Dinosourusse: Nuut ontdekte fossiele(tjies) wys evolusieproses

WAAR VOËLS EN SOOGDIERE VANDAAN KOM

Dinosourusse: Nuut ontdekte fossiele(tjies) wys evolusieproses

Nie alle dinosourusse was reuse nie – in die 175 miljoen jaar van hulle bestaan was daar baie kleiner diere. Soos die nuut ontdekte geveerde, vlieënde dier wat net 200 g geweeg het. En ’n klein voorsaat van T. rex wat maar so groot soos dié se kop was, skryf ELSABÉ BRITS.


IN die Jurassic Park-flieks saai die Tyrannosaurus rex verwoesting. Kyk, dié monster traumatiseer die kinders vir die res van hulle lewe. Hy jaag die Jeep teen 96 km/h sodat jy die klompie se brekfis kan sien soos hulle skree.
Dit sorg vir lekker ’n fliek, maar die T. rex het nie in die Jura geleef, soos baie van die dinosourusse in die fliek nie, en die groot reptiel kon nie so vinnig hardloop nie. Sy bene was lig en hol. Dit is omdat dinosourusse en voëls aan mekaar verwant is.
Die kleinste dinosourusse was tussen 30 cm en 100 cm lank. Nie almal was so groot soos die souropode se titanosourusse nie – wat tussen 30 en 37 meter lank was en tot 70 ton kon weeg. Daar was natuurlik ook reuse in die see, die igtiosourusse, met ’n liggaam wat aan die vorm van ’n dolfyn herinner.
Geveerde boomklimmer
’n Nuut ontdekte fossiel van ’n vlieënde, geveerde dinosourus van 163 miljoen jaar gelede uit China is pas in die vakjoernaal Nature beskryf. Dit het net sowat 200 g geweeg en was ’n geveerde boomklimmer, byna soos ’n vlermuis, wat ook kon vlieg.
Tussen sy lang hande en vingers het hy ’n vlermuisagtige membraan wat met ’n lang, gepunte polsbeen gesteun word. Dit is hierdie tipe membaan wat ook gebruik is deur ander vlieënde gewerweldes en die pterosourus. (Wat nie ’n dinosourus is nie, maar ’n vlieënde reptiel. Onthou jy nog vir Knersus wat die hasie Oscar die hele tyd op TV wou kook? Hy was ook ’n soort pterosourus, ’n pterodaktiel.)
Kenners glo dié eienskappe was deel van die evolusieproses om uiteindelik voëls met geveerde, klappende vlerke te laat vlieg. Uiteindelik het die geveerde vlerke die oorhand gekry.
Dit was vroeg in die 1990’s wat kenners bevestig het dinosourusse en voëls is aan mekaar verwant. Dit kom nadat die eerste Archaeopteryx in 1861 in Duitsland ontdek is. (Gaan kyk na een in Londen se Natuurhistorise Museum; hulle noem dit hulle kosbaarste fossiel.) Sy delikate vere is pragtig in die fossiel bewaar en hy het ’n “wensbeentjie”. Dit is die oorgangsfossiel tussen ’n dinosourus en ’n voël.
Oudste voëlvoorsaatToe, in 2013, word die oudste voëlvoorsaat gevind wat aanleiding tot moderne voëls gegee het. Dit dateer uit tussen 160 en 150 miljoen jaar gelede. Hy was ’n halwe meter groot, met skerp tande, en sou deur die woude gesweef het, maar hy is nader aan voëls as aan enige geveerde dinousourus.Van die opvattings is dat al die dinosourusse groot was, hulle die enigste diere van hulle tyd was, en dat hulle net in die Jura, soos uitgebeeld in die flieks, geleef het. Dié reptiele het sowat 175 miljoen jaar lank daarin geslaag om te oorleef, van sowat 240 miljoen jaar gelede tot 65 miljoen jaar gelede, in drie periodes: die Trias, die Jura en die Kryt – saam die Mesosoïkum-era genoem.Daar was bome en plante, maar die blomplante het eers aan die einde van die Jura ontwikkel. Natuurlik was daar visse (en ander mariene lewe); hulle was van die vroegste gewelweldes, insekte, reptiele, krokodilagtiges, amfibiese diere en die eerste soogdiere, om ’n paar te noem.
Voorsaat van die T. rex
Dié week is nog ’n dinosourus (Suskityrannus hazelae) se ontdekking in Nieu-Mexiko in Nature bekend gemaak. Dit is ’n voorsaat van die T. rex, maar hy was in sy geheel net so groot soos sy uiteindelike nasaat se kop. Pleks van 9 ton het hy net tussen 20 kg en 40 kg geweeg.
Sowat 92 miljoen jaar gelede het hy oorleef in ’n wêreld wat aansienlik warmer was as vandag, en die seevlakke was hoër. Met sy eendbek en skerp tande was hy ook ’n vleiseter.
’n Klein dinosourus van sowat 200 miljoen jaar gelede uit die hedendaagse Suid-Afrika was PegomastaxF africanus. Hy was net so groot soos ’n huiskat. Met ’n bek soos dié van ’n papegaai, maar skerp tande daaragter, en met harde stekels soos ’n ystervark het hy egter plante geëet.Hy het die plante gesny, soos met ’n sker, en uitgepluk. Sy skedel was maar 7 cm lank. Hy was ’n wilde klein dier wat op twee bene gehardloop het, en twee kort voorpote gehad het.Een van die kleinste dinosourusse (Albinykus baatar) het net ’n kilogram geweeg, en is in die Gobi-woestyn gevind. Hy het waarskynlik 84 miljoen jaar gelede van insekte geleef. Dit is ’n voorbeeld van een van die stamme van dinosourusse wat al hoe kleiner geword het. Die een het gefossileer soos hy gesit het, met sy pote onder hom ingevou, net soos ’n voël.Seker een van die oulikste en die kleinste dinosourus wat jy in jou hand sou kon hou, omdat hy so groot soos ’n duif was, is Epidexipteryx hui. Hy het vere en ’n pragtige pluim gehad, maar kon glad nie vlieg nie. Tussen 150 miljoen en 160 miljoen jaar gelede het hy op twee pote rondgerits, maar het ook twee kloue gehad om insekte en akkedisse mee te vang.Lank voordat die dinosourusse – hulle naam beteken die “verskriklike akkedisse” – op die toneel verskyn het, was daar die vierpotige, soogdieragtige reptiele wat die landskap regeer het. Groot, stewige kolosse. Primitiewe diere wie se fossiele vandag wyd oor die Karoo gevind kan word.En toe, 251 miljoen jaar gelede, word 70% van gewerwelde lewe op land en 90% van dié in die oseaan uitgewis. Kort hierna het die dinosourusse uit reptiele ontwikkel en dominant geword. Maar ’n baie spesiale groep van die soogdieragtige reptiele het ook oorleef. Stadig maar seker het hulle by die veranderde omgewing aangepas en teen 200 miljoen jaar gelede het die eerste soogdiere begin transformeer.
Eerste soogdiere
Die sinodonte, ook soogdieragtige reptiele, het uiteindelik in die eerste soogdiere ontwikkel. Die eerste bekende fossiel van soogdiere met plasentas, teen 160 miljoen jaar gelede, was Juramaia sinensis – die oerouma van soogdiere.
Dié naam beteken ook “Jura-moeder van China”. Op ’n manier is sy ons almal se ouma. ’n Unieke kenmerk is dat sy ook kon klim, rats en klein soos ’n rot, en sy het snags insekte gevang. Die ontdekking het die fossiele in lyn gebring met die DNS gebring – ons en die oerbuideldiere het sowat 160 miljoen jaar gelede geskei.
Toe die dinousourusse 65 miljoen jaar gelede uitgesterf het, het soogdiere vinnig oorgeneem en vertak.
Ná al die miljoene jare dink kenners daar is 63,000 gewerwelde spesies op die aarde oor. Die Wêreldnatuurfonds kan net sowat 4,000 volg wat in 16,000 bevolkings voorkom. Sedert 1970 het dié bevolkings met 60% gedaal. ’n Miljoen spesies – wat alles insluit – word nou deur uitsterwing bedreig, het ’n internasionale paneel kenners dié week aangekondig.
Daar is net een opsigter, een dominante spesie, oor: die mens.

Bronne: Nature (2013); ZooKeys; Journal of Vertebrate Paleontology; Nature (2011); Nature (2008), PLOS One;  Nature (2019)

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.