As ons nie mekaar kan wees nie, is ons verlore

'N SAAK VAN GEBED

As ons nie mekaar kan wees nie, is ons verlore

Sal ons ooit op prinse en politici kan vertrou, vra ANASTASIA DE VRIES, wat op stemdag 'n ewigheid in die tou was. Maar sy het haar kruisies getrek omdat dié land aan ons behoort; óns moet haar heel maak.



STEMDAG. En ek bid nog steeds vir ’n teken van Bo. Weke lank al. Nasionaal, maklik genoeg. Provinsiaal? ’n Saak van gebed. Ek wou my land, my provinsie vir g’n opligter of vertrouensdief se leë beloftes loop verpand nie. Dan bly ek liewer weg. 
Die tou mense was al by die skoolhek uit toe ek en ’n vriendin ná etenstyd agter inval om gestem te kom. Van die mense knik vriendelik. Hier en daar gesels ’n paar met mekaar. Dis stil. Ek probeer nie dink aan die bruising van 27 April 1994, die eerste keer toe ons kon stem nie. Die onskuldige geloof in vryheid, gelykheid en al daai jazz. Soveel van wat ons kon wees, is al weggekalwe. Sal ons dan ooit op prinse en politici kan vertrou?
Dit voel of ons iets of iemand kom begrawe. Of ondergrawe, fluister my vriendin terug. Dit voel soos ’n ewigheid in die tou. Skuifel-skuifel. En toe is die stembriewe op. Trust them, incompetent fools, blaf ’n man. Kan nie regeer nie, kan nie ’n bladdie verkiesing reël nie. Nou moet die bladdie ink ook net nog opraak.       
Jêmblikke, leë blikke, drie by drie ...
Iewers teem ’n vrou oor “that bloody ink!”, en haar naels is net gister gedoen. Kla, kla, kla. Niks werk meer nie. Hul arme land. Gehoor van die swart klonkie met rooi hare wat êrens in die wêreld gebore is, vra iemand. ’n Man met dik rugbyboude steier skaterend uit die ry uit. Black? Red hair? Die arme Britte. Nee, fokkit Delores! Maar ek maak maar eerder rympies in my kop: Jêmblikke, leë blikke, drie by drie ...
Oorkant die pad sit ’n groepie DA- en ANC-vroue onder sambrele, gee oor en weer koppies drinkgoed vir mekaar aan, lag en gesels soos ou koptjommies. Hulle is, sê my vriendin, in die regte lewe is hulle. Ek kry koud, fluister ek; ek kan nou my hele lyf gee vir ’n koppie warme iets. Ek wil huis toe gaan. Ek het my smaak vir dié gestemmery verloor.
“Toe, Pappa,” sê die vrou agter ons. Moenie komkommer nie, troos sy in my rigting. Sy het ’n kosmandjie gepak, vir die wis en die onwis, sien. Met warmflesse tee en koffie en broodjies en koekies. Daar is sambrele in die kattebak ook, sê sy. “Kattebak” is skielik die magicste woord in die Afrikaanse taalskatkis. Dit klink soos “ons is saam in dié ding”, dink ek. Of “ons is mekaar”, loop my onthou terug na ’n gesprek met onse Antjie (Krog) so twee weke gelede.My kruisiesEk huil in my hanne, het ek tussendeur vir haar gesê, ek huil oor ons; oor 60 vroue in ’n studie oor ons; ek huil omdat ons so gou was om te bewys ons is nie almal só nie, nie soos hulle nie. Ek huil want ons is hulle, ons ís, hulle is ons. Ons ís, het sy gesê, ons is mekaar. En in die loopslag: “As ons in dié land nie mekaar kan wees nie ...”
Is ons verlore, voltooi ek haar sin in ’n tou op ’n stemdag wat ineens na verantwoordelikheid en verantwoording begin ruik het. As óns dan nie mekaar kan wees nie, is ons verlore, het ek herhaal. So ek sou stem, ja. Ek trek my kruisies vir elke vrou en man, van die Kaapse Vlakte tot bo teen onse landsgrense, wat ooit ’n kind in onse geweld verloor het. Sal verloor. Hulle kinders is onse kinders is hulle kinders.
Ek trek my kruisies vir vrygewige kattebak se Marie en Pieter wat in hul huis op onse dorpie aan die voet van ’n berg aan die soom van ’n see bid vir ’n toekoms vir hul kleinkinders in dié stukkende land van ons. Vir hulle wat vir ons by die hart kyk, nie die gesig nie. Hulle is ons, ons is hulle. Anders is ons verlore.
Ek trek my kruisies vir Ma Leen in haar sak- en sinkhuisie in Lwandle naby die Strand. Dit sal môre beter word, sê sy altyd. Môre. Wanneer sy uiteindelik die geboude huis kry wat sy al 25 jaar belowe word. Môre wanneer haar dogter in vrede saam met haar Zimbabwiese man in Lwandle kan woon. Môre wanneer hulle nie in die nag voor xenofobiese aanvalle hoef te vlug en hul kinders agterlaat nie. Môre wanneer ons mekaar in dié land kan wees.
Ek trek my kruisies vir hulle wat hulle wil bly. Vir ons wat mekaar wil wees. Moet wees. Dié land behoort aan ons; óns moet haar heel maak. Ons is saam in dié ding wat ons “ons vir jou Suid-Afrika” noem.
Hulle sal ons seker weer in ’n winkel of ’n ding op die dorp raakloop, sê Marie toe ons buite die skoolhek groet. Dit het begin stoffies. Die wêreld ruik na grond, geil en skoon. Hou die sambreel, sê sy toe ons ’n rygeleentheid weier. Dankie, het ek gesê, maar ek wil loop.
Eintlik wou ek vir oulaas loop en kyk na die verminkte plakkate van die partye aan die winkelmure en lamppale op ons pad. Die halwe Juju’s. Alan Winde se coiff(ure). Almal se antie Pêttie hang dwars aan ’n paal, Cyril staan op sy kop. Van die VF+ het net “Slaan” oorgebly.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.