’n Spyskaart vol zol in die Sandton-apteek

GOEIE DAGGA!

’n Spyskaart vol zol in die Sandton-apteek

Baie jare het verloop sedert die dae toe 'n mens skelm 'n bankie vol aaptwak in 'n agterstraat moes gaan koop as jy dagga wou rook. Deesdae skiet daggakafees met ellelange lyste produkte vir die fynproewer oral in Johannesburg op. JESSICA PITCHFORD het meer gaan uitvind oor hierdie florerende nuwe spesialiteitsbedryf.

  • 10 Mei 2019
  • Vrye Tyd
  • 5 min om te lees
  • artikel 12 van 32
  • Jessica Pitchford



IEWERS in die 20ste eeu was die moeilikste ding omtrent dagga die opspoor van 'n konstante voorraad om te rook. Shaun Krebs, 'n handelaar, dink terug aan die tyd toe hy aan Jo'burg se noordelike voorstede voorsien het. Dit was in die jare voor selfone, met 'n sakboodskapper (pager) wat dag en nag soos 'n oorwerkte seksspeelding in sy sak vibreer het.
“My meer uitgelese kliënte het skuilname gehad soos Goldie Hawn en Burt Reynolds. As hulle my gebuzz het, het ek vinnig die naaste tiekieboks gesoek sodat die oproep nie nagespoor kon word nie. Almal was paranoïes.”
In die ou dae van zol het die gebruike vir dagga beperk voorgekom. Deesdae is dit eindeloos, en wetgewing, wetenskap en beleid rondom die plant is so kompleks dat ou rokers sukkel om by te hou. Probeer bietjie sin maak van “genetiese variasies van suiwer plantlyne”, “toepaslike opbrengste vir kannabinoïede kultivars”, “kroongroei versus oop grond”, en of plante met lae vlakke van “THC” anders gereguleer moet word as “CBD’s"…
Hof vaag oor dagga
Die uitspraak van die Konstitusionele Hof oor die reg om dagga tuis te rook, is vaag oor die produk en sy verskaffers. Daggahandel is steeds verbode terwyl beleidmakers daaroor wik en weeg. Dit laat die vertolking van die hofuitspraak oor aan wetstoepassers, wat steeds al die pad van Volksrust tot by Ntabankulu konfiskeer, oeste doodspuit en arresteer.
By 'n cannabis-klub in Randburg, waar aaptwak op 'n spyskaart is, daag daar onlangs 'n kombi vol polisiemanne op vir 'n “inspeksie”, en loop later met breë glimlagte daar uit ná 'n “geselsie” met die bestuur.
In Sandton, 'n klipgooi van Afrika se duurste vierkante myl, is 420 Kafe in dieselfde straat as 'n bruilofsbeplanner, 'n tandarts en 'n spa. Daar is geen naambord buite nie, net 'n soliede hek met 'n klokkie wat lei na 'n karig gemeubileerde dubbelruim-vertrek.
“Daardie gaan ons kweekplek wees,” sê Stephen Moeti, die bedryfsbestuurder, en wys boontoe.
Stephen, wat in Lesotho gebore is, het voorheen 'n restaurant in Johannesburg bestuur. Daar is hy genader deur iemand na wie hy nou verwys as “Boss Cheese” (ook die naam van 'n daggavariant op die spyskaart, saam met Super Cheese, Royal Cheese en Big Buddha Cheese). Boss Cheese het hom gevra om 'n dagga-koffiewinkel vir hom te kom bestuur. Dis vernoem na Internasionale Daggadag, op 20 April, en is 'n diskrete en respektabele besigheid, sê Stephen.
“Daar is nie veel parkering nie, dus is dit nie 'n plek om in uit te hang nie. Ons hou die straat buite silwerskoon en die enigste geluid wat jy ooit sal hoor, is 'n hoesie hier en daar. My kliënte is beroepsmense – dokters, prokureurs en sakelui.”
Die papegaaislaai hier is nie goedkoop nie, maar die gehalte is glo topklas. Behalwe vir al die “cheeses”, wat binnenshuis groei, is daar 'n goedkoper buitelugvariëteit teen R100 per gram, asook Critical Jack, 'n hibried met sy wortels in Amsterdam, teen R300 per gram.
Vir nie-rokers is daar toffies, suiglekkers, geurige gebak en dampstokkies (vape pens), en vir die kombuis is daar daggabotter. Teen R400 'n dosis is Darkstar Dabs gekonsentreerde dagga-olie wat verhit en ingeadem word. Daar is ook mediese dagga-olie op die spyskaart - wat dit ook al mag beteken in hierdie ongereguleerde wêreld waar gebruikers hul verskaffers, soos Stephen, moet vertrou.
“Hier is ons, ons kruip nie weg nie en ons ken die wet. Dus, as die munisipale regulasies van krag word, sal ons begin sake doen as 'n opregte groeiwinkel. Dis waar die geld is – 'n plek vir al jou daggabehoeftes, van sade en groeitente vir saailinge tot medisynes en rome. Dis vir eers 'n apteek waar mense voorraad kry, maar as die wette eers verander het, is ons reg om weg te spring.”
Hy sê die winkel het sy lewe verander, asook dié van baie ander in hierdie ontluikende bedryf. Hul tweede tak (in Randburg), wat hy beskryf as 'n plek waar jy kan “ontspan, eet en rook”, het 'n klubatmosfeer met blou neonligte en pompende musiek. Dit bied ook baie vars lug en 'n uitsig op Jan Smutsrylaan.
Die bestuurder, Lucky, is versigtig om te gesels en verwys ons na Stephen, wat vertel dat 'n derde kafee ook gaan open, maar hy nie wil sê waar nie. Hy is ook huiwerig om te praat oor verskaffers, en weier om die bron van hul voorraad te noem. Hulle verkoop ontwerperkultivars wat nie kom van bekende groeigebiede soos Bergville en Lusikisiki nie.
Transkei toe in ’n SSS Datsun
Shaun Krebs onthou uitmergelende reise na Transkei in die 1980’s om dagga te gaan haal.
“Ons sou soontoe ry, twee of drie van ons in 'n SSS Datsun, en parkeer op 'n heuwel in die middel van nêrens. Ons sou ons motorligte flits en vroue sou verskyn oor die rant met sakke insangu op hul koppe.
“Hulle sou dit dan uitsprei op plastiek en ons sou dan die beste koppe kies om te toets. Jy kon 'n hele sak koop vir R150. Ons sou dit dan in kussingslope sit, in die Datsun met sy diep kattebak laai, die hoop groen goed met baadjies en ander klere toegooi en 'n paar Playboy-tydskrifte oor alles versprei om die cops se aandag af te lei as hulle ons sou stop.
“Terug in Johannesburg is alles in die bad gegooi, skoongemaak en verkoop in bankies by klubs teen R15 elk. Regte banksakkies – nie daardie miniatuurgoetertjies wat 'n tiende van die grootte is en jou vandag R500 uit die sak jaag nie.”
Navrae onthul 'n daggakwekery agter baie van Johannesburg se tuinmure, in motorhuise en tuinhokkies, opgestel met ligte en verhitting. Van die plante word in grond gekweek en ander hidroponies, in water, kleikorrels of gruis.
'n Verskaffer aan koffiewinkels, of wegneem- of aflewerondernemings, verkoop plantlyne soos Super Silver Haze teen R100 per gram, en dit word herverkoop teen drie keer meer as dit. Verskaffers kan tot 'n miljoen rand per jaar maak.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.