Dalk moet ons die kalifaat ’n plek aan die tafel gun

STANDPUNT

Dalk moet ons die kalifaat ’n plek aan die tafel gun

Ná die jongste terreurslagtings in Sri Lanka staan die wêreld weer voor die vraag: Wat moet ons omtrent die Islamitiese Staat doen? Watter stappe moet ons doen wat sal werk? Miskien sal dit help, skryf HANS PIENAAR, as die Weste die antwoorde in sy eie geskiedenis gaan soek.


DIEP in die Franse platteland, ver op in die loop van die Loirerivier, staan die soort kasteel wat jy op koekblikke sien, met ridders en aanvallige meisies met Botticelli-kapsels. Die Polignac-kasteel is op een van die baie vulkaniese uitstulpsels in Oos-Frankryk gebou.
Pelgrims onderweg na Le Puy-en-Velay, een van die oorspronge van die Via Compostela-roete wat in Spanje eindig, sou hier aangaan om met God in ’n grot onderaan die heuwel te praat. Natuurlik was dit ’n priester bo in die kasteel, wie se antwoorde op vrae versterk is deur ’n ingewikkelde stel kanale in die hol rots.
In antieke tye is mense daar geoffer deur ’n Apolloniese kultus, vandaar die naam van die familie wat die gebied oorheers het: die Polignacs. Uiteindelik was hulle een van die mees aristokratiese families in Europa – prins Rainier van Monaco was ’n afstammeling.
Hulle het hul mag gebou met sulke soort goddelike, maar ook meer alledaagse terreur. Kyk in die landerye op van jou arbeid in diens van die hertog en jy kon die donjon nie mis nie, waar iemand op enige gegewe tydstip aangehou en gemartel sou wees.
Net toe ons gedink het Islamistiese terreur is ’n nekslag toegedien met die nederlaag van die Islamitiese Staat (IS) se magte op die slagveld, kom die ontsettende reeks aanvalle op kerke in Sri Lanka. Pleks dat Westerse lande se invalle in Afganistan, Irak en Sirië die wêreld beveilig het, is hy nou gevaarliker. En as Sri Lanka ’n teiken kan word, waarom nie Suid-Afrika nie?
Wat doen ons nou? In die soeke na antwoorde sal dit nuttig wees om daarop te let dat die oorsprong van die woord “terrorisme” in die Franse taal lê. “Terreur is die orde van die dag,” was die Nasionale Konvensie se berugte opdrag in September 1793. Die eerste “terroriste”, soos hulle pront genoem is, is deur die Komitee van Openbare Veiligheid in Parys aangewys.
Tussen 16,000 en 40,000 mense het onder die guillotine gesterf, ’n masjien wat bedoel was om teregstellings mensliker te maak en wat tot in 1977 gebruik is, toe ’n Tunisiese koppelaar sy laaste slagoffer was.
Franse Revolusie
Die Franse Revolusie het sekulêre regering en die idee van menseregte aan die wêreld gegee, maar die ander regerings wat deel van die koalisie teen IS was, is ook in bloed en rugmurg gebore. Die Britse konstitusionele monargie met die koningin as hoof van die Kerk van Engeland is op die onthoofding van Thomas More en Anne Boleyn gebou. Soos Walter Benjamin opgemerk het: “Daar is geen dokument van beskawing wat nie terselfdertyd ’n dokument van barbarisme is nie.”
Sedert die ontstaan van IS was daar ’n vloed van kommentaar wat die sielkunde, geskiedenis, verdrukkings en ongelykhede ontleed wat tot die beweging gelei het, maar net ’n handjievol waarnemers het begin kyk na een voor die hand liggende faktor: ’n Nuwe staat was aan die vorm. Nie op die manier wat ons vandag verkies nie, maar gegrond op dieselfde beginsels van mag waarop al die groot nasies van die wêreld gebou is.
Max Weber se definisie word nog wyd gebruik: “’n Staat bestaan waar ’n enkele gesag wettiglik geweld kan bemagtig.” Al die terme is op IS van toepassing; wat ons van hulle verafsku, is net ’n kwessie van graad: Hulle geweld tel onder die mees sadistiese terreurmetodes en die legitimasie daarvan is die wreedste onder die weergawes van die komplekse godsdiens wat Islam is.
Maar versteek in Weber se formule is die woordjie “kan”. Vir die duisende jong fanatici wat in baie gevalle gevra word om ’n lewe van relatiewe gemak vir een van voortdurende gevaar en onsekerheid te verruil, is dit die operatiewe woord. Met sy maksimum terreur, waardeur hy die maksimum blootstelling op ons geglobaliseerde media inwin, sein IS aan voornemende volgelinge dat hy die mag het om straffeloos en anderkant enige morele grens op te tree.
Eindelose morele debatte
Laasgenoemde onderskeid is belangrik. Ons moderne media word gerig deur morele agendas; op Facebook is die daaglikse morele debatte dikwels eindeloos. Gedragskodes geld oral in ons professionele lewe. Wette is kompleks en moeilik vir die leek om te verstaan. As jy in die moeilikheid kom, het jy regshulp nodig, soms met koste wat verlammend kan word. Sulke morele ywer is uitputtend en neerdrukkend.
Hierteenoor het die Islamitiese Staat een van die eenvoudigste etiese regimes, wat voor ’n eenvoudige god buig, wat eenvoudige wette volg, afgedwing deur veeleisende dog eenvoudige rituele. Nog ’n komplekse kwessie vir adolessente in ’n staat van Oedipale konflik met die vaderlike bedeling word ook maklik uitgesorteer: Vroue is daar om mans as huislike slawe en seksvoorwerpe te dien.
Dat enige vorm van mag sy eie unieke morele grense moet bepaal, is ’n beginsel wat goed deur die Europeërs verstaan is. Michel Foucault, in sy boek Discipline and Punish, het die verskriklike tegnologie in die kollig geplaas wat ontwikkel is om verraaiers teen konings te hanteer. As jy nie die boek wil lees nie, kyk na die fliek Braveheart, waarin Mel Gibson se derms uitgepluk en sy liggaam daarna gevierendeel word.
Die beste koning is die een wat die wreedste teenoor sy onderdane kan optree. Die aristokrate rondom hom, soos die Polignacs, was nie ver agter nie. Trouens, die skynheiligheid van die Weste teenoor IS slaan die asem weg as ’n mens na een van hulle gereelde bondgenote in oorloë kyk: die koninkryk van Saoedi-Arabië. Ook hierdie regering onthoof mense in openbare rituele, en behandel ook vroue as die vasale van mans.
IS se logika om die verste etiese limiet te oortree om sy mag te demonstreer, is nie soveel anders as dié van die Obama-administrasie nie, wat Islamitiese djihadiste tot “noncombatants” verklaar het ten einde hulle aan buitewetlike marteling te onderwerp in ’n fasiliteit in Guantanamobaai buite die VSA.
Soos ʼn videospeletjieWat staan ons dan te doen? Vir enigiemand met net ’n ons menslikheid bly IS se dade gruwelik en onaanvaarbaar. Maar die antwoord is ewe duidelik nie om meer leërs die Midde-Ooste in te stuur met die aasvoëlmaatskappye van die militêr-industriële kompleks in hul spore nie. IS se een sterkpunt is ’n media-infrastruktuur wat al lankal kunsmatige intelligensie in die vorm van bots gebruik. Elke optrede teen IS draai net die volume op vir sy eie boodskappe van terreur: Ons kan van tientalle mense op kamera ontslae raak, en om Westerse regerings in oorloë te dwing is so maklik as om ’n videospeletjie te begin.Militêre aksie het sy kalifaat vernietig en sy grondgebied teruggewin, maar niemand gaan die “hearts and minds”-deel wen nie. IS sal altyd genoeg rekrute hê om op enige plek op die aardbol verwoesting te saai. Om hulle in die grotte van die internet in te jaag, is die formule vir elektroniese metastase wat IS skaars kan wag om toe te pas.Wat van diep asem intrek, al die troepe en Mirages van die illusionêre internasionale polisiëring op rus te plaas en ’n diplomatieke sending te loods? Die sending sal ongewapen kom en dinge sê soos: Vat my na jou leier. Almal sal dan aan ’n tafel gaan sit en die eerste beginsels neerlê vir die vestiging van ’n moderne staat: voorlopige grense en ’n voorlopige plek in die Verenigde Nasies.In die laat 19de eeu het Frankryk steeds “terroriste” in diens geneem, maar toe het die Duitsers hulle “francs-tireurs” (Franse terroriste) genoem. Hulle was burgerlike vrywilligers wat in die Frans-Pruisiese oorloë geveg het – die voorlopers van die Franse Weerstand in die Tweede Wêreldoorlog. Die Duitsers het hulle so erg gevrees dat hulle ’n internasionale poging van stapel laat loop het om etiese kodes vir oorlog op te stel.Uit hierdie kodes en soortgelyke inisiatiewe het die Geneefse Konvensies ontstaan om oorlog mensliker te probeer maak. Ons moet ’n manier vind om IS by hierdie steeds evoluerende proses te betrek, maar so iets kan dalk net gebeur as ons hulle in iets kan verander wat sulke konvensies kan toepas: ’n nuwe staat.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.