkies. Terselfdertyd word waardes wat in die 80's se “gulsig is goed-” gees afgeskryf is, weer afgestof. Verkwisting en dekadensie is uit, spaarsamigheid en kuisheid is in, veral onder millenniërs.
STEWEL MET 'n STORIE ... Dis nie almal wat kan sê dat hulle nuwe ou skoene al by Glastonbury was nie.
Ek is #ekselfieEens op ’n tyd was daar twee seisoene in die modewêreld: lente/somer en herfs/winter. My ma, circa die wit-rok-met-pers-blomme-era, het ons twee keer per jaar Kaapstad toe gevat om nét dit wat ons vir die komende winter/somer nodig het te koop.Sedertdien het nog seisoene bygekom en sit ons nou met omtrent ’n seisoen per maand. In die noordelike halfrond lyk die modekalender nou só: Januarie is lente, Februarie/Maart is herfs/winter prêt-à-porter, Mei is resort wear (voorheen cruise collection, want die winter kom en die rykes moet op die skip klim na warmer plekke). Julie is herfs/winter, September is lente/somer prêt-à-porter en November is pre-spring (vroeglente). Sommige ontwerpers werk nog mikroseisoene soos pre-fall (vroegherfs) ook in.In die Zara- en H&M-winkels van die wêreld verskyn daar dus elke jaar net soveel of selfs meer nuwe reekse in die winkels. Maar dit is moeilik om iets by ’n kettingwinkel te kry wat jou anders of individualisties sal laat lyk – of wat jou Insta-gewildheid ’n hupstoot sal gee. Waar mode eens op ’n tyd haute couture beteken het en dit maande kon neem om items – op bestelling – te maak, is klere nou verbruikersgoedere.
In die proses is eksklusiwiteit, glans, oorspronklikheid, weelde en leefstyl – waardes waarom die mode eens gedraai het – vervang met trends, massclusivity en “berekende spontaneïteit”, skryf Rachel Tiplady 13 jaar gelede op Bloomberg.com.
Om hulle te laat uitstaan, speel kettingwinkels soos H&M die volhoubaarheidspeletjie. Dis dieselfde H&M wat ’n jaar gelede in die nuus was omdat hulle in 2018 R4.3 miljard se onverkoopte, ongebruikte klere verbrand het; H&M wat in dieselfde jaar R1.3 miljard se verkope by hul 23 winkels in Suid-Afrika geniet het, amper dubbel Woolworths se totale omset vir die jaar.
In ruil vir ’n sak gebruikte klere wat herwin word, bied H&M jou afslag op jou volgende kopie. Hulle nuwe Take Care-projek wil klante leer om hul klere beter te versorg sodat dit langer hou. Dit behels ’n hersteldiens, skoonmaakprodukte en ’n app met raad. Daar is ook 'n Conscious Collection wat van herwinde materiaal gemaak word, maar ek het nie krag om daaroor te praat nie.
Wat ek veel interessanter vind, is dat H&M op 15 April vanjaar op Selpy, ’n aanlyn platform en app, begin het om tweedehandse klere te verkoop onder die vaandel van & Other Stories, ’n aanlyn winkel in die H&M-stal.
Patagonia, die Amerikaanse sportkettinggroep, bied ook 'n hersteldiens aan en laat jou toe om jou ou Patagonia-klere en -toerusting in te ruil. Dit word weer verkoop as Patagonia Worn Wear. Slagspreuk: Better Than New.
Is H&M en Patagonia dus onder die voorlopers in die stryd om die klerebedryf groener te maak? Of het hulle bloot gesien watter kant hulle brood gebotter is?
Beter as nuut
Om iemand anders se ou klere te dra was tot en met die 1960’s feitlik ondenkbaar, maar iewers tussen 1960 en 1970 het die wiel begin draai, aanvanklik aangevuur deur die mods en hippies. In 1967 skryf die New York Times: “In Engeland stroom jongmense na Portobello Road om stokou militêre baadjies en delikate handgemaakte Eduardiaanse rokke te koop en, kan jy dit glo, in die openbaar te dra.”
Hul Amerikaanse eweknieë in San Francisco se Haight-Ashbury-hippiebuurt het weer lang Victoriaanse rokke, kant en fluweel aangegryp. Tien jaar ná die New York Times so verontwaardig “kan jy dit glo” geskryf het, sê dieselfde koerant dat die slim vrou weet dat jy nie nuwe klere kan kry wat so netjies gesny en mooi met die hand versier is soos antieke (met ander woorde vintage) klere nie.
“Ons kopers se grootste motivering is dat hulle anders wil lyk. Elkeen het ’n eie persoonlikheid en weet wat dit is, en druk dit uit deur middel van hul kleredrag en styl,” sê Julia Naughton van Vintage, With Love, wat geld vir liefdadigheid insamel deur goeie gebruikte klere te verkoop. “Om klere ’n tweede of selfs ’n derde lewe te gee, is ’n lekker en sinvolle ding om te doen.”
Thelma Schmidt, ’n vintage-liefhebber, sê op The Retro Rendezvous se Facebook-blad: “Dis baie mooi en baie spesiaal. Die gehalte is gewoonlik baie beter en die klere sit netjieser. Vintage is anders en meer volhoubaar as nuwe, massavervaardigde klere.”
MA SE JEANS ... As jy kans sien vir die mom jean-trend, kan jy een maklik en goedkoop op Instagram aanskaf.
Een van die stalletjiehouers by dié Stellenbosse mark, Denise Alcock, eggo Thelma se woorde: “Wie hou nie van ’n bietjie geskiedenis nie? Ek wonder altyd oor die lewes en liefdes van die vorige eienaars. Om vintage te dra, is ’n wonderlike manier om iets wat iemand anders liefgehad het, te laat voortleef. Boonop hoef jy jou nie te bekommer dat iemand anders dieselfde uitrusting gaan hê nie.”
Vir die mods, hippies en inwoners van Haight-Ashbury was vintage-klere ’n manier om hulself uit te druk, om te wys jy is stroomop eerder as hoofstroom. Dit is vandag nog so, maar dit is ook ’n manier om te sorg dat jou klerekas meer volhoubaar is.
Die grootste aanlyn platform vir die verkoop van tweedehandse vroueklere, ThredUP, se 2019-verslag oor die stand van die bedryf (dit geld net vir Amerika, maar dis nogtans tekenend van verslae uit ander oorde) is bemoedigend vir die vintage/herverkoopbedryf: “Mense in alle marksegmente sê dat hulle winkels sal steun wat ook tweedehandse items bied. Dit is dus nie verbasend dat 96% van die senior maatskappyhoofde in dieselfde verslag sê dat hulle teen 2020 ’n voet in die deur van die sirkelekonomie wil hê nie. Anders as die verbruikersekonomie waarin alles ’n begin- en eindpunt het, is die doel van die sirkelekonomie om alles solank moontlik in omloop te hou, die maksimum waarde daaruit te put en items te herwin of omskep wanneer dit werklik kapoet is.”
ALMAL WEN ... By Vintage, With Love kan jy 'n ontwerpersrok koop met die wete dat jou geld aan liefdadigheid geskenk word.
En in Suid-Afrika?Daar is ongetwyfeld 'n toename in die aantal vintage-klere- en dekorwinkels, maar die meeste plaaslike verkope gebeur steeds by markte en op Facebook en Instagram. Die vintage- en versamelbedryf en sosiale media is vir mekaar gemaak: Jy plaas ’n foto, beskrywing en prys. Hoe beter jou foto’s, hoe vinniger groei jou aanhang. Dit kos jou niks behalwe posgeld nie en dié word altyd by die prys ingewerk.Vir kopers bied sosiale media ’n manier om “winkels” te volg wat die items waarvan hulle hou verkoop, en met ’n kliek te koop vir ’n kwart of minder van die prys van ’n nuwe item. (Die wonder van vintage-kopers is dat hulle op ’n afstand kan sien of iets hulle gaan pas; jy leer ken jou figuur en jou mates baie goed.)Vintage-verkopers in Suid-Afrika moet werklik moeite doen om goeie items op te spoor. In Europa veral is daar groothandelaars wat bale vintage-klere verkoop. Omdat dit onwettig is om sulke bale in te voer, is dit hier ’n geval van soek en snuffel.Vintage, hetsy klere of dekor of langspeelplate, is egter 'n beperkte bron. Daar is net soveel Victoriaanse teestelle in die wêreld, en daar is net soveel klere uit die 40’s, 50’s en 60’s wat behoue gebly het. “Vintage-inspired” items is dus nie ongewoon nie. Dit is klere met ’n vintage-styl en -snit, maar wat nuut is. Relings vol eenderse rokke of rompe of hemde in verskillende groottes is die grootste gevaarteken. Trenery het op die oomblik ’n geruite vintage-katoenhemp, Zara het “vintage-look” polshorlosies en Poetry het vintage-sonbrille.
Die probleem met faux vintage-items is die gehalte. Dit verstom my om te sien hoe goed selfs kettingwinkels se klere so onlangs soos die 90’s gemaak was. Ek het ’n Princess-denimromp van Woolworths wat na honderde wasse splinternuut lyk, en 'n Foschini-rok uit die 80’s lyk of ek dit gister gekoop het. Daarom is ek skepties oor H&M se tweede uitstappie in die vintage-mark: Ek weet nie of enigiets wat ná 2000 gemaak is oor vyf of selfs drie dekades nog bruikbaar gaan wees nie.
ThredUP het gevind dat 18- tot 37-jariges, dis nou millenniërs en Gen Z, vinniger oorslaan na tweedehands en vintage as ander ouderdomsgroepe, ’n verskynsel wat ook in Suid-Afrika te sien is.
Lynette Penny van BangBang Vintage-Market in Observatory sê haar klante was tot onlangs hoofsaaklik in hul 20’s, maar nou word dit toenemend tieners, insluitende seuns, en jongmans.
“Mans bo 30 is ook nie meer bang om vintage te koop nie. Almal is baie bewus van die volhoubaarheidsaspek van wat hulle koop en herwin en herbruik is ’n groot faktor. Tieners is baie bewus van die massas nuwe klere wat elke jaar op stortingsterreine beland, en boonop is jy baie koel as jy kan sê jou broek of top is vintage!”
Die grootste aha-oomblik wat ek gehad het, is dat vintage en retro relatief is, en aanskuif namate kopers jonger word. My afsnypunt is die 70’s, maar as jy in 2000 gebore is, is die 80’s ver in die verlede, daarom die huidige vraag na Magnum-hemde, bum bags en mom jeans met hoë middeltjies à la die oorspronklike Beverly Hills 90210.
Met ander woorde, die koel kat kom altyd weer.
Woordelys
Vintage Ek het vintage losweg gebruik omdat ek nie te veel wou rondspring tussen begrippe nie, maar in die tweedehandsbedryf verwys vintage na oorspronklike items wat voor 1980 en na 1950 gemaak is.
Retro Retro-items is te jonk is om vintage te wees, maar te oud om byderwets te wees. In die bedryf verwys dit gewoonlik na items wat tussen 1980 en 2000 gemaak is. Dink bont toeritsbaadjies, LP’s en bokskameras.
Herverkope/luukse items Dit is ontwerperklere en -bykomstighede wat die eienaars aanlyn verkoop deur platforms wat ’n persentasie van die verkoopprys vra om dit te lys. VestiaireCollective.com is een van die grootstes met ’n aanlyn gemeenskap van 3,5 miljoen. In Suid-Afrika is daar ook heelparty soos TheChangingRoom.co.za, 2ndTake.co.za en Luxity.co.za.
‘Thrifting’ Dit is om by liefdadigheidswinkels en vlooimarkte rond te snuffel na winskopies, en is die goedkoopste maar tydrowendste van al die opsies. En jy moet bereid wees om vlekke uit te was, knope aan te werk en some in te sit.
Hooffoto: 123RF/NITIKORN123RF

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.